Organisasies beklemtoon gehoorbeskerming

Anneke Schultz van die Oorinstituut toets ʼn student, Rhonwen Norman van Druten, se gehoor. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand en die Oorinstituut het Donderdag die Sol-Tech-kampus besoek om studente en ʼn paar hooggeplaastes in die Solidariteit Beweging se gehoor te toets.

Op dié wyse wou die twee organisasie terselfdertyd ook bewusmaking oor gehoorbeskerming in die werkplek skep.

Volgens Benette Welman, ʼn projekorganiseerder van Helpende Hand, was dit ʼn inisiatief van Helpende hand se tak vir persone met gehoorgestremdhede wat vroeër vanjaar gestig is. Die tak is gestig om die gawes van mense met gehoorgestremdhede te benut, kommunikasiestruikelblokke te oorkom en hulle ʼn stem te gee om meer in die samelewing betrek te word.

“Vir ons by Helpende Hand is voorkoming belangrik, veral as dit kom by gehoorgestremdhede. Daarom het die tak, in samewerking met die Oorinstituut, vir Sol-Tech-studente en -personeel die inligtingsdag aangebied. Dit is belangrik vir ons ambagstudente om van vroeg af reeds hul gehoor in hul werkplek te beskerm, sodat hulle nie later die gevolge van nalatigheid hoef te dra nie,” sê Welman.

Dr. Marinda Uys van die Oorinstituut en hoof van die Eduplex-opleidingsinstituut, sê volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar ongeveer 360 miljoen mense met ʼn vorm van gehoorverlies.

“Geraasgeïnduseerde gehoorverlies verwys na gehoorverlies wat as gevolg van eenmalige of herhaalde, langdurige blootstelling aan geraas ontstaan, en dit is een van die algemeenste oorsake van gehoorverlies by volwassenes,” sê sy.

Uys meen vervolgens dat dit belangrik is om mense van die impak van geraasblootstelling in die werkplek bewus te maak.

“Om gehoorverlies te hê klink soos om na ʼn radio te luister wat nie ingestem is nie. Selfs al word die volume verhoog, is die spreker steeds onverstaanbaar omdat die sein onduidelik is. Geraas veroorsaak onherstelbare skade aan jou gehoor, en dit moet ten alle tye vermy word.

“Buiten gehoorverlies het geraas ook ʼn invloed op werknemers se algehele funksionering by die werk. Geraas in die werkplek lei tot swak kommunikasie tussen personeel, wat ongelukke kan veroorsaak. Verder veroorsaak die gebrek aan behoorlike kommunikasie, asook die geraas self, frustrasie, hoëbloeddruk en spanning. Navorsing het bewys dat spanwerk en werkeffektiwiteit as gevolg van geraas verlaag,” sê Uys.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, en Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, het die voortou geneem en hul gehoor tydens die geleentheid laat toets, en hulle raai die publiek aan om ook hul gehoor op ʼn gereelde basis te laat toets.

  • Vir meer inligting oor gehoor skakel die Oorinstituut by 086 110 2030. Stuur ʼn e-pos na [email protected] om by die tak vir persone met gehoorgestremdhede aan te sluit.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Soos die een idioot by my werk wat destyds met die 2010 World Cup Soccer die Vuvezela reg by my oor geblaas het, en nou sit ek met erge Tinnitus.
Ongelukkig werk ek nie meer daar nie, en het ek te laat besef dat dit moontlik is waar ek die erge Tinnitus en gehoorprobleme kon gekry het.
Nou het ek reeds vir agt jaar erge Tinnitus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.