Osieland se koor deur na ATKV finaal

Foto: osieland.co.za

Foto: osieland.co.za

Laerskool Pretoria-Oos se seniorkoor het reeds bewys dat dié ʼn koor is met wie rekening gehou moet word. Dié koor is die afgelope paar jaar al onder die tien top-kore in die ATKV se kompetisie vir skoolkore.

Op 6 Augustus tree hulle op in die eindronde van vanjaar se Applous, die ATKV se kompetisie vir laer- en hoërskoolkore, wat in Port Elizabeth aangebied word.

Die koor bestaan uit 48 leerlinge tussen tien en 13 en word afgerig deur Elana Neethling, iemand wat al ʼn lang pad saam die koor stap.

Mathilde du Preez, die koor-koördineerder, sê die leerlinge oefen net een keer per week omdat hulle aan soveel ander skoolaktiwiteite deelneem. “Ons skool is klein en die kinders wat hier is doen alles! Ons oefen op Woensdae ʼn uur en ʼn half”. Sy sê dat ʼn ekstra oefening wel ingewerk word as dit kompetisietyd is.

Dis ongelooflik om te dink dat soveel sukses behaal kan word met net ʼn uur en half se oefening. Koorsing verg dissipline en vir leerlinge van so ʼn jong ouderdom kan dit partykeer moeilik wees – veral as dit kom by die aanleer van musiek. Maar Mathilde sê dat Elana besonder goed met die leerlinge is en dat sy wondere met hulle verrig. “Sy het hierdie jaar moeilike musiek vir hulle aangeleer en sy het net ʼn manier om dit aan hulle oor te dra.”

Hulle het vanjaar in die “meer ervare”- kategorieë deelgeneem en was aangenaam verras toe hulle die eindronde gehaal het. “Ons het glad nie gedink so iets sal gebeur nie!” Maar dié prestasie het ook vir uitdagings gesorg omdat hulle dringend geld nodig gehad het om die eindronde te kan bywoon. Mathilde lag lekker: “Ons het omtrent geldinsamelings gehou”.

Besoek Laerskool Pretoria-Oos se Facebook-blad vir terugvoer oor die koor se prestasie tydens die eindronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.