Ou advertensiebord iemand anders se slaapsak

Die span wat die slaapsakke aanmekaar sit (Foto: Facebook via Street Sleeper)

Die span wat die slaapsakke aanmekaar sit (Foto: Facebook via Street Sleeper)

Die niewinsgewende organisasie Street Sleeper het onlangs ʼn slaapsak vir haweloses ontwerp wat teen ʼn minimale bedrag vervaardig word deur ou advertensieborde te herwin.

Dit bied nie net skuiling vir haweloses nie, maar sal uiteindelik ook werk skep en maatskaplike opheffing bewerkstellig.

Street Sleeper is ʼn Kaapstadse inisiatief wat die maatskaplike en omgewingsuitdagings van haweloses in die Kaapse gemeenskap aanpak.

Oliver Brain, stigter van die organisasie, skryf op die organisasie se webwerf hoewel slaapsakke die hoofdoel is, is dié projek nie net bedoel om hawelose mense snags warm te hou nie.

“Ek wou haweloses help, maar het besef dat dit ʼn volhoubare projek moet wees. Een van my vriende, Chawal Wadi, het toe met dié idee vorendag gekom. Die idee agter die inisiatief is om aan hulle ʼn warm slaapplek te gee, ʼn veilige bêreplek vir persoonlike items en om uiteindelik werk te skep vir die mense.”

Street Sleeper maak een van dié slaapsakke teen R150 en steun ten volle op skenkings van vrywilligers.

Die slaapsak wat Street Sleeper vervaardig (Foto: Facebook via Street Sleeper)

Die slaapsak wat Street Sleeper vervaardig (Foto: Facebook via Street Sleeper)

Die slaapsakke word ook slim ontwerp. “Die lengte van die slaapsak stel die persoon in staat om van sy of haar besittings aan die voetstuk te berg terwyl hulle slaap, terwyl die breedte ruimte laat vir verskeie lae soos komberse in die winter. Die slaapsak het ook ʼn kussing aan die bopunt vasgewerk. In die dag kan jy die sak in ʼn waterdigte rugsak opvou waarmee die mense kan rondloop.”

Die uiteindelike doel van Street Sleeper is egter om haweloses van die straat af te kry. “Die organisasie stel mense in staat om ander te help wat ook hulself wil help. Ons word gedryf deur vernuwende denke, deernis en samewerking. Ons het die reis begin met die idee om skuiling te skep en rommel te verminder, maar ons visie het intussen gegroei,” verduidelik Brain verder.

“Nou is ons doel om onmiddellike verligting aan haweloses te verskaf en vaardigheidsontwikkeling te bevorder deur die mense in diens te neem.”

Vrywilligers kan op twee maniere betrokke raak: Jy kan geld skenk vir meer slaapsakke om vervaardig te word, of vrywilligerswerk doen vir die organisasie deur hul Facebook-blad dop te hou vir geleenthede.

Besoek Street Sleeper se webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.