Oscar-benoemde dokkie, nóg bekroonde flieks op Silwerskermfees

‘n Skermgreep uit die rolprent “Writing with Fire”. (Foto: www.writingwithfire.in)

kykNET se tiende Silwerskermfees, wat tussen 23 en 26 Maart plaasvind, bied ’n wye verskeidenheid van opwindende rolprente.

Benewens premières van plaaslik vervaardigde vollengte prente en al die splinternuwe kortprente wat meeding om Silwerskermtoekennings, word ’n rits onlangse spogflieks wat nie deel is van die kompetisie nie en wat kritici wêreldwyd gaande gehad het, vertoon.

Onder dié flieks tel die Oscar-benoemde dokumentêr Writing with Fire en die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Phumi Morare se kortprent Lakutshon’ Illanga [When the Sun Sets] – die wenner in die 2021 Student Academy Awards-kortprentkategorie. Laasgenoemde rolprent het ook die 2022 Oscar-kortlys vir kortprente gehaal.

Fliekvlooie wat vanjaar se hibriede Silwerskermfees regstreeks in Kampsbaai of virtueel op die fees se webwerf gaan meemaak, kan ook uitsien na Kariba Ledigo se bekroonde kortprent What Did You Dream? en die veelbesproke prent oor geslagsgebaseerde geweld #WeAreDyingHere, met Siya en Rachel Kolisi as uitvoerende vervaardigers.

“Writing with Fire” (Foto: Verskaf)

Writing with Fire word in Theatre on the Bay op Vrydag 25 Maart om 11:00 vertoon en op Saterdag 26 Maart om 19:00 is dit deel van die fees se virtuele program. Dit beteken dat diegene wat vir die aanlyn fees op die webwerf geregistreer het, geleentheid kry om na die eerste Indiese vollengte dokumentêr wat vir ’n Oscar benoem is, te kyk – slegs drie dae voordat vanjaar se Oscar-beeldjies uitgedeel word en Writing with Fire dalk fliekgeskiedenis maak. Belangstellendes sal egter moet spring om plek te bespreek aangesien die getal aanlyn kykers vir hierdie spesiale aanbieding beperk word.

Dié inspirerende dokumentêr draai om Khabar Lahariya, die enigste koerant in Indië waar Dalit-vroue – vroue uit onderdrukte kaste – die besluite maak. Writing with Fire is reeds met 21 internasionale pryse bekroon. Dit het op die Sundance-rolprentfees, waar dit ’n wêreldpremière gehad het, die gehoorgunstelingprys asook die spesiale jurieprys verower. Sedertdien is prominente internasionale rolprentkritici in vervoering oor dié blik op die werk van vrouejoernaliste wat van oraloor met hul slimfone verslag lewer.

Met die uitsondering van Writing with Fire is al die bestaande flieks buite die kompetisie ook vanjaar in video-op-aanvraagformaat op die Silwerskermwebwerf beskikbaar. Sommige van hierdie prente wat in die Rotunda vertoon word, vorm egter ook deel van die hoofprogram wat geregistreerde kykers kan geniet. Prente wat in Theatre on the Bay vertoon word, is egter aanlyn net in video-op-aanvraagformaat beskikbaar.

Die Silwerskermfees se video-op-aanvraagflieks sal van Woensdag 23 Maart om 09:00 tot Saterdag 26 Maart om middernag aangebied word.

Die volgende drie rolprente is op die aanlyn program asook op die video-op-aanvraagdiens beskikbaar:

Lakuthson’ Ilanga [When the Sun Sets]

“Lakuthson’ Ilanga” (Foto: Verskaf)

Phumi Morare se kortprent vertel die verhaal van ’n jong swart verpleegster wat in 1985 tydens die apartheidsjare haar ergste vrese moet trotseer wanneer haar aktivisbroer in gevaar verkeer. Benewens die Student Academy-prys vir beste verhalende kortprent is Lakuthson’ Ilanga ook vereer met pryse op die American Blackfees, die NACCP Image-fees en die Washington DC- kortprentfees.

What Did You Dream?  

Die skrywer en regisseur Karabo Lediga se kortprent het die prys vir beste kortprent uit Afrika op die Durban- internasionale rolprentfees verower en nóg toekennings op internasionale feeste soos die Clermont-Ferrand- internasionale rolprentfees en die Palm Springs International ShortFest opgeraap. In What Did You Dream? ontmoet ons die 11-jarige Boipelo wat in 1990 die somervakansie by haar ouma in Atteridgeville deurbring. Boipelo gaan binnekort vir die eerste keer ’n veelrassige skool bywoon, maar kan nie verstaan hoekom sy skielik, anders as haar twee niggies, nie haar drome kan onthou nie. Die rol van Boipelo se ouma word vertolk deur die aktrise Connie Chiume.

#WeAreDyingHere

In #WeAreDyingHere beleef ons die trauma van drie vrouesoldate wat gedwing word om aan ʼn genadelose oorlog deel te neem – die oorlog teen vroue se liggame. Hierdie kortprent is gegrond op die hoog aangeskrewe teaterproduksie wat in Julie 2020 deur Time Out New York aangewys is as een van die beste produksies om tydens die grendeltyd aanlyn te stroom. Die skrywer van die teaterproduksie én rolprent, Siphokazi Jonas, die digteres en medeskrywer Hope Neshivhambe en die musikant Babalwa Makwete maak saam die sprong van verhoog na rolprent. #WeAreDyingHere se wêreldpremière was op die Pan African-rolprentfees in die VSA en dit het ook die Reel Sisters of the Diaspora-fees se Spirit-toekenning in 2021 gewen. 

Die volgende rolprente is slegs aanlyn deel van die Silwerskermfees se video-op-aanvraag-aanbod:

Krismis van Map Jacobs

“Sons of the Sea” (Foto: Verskaf)

Adam Small se bekende voorgeskrewe drama is vir die 2021 Woordfees TV-opwipkanaal deur Jaco Bouwer in samewerking met Jason Jacobs in ’n rolprentweergawe omskep. In die rolverdeling is puik akteurs soos Dann-Jacques Mouton, Elton Landrew, June van Merch en lse Klink te sien.

Sons of the Sea

Brendon Daniels, Roberto Kyle, Nicole Fortuin en Marlon Swarts is te sien in hierdie vollengte rolprent oor ’n begaafde dog teruggetrokke tiener uit ’n arm vissersgemeenskap wat op vlug slaan nadat sy broer hom aansê om twee sakke perlemoen te steel. Sons of the Sea is op die Durban- internasionale rolprentfees as die beste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent aangewys.

MOYA

MOYA is die Zip Zap-sirkus se prent oor ’n jong geselskap akrobate wat in Kaapstad leer hoe om te leef, lag en dans terwyl hulle kennis maak met die betowering van die sirkus. MOYA het drie pryse op die 2021 Internasionale Sirkustoekennings opgeraap.

Mutant

Dié dokumentêr gee ’n intieme blik op een van Suid-Afrika se mees uitgesproke en omstrede kunstenaars – die rapper Isaac Mutant. Dit verken sy wortels op die geweldgeteisterde Kaapse Vlakte en ook sy huidige omstandighede. Dit is die storie van ’n sensitiewe, komplekse en intuïtiewe karakter wat worstel met kwessies van ras, klas, liefde, familie en identiteit.

Die ongetemde stem

“Die ongetemde stem” (Foto: Verskaf)

Die ongetemde stem is ’n onverskrokke dokumentêr oor rassediskriminasie in die Afrikaanse musiekbedryf. Gideon Breytenbach en die alternatiewe musikant Riku Lätti het die regie behartig.

Die registrasiefooi vir die aanlyn kykNET Silwerskermfees is R190, wat geskenk sal word aan die Tribuo-fonds. Die video-op-aanvraagprente kos R35 per kaartjie. Die registrasie vir die virtuele fees kan by Silwerskermfees.co.za gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.