Organisasies gee helpende hand aan oud-weermaglede

Lede van die SA Weermagvereniging is v.l.n.r.: Ben Greyling, voorsitter van Eenheid Orion, Ed Ruziecki, ‘n erelid, Jan Malan, president, Johann du Preez, voorsitter, Hein Visser, ondervoorsitter, en Kleintjie Hatting, die seremoniële bestuurder. (Foto: Verskaf)

Baie Suid-Afrikaanse militêre veterane verkeer in nood en kan bygestaan word om aansoek te doen om onder meer gratis mediese dekking, behuising en begrafnisondersteuning, soos deur die wet voorsien.

Johann du Preez, voorsitter van die SA Weermagvereniging (SAWV), verduidelik die SAWV is ʼn militêreveterane-organisasie wat aan veterane die optimale geleentheid bied om êrens te kan behoort, aan verskeie projekte deel te neem en versorg te word. Dit verseker hulle ook van beslissende inspraak op die hoogste vlak.

“Ons glo dat militêre veterane erken moet word vir die bydrae wat hulle in die RSA se ontwikkeling gelewer het, manne en vroue wat opgeoffer het en ʼn prys betaal het. Dit is mense wat hul land onbaatsugtig gedien het en wat verdien om erken, onthou en versorg te word,” sê Du Preez.

Du Preez verduidelik die SAWV fokus op vier pilare – ondersteuning, erkenning, herdenking en nasiebou. Hy sê die SAWV is besig om ʼn nasionale ondersteuningsnetwerk te skep om sy lede op verskeie maniere by te staan en verskeie projekte, wat op hierdie gebiede fokus, uit te voer. Deel van sy nasionale struktuur is die eenhede wat in dorpe gestig word, waarby lede ingedeel word om dan hier aan die projekte deel te neem. Hierdie eenhede word bestuur deur ʼn leiergroep, wat bestaan uit ʼn voorsitter, kapelaan, adjudant, kommunikasiebeampte en ʼn sersant-majoor. Hierdie leiergroep gee dus aan lede die geleentheid om weer leiers in hul eie gemeenskappe te wees.

Die lidmaatskapfooi is R200 per jaar, en enige persoon wat nie in die weermag gedien het nie, maar wel aanklank by die SAWV se gemeenskapsprojekte vind, kan as ondersteunerslid aansluit. Hierdie lede deel in alle voordele wat die vereniging bied, behalwe dat hulle nie op die departement van militêre veterane se databasis geregistreer kan word nie.

“Verskeie welsynsprojekte word gedoen om ons lede te ondersteun. Ons doen ook ekonomiese projekte om ons lede te help om ʼn inkomste te verdien. Een van die welsynsprojekte gaan oor hulp aan ons lede vir voordele wat beskikbaar is, soos voorsien deur die Militêre Veteranewet (18 van 2011). Hierdie wet bepaal dat militêre veterane op sekere voordele geregtig is. Hierdie voordele is, onder meer, gratis toegang tot mediese sorg, behuising, begrafnisondersteuning, asook studiehulp vir die veteraan, die veteraan se gade en sy of haar kinders. Vir ʼn veteraan om vir hierdie voordele aansoek te doen, moet hy of sy eers op die departement van militêre veterane se databasis geregistreer wees. Die SAWV help sy kwalifiserende lede met hierdie registrasieproses, asook met die aansoek om voordele daarna,” sê hy.

Du Preez voeg by dat baie militêre veterane in nood verkeer, geen inkomste het nie en dus nie die R200-lidmaatskapfooi kan betaal sodat die SAWV hulle kan help om vir die voordele aansoek te kan doen nie.

“Ons is egter baie bevoorreg om ʼn baie goeie verhouding met Solidariteit Helpende Hand – wat onderneem het om die eerste jaar se lidmaatskapfooi van mense wat dit nie kan bekostig nie, te betaal – te hê. Dit plaas die SAWV in ʼn situasie om hierdie veterane te help met die voordele wat hulle broodnodig het, en dit maak Solidariteit Helpende Hand deel van ons oplossing om mense te help om versorg te word,” sê Du Preez.

Vir meer inligting oor die SAWV en om ʼn lid te word, besoek www.sawv.co.za of skakel 060 603 2930.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.