Oscar-benoeming ‘oorweldig’ span van seekat-dokkie

My Octopus Teacher.

Die vervaardigers van die dokumentêre rolprent My Octopus Teacher, wat amptelik benoem is vir ʼn Oscar-toekenning, sê hulle is “oorweldig” deur dié benoeming.

Pippa Ehrlich, regisseur van die rolprent, is saam met die vervaardigers James Reed en Craig Foster vir dié dokumentêr vir ʼn Oscar in dié kategorie benoem.

Die dokumentêr volg Foster, bekroonde rolprentvervaardiger en medestigter van die Sea Change Project, waar hy begin met ʼn daaglikse duikregime in ʼn kelpwoud in die yskoue Wes-Kaapse seewater om sy batterye te herlaai.

In dié tyd kom hy ʼn nuuskierige seekat teë en die rolprent dokumenteer die doen en late van dié dier oor ʼn volle jaar. Dit ondersoek die seekat se gewoontes en persoonlikheid as ʼn wese wat die meeste mense nog net op ʼn bord teëgekom het.

Ehrlich is ʼn plaaslike rolprentmaker en omgewingjoernalis wat spesialiseer op die gebied van mariene wetenskap en bewaring. Sy het al saam met van die wêreld se voorste mariene navorsers en onderwaterfotograwe gewerk en is ook ʼn lid van die Sea Change Project.

Sy het aan NDTV gesê sy “ervaar ʼn sin van diep dankbaarheid en ʼn sin van diep vrees” oor die Oscar-benoeming.

“Dit is baie oorweldigend om in hierdie posisie te wees, aangesien dit my eerste rolprent is. Dit is ʼn reusevoorreg. Soveel mense het hulle liefde in hierdie projek gestort en dit is waarby mense regoor die wêreld aanklank vind.”

My Octopus Teacher het reeds talle benoemings, en selfs ʼn paar pryse, op internasionale rolprentfeeste ingeoes.

Dit het agt benoemings vir die Jackson Wild-mediapryse, een van die belangrikste natuurrolprent-toekennings ter wêreld, gekry, wat meer is as enige ander rolprent vanjaar. Dit het ook die prys vir die beste rolprent by Earth X gewen en nog vier bewaringsrolprentpryse ontvang, waaronder twee gesogte Panda-pryse op die Wildscreen-rolprentfees.

Die fliek het ook op die British Academy of Film and Television Arts-toekennings (Baftas) se langlys vir benoemings verskyn.

Volgens Foster is hy nie gewoond aan die aandag wat saam met die Oscar-benoeming gepaard gaan nie.

“Ons sou nooit in ons wildste drome daaraan kon dink om in hierdie posisie te wees nie. Die silwer randjie is egter dat ons die geleentheid kry om vir die wêreld te wys hoe kragtig die natuur en die lewens van hierdie ongelooflike diere is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Racheltjie Debeer

BAIE GELUK!