Oscar-benoeming vir Durbanse student

Homeless. Foto: www.all4women.co.za

Homeless. Foto: www.all4women.co.za

ʼn Rolprentvervaardiger wat pas by die AFDA Filmskool in Durban afstudeer het, mag dalk binnekort langs bekendes soos Leonardo DiCaprio en Jennifer Lawrence sit by vanjaar se Oscar-toekennings.

Nathan Rice se fliek, Homeless, is geïnspireer deur die armoede van baie van Durban se inwoners. Die fliek vertel die storie van twee boeties wat hul plakkershut moet ontruim en hul soektog na werk, ʼn nuwe tuiste en hul ma wat al ʼn geruime tyd vermis word.

Hy het aan eNuus vertel hy hhet geweet dis ʼn storie wat vertel móét word ná hy oor die haweloosheid en armoede in KwaZulu-Natal gelees het. Hy het ʼn kortfliek gemaak waarin hy die armoede uitbeeld.

“Daar was baie struikelblokke, soos byvoorbeeld die begroting. Ons het selfs gesukkel om die regte plekke te kry om te verfilm. Soms het ons vinnig gestop, sonder om met enigiemand te praat daaroor, vinnig iets verfilm en dan weer gery,” het hy vertel.

Die fliek is intussen in die studente-afdeling van die Oscar-toekennings benoem ná dit deur AFDA ingeskryf is en Rice hoop om met die goue standbeeldjie terug te keer Suid-Afrika toe.

Die Oscar-toekennings vind op 28 Februarie plaas in Hollywood.

Die kortfliek kan gesien word by die Durban International Film Festival tussen 16 – 26 Junie vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.