Ou dokumente oor die destydse Natalia nou toeganklik

(Foto verskaf)

Die beginjare van die destydse Republiek van Natalia, waar die Voortrekkerleier Piet Retief en sy groep hulle sou vestig, was tot dusver grootliks ʼn raaisel. Maar ʼn groep navorsers van regoor die wêreld het saamgespan om die sluier oor dié stuk geskiedenis te lig. Hulle het ʼn versameling rekords vir die publiek toeganklik gemaak deur dit te transkribeer.

ʼn Geslote skatkis word ontsluit

Die KwaZulu-Natal Provinsiale Argief bewaar talle unieke historiese rekords oor die vroeë Boere-republiek van Natalia. Natalia was die eerste onafhanklike Boererepubliek wat in 1839 ná die Slag van Bloedrivier gestig is. Saam met die stigting van die Republiek van Natalia het die Voortrekkers, of anders genoemde “Emigranten Boeren”, begin om rekords te hou en op te dateer. Hierdie dokumente is byeengebring en gekatalogiseer in die kantoor van die Landmeter-Generaal (SGO)-versameling, nommers Een en Twee, van die KwaZulu-Natalse Argief.

Die dokumente sluit korrespondensie en ander dokumentasie in, wat verband hou met die verkoop van plase in Natalia, titelaktes, koopaktes, die oordrag van vaste eiendom en die verkoop van grond en bou-erwe in Port Natal, Pietermaritzburg en Weenen. Die SGO-versameling is besonder waardevol en van groot belang vir historici en genealoë, omdat dit talle name en vanne bevat van die vroeë Voortrekkers in Natalia, wat hulle in die tydperk 1839-1845 in die Republiek gevestig het.

ʼn Formele navorsingspan, onder die vaandel van die Primêre Hulpbron-bewaringsinisiatief, het ses jaar gelede besluit om ʼn projek aan te pak om groep een en twee van die SGO-versameling te transkribeer en vry te stel aan die publiek. Reinhardt Hartzenberg, wat die projek vanuit Durban lei, verduidelikdat dat die doel van die projek hoofsaaklik was om die feitlike inligting oor hierdie tydperk in ʼn elektroniese weergawe vir die nageslag te bewaar.

“Die uiteindelike bedoeling was om die historiese dokumentasie wat gebruik is om eienaarskap van die grond in Natalia, soos deur die Voortrekkers opgeneem, oop te maak en digitaal aan navorsers beskikbaar te stel. ʼn Groot deel van hierdie rekords in die SGO-versameling is nog nooit volledig deur historici ondersoek nie, hoofsaaklik te wyte aan die onleesbare Hollandse handskrif, taalgebruik en brose toestand van die dokumente. Dus voorsien hierdie transkripsie-inisiatief ons van waardevolle kennis en insig wat gebruik kan word om ʼn beter begrip te kry van die huidige grondkwessie in die land,” sê Hartzenberg.

Die Natalia-transkripsie-inisiatief

Toe die projek in 2017 begin is, was die bedoeling om slegs die eerste deel van die Voortrekkerdokumente uit die argief van die kantoor van die Landmeter-Generaal, wat feitlik geheel en al in Nederlands geskryf is, te digitaliseer en te transkribeer. Emile Picard van Leiden in Nederland het SGO Deel Een heeltemal getranskribeer. Dit was ʼn baie groter taak as waarvoor beplan is. Op die ou end het dit ses jaar geneem om die werk te voltooi omdat die rekords waarmee die transkribeerders moes werk baie broos was.

Die Covid-pandemie het ʼn unieke situasie vir hierdie projek geskep. Baie genealoë en (amateur) historici was huisgebonde weens die inperkings. As gevolg van hierdie situasie, het die Primêre Hulpbron-bewaringsinisiatief gou uitgebrei tot dertien vrywilligers in vyf verskillende lande. Omdat die groep so groot geword het, kon die projek uitbrei en is die dokumente van die Kommissaris van Natal, Henry Cloete, as SGO Deel Twee ook by die projek gevoeg. Hierdie dokumente, wat van 1843 af strek, was makliker om te transkribeer omdat Cloete se handskrif relatief leesbaar is, en dit ook in Engels geskryf is.

“Omdat SGO Deel Een die situasie vanaf 1839 beskryf en SGO Deel Twee die situasie vanaf 1843, bied dit die moontlikheid om die inligting uit beide dele te vergelyk en veranderinge te identifiseer,” verduidelik Hartzenberg.

“Dit laat ook toe dat die akkuraatheid van die transkripsies terselfdertyd nagegaan kon word. Deur die twee SGO-dele te vergelyk, het die twee dele saam nuwe lig gewerp op ʼn lank vergete geskiedenis van die eerste Nederlandse Emigranteboere.”

Interessante bevindinge

Alhoewel die projek nog nie voltooi is nie, is dit reeds moontlik om ʼn prentjie te vorm van die inligting wat in hierdie dokumente vervat is. Hierdie amptelike dokumente, soos titelaktes and inspeksieverslae, bevat dus die persoonlike besonderhede van persone, vertel Hartzenberg.

“Die titelakte bevat byvoorbeeld die voornaam en van van die betrokke persoon, gevolg deur die patroniem. Dit beteken dat die naam van die vader ook hieruit bekend is. Verskeie familielede of familie-verbande kan dus binne die SGO-dokumente herken word. Die dokumente meld ook wanneer dit opgestel is en wanneer dit deur die Volksraad bekragtig is. Die name van die eienaars van naburige plase word ook dikwels genoem.”

Benewens die genealogiese inligting, is daar ook groot hoeveelhede geografiese- of topografiese inligting wat in die SGO-dokumente beskryf word. Die SGO-dokumente handel hoofsaaklik oor onderwerpe wat met plase en grond verband hou. Byvoorbeeld, benewens die persoonlike besonderhede van ʼn individu, word die naam van die plaas ook gelys, tesame met ʼn beskrywing van die afbakening.

“Die stukke grond wat uitgereik is, was van aansienlike oppervlakte. Die standaardgrootte plaas het ʼn oppervlakte van 3 000 morg gehad (1 morg is net minder as een hektaar), wat dikwels “vierkantig” spandeer is. Die amptelike afbakening is deur ʼn inspekteur uitgevoer. Hierdie inspekteur het te perd langs die buitegrens van die beoogde plot gery. Tydens die inspeksie is die amptelike hoekbakens bepaal, aangeteken en beskryf. Omdat dit nog onontginde grond was, fokus die beskrywing hoofsaaklik op herkenbare topografiese elemente. Dit kan klein heuwels, spesifieke bome of riviere wees,” sê Hartzenberg.

Op grond van beskrywings en soms hand getekende kaarte, is dit selfs moontlik om mense aan ʼn ligging te koppel. Vandag word baie van die name wat aan die plase gegee is, as plekname in KwaZulu-Natal gebruik.

Durban se oorspronlike strate

ʼn Besonder interessante deel wat in die dokumente ontdek is, was dié van die oorspronklike straatname van Port Natal (die huidige Durban). Hierdie oorspronklike straatplanne het moontlik in gebruik gekom toe George Christopher Cato deur die Volksraad aangestel is om die noordoostelike strand van die riviermonding, wat Port Natal se hawe in 1840 gevorm het, uit te lê. In Junie 1840 vind die eerste openbare verkoping van erwe plaas. Ongeveer 21 erwe met ʼn oppervlak van 100 by 770 (Rijnland) voet. ʼn Tweede veiling het in Oktober 1841 plaasgevind. Tydens hierdie veiling is 21 lotte ook te koop aangebied.

Benewens die paar topografiese kaarte wat aan argief-instellings bekend is, is dit moontlik om ʼn volledige kaart van Port Natal in 1840 te maak deur die inligting uit die getranskribeerde SGO-dele te gebruik. Daar word hard gewerk aan hierdie rekonstruksie.

“Ons was wel suksesvol om ʼn nuwe konsep-kaart saam te stel uit een van George Christopher Cato se half voltooide kaarte. Met dié nuwe inligting dink ons, ons het nou ʼn volledige kaart van Durban soos dit in 1840 gelyk het,” vertel Hartzenberg.

Een van die interessante straatnaamontdekkings, is dié vir Berea. In 1840 het die Emigranten Boeren daarna verwys as “Soetpatatheuwel”. Wat vandag Smithstraat heet, was destyds Strandstraat. Weststraat was Langemarkstraat, Gardinerstraat was Badenhorststraat en Fieldstraat was Grachtstraat. Grey- of Broadstraat was in 1840 Houtstraat.

ʼn Blik op die Voortrekkerlewe

Die dokumente van die SGO bied ʼn unieke insig in ʼn tydperk waarvan ons nie regtig ʼn duidelike prentjie het nie. Vandag is dit moeilik om te dink hoe die lewe van die Voortrekkers was. Volgens Hartzenberg kom ʼn mens dikwels in die versoeking om daardie fantasie te vul met die beelde wat ons van die Hollywood-westerns ken: ʼn Moeilike, harde lewe in ʼn onherbergsame landskap en altyd onder bedreiging van rowers en die inheemse bevolking.

“Alhoewel dit nie ongeregverdig is nie, toon die SGO-dokumente ook ʼn positiewe, vooruitskouende, goed georganiseerde en geadministreerde samelewing. ʼn Samelewing waar hiërargie, wette, gemeenskapsgees en oplossings vir konflikte bestaan het,” sê hy.

ʼn Brief van JB Rudolph aan veral J Boshof (landdros) illustreer dit goed. Met hierdie brief wil Rudolph die aandag vestig op die saak van die weduwee Biggar. Die Biggar-familie speel ʼn belangrike rol in die vroeë Natalse geskiedenis. Weduwee Biggar het haar man (Alexander) en haar twee seuns (George en Robert) in ʼn aantal skermutselings met die Zoeloes verloor. Die brief onthul dat weduwee Biggar finansiële probleme ondervind het en dat sy om redes wat onduidelik is, nie eienaarskap van haar man se plaas kry nie.

“In hierdie brief versoek Rudolph vir Boshof om die plaas aan die weduwee Biggar te skenk of om finansiële vergoeding hiervoor te gee. Dit is ʼn emosionele brief, maar dit toon ook ʼn herhalende kernwaarde van vroeë Voortrekkers en die Republiek van Natalia: wie ook al vir iemand persoonlik of vir die hele Republiek opofferings maak, sal daardie goedheid uiteindelik terug ontvang,” vertel Hartzenberg.

Afrikaans se ontwikkeling in Natal

Vlag van die eertydse Republiek van Natalia. (Foto verskaf)

Die dokumente van SGO Deel Een, is ook baie interessant vir taalkundiges wat belangstel in die ontwikkeling van die Afrikaanse taal. Die Kaapkolonie het goeie internasionale kontakte gehad, waaronder Nederland. Gevolglik was die Nederlands wat omstreeks 1840 in Nederland gepraat is, byna identies aan die Nederlands wat in Suid-Afrika gepraat is.

Ná die Groot Trek was die Boere redelik geïsoleer. As die Boere kontak gehad het, was dit hoofsaaklik met die inheemse bevolking soos Zoeloes, Griekwas, en Bhacas, die Portugese kolonie Mosambiek, noord van Natalia, of met die Britte met wie Natalia byna konstant in konflik was.

Gevolglik het die Boere taalkundig van Nederland losgeraak. Die taal het anders ontwikkel as in Nederland, wat tot Afrikaans gelei het. Hierdie verskil, maar ook die verdere ontwikkeling van Nederlands na Afrikaans, is duidelik sigbaar in die SGO-dokumente. Hartzenberg vertel dat die amptenare, wat die amptelike aktes sou opstel, byvoorbeeld steeds Nederlands gebruik, terwyl die briewe wat deur die inwoners geskryf is, toenemend Afrika-elemente bevat, soos die dubbele ontkenning Ek het dit nie gedoen nie.

Die finale fase van die projek

Op hierdie stadium is al die transkripsiewerk voltooi en die projek het die stadium bereik waar die transkripsies geproeflees moet word. Voordat die resultate aan navorsers en die publiek bekend gemaak kan word, is daar nog baie werk wat gedoen moet word, noem Hartzenberg.

“Hiervoor word steeds die hulp van die Nederlandssprekende gemeenskap gevra om ons by te staan.  Nederlandssprekendes kan die projek bystaan deur die dokumente te proeflees.”

Een van die doelwitte wat hierdie projek graag wil bereik, is om die plaaswerwe op ʼn moderne geografiese kaart te projekteer, tesame met bykomende inligting uit die SGO-dokumente. Sodoende kan belangstellendes presies sien waar die plaaswerf geleë was, wie daarin gewoon het en die verdere geskiedenis van bewoning van die plaas.

“Ongelukkig het ons nog nie iemand kon kry om ons te help met hierdie deel van die projek nie en wil graag ʼn beroep doen op die gemeenskap vir hulp met die kaartwerk,” versoek Hartzenberg.

Die Primêre Hulpbronbewaringsinisiatief wil graag in 2023 die volledige transkripsies van die Landmeters Algemene Kantoor (SGO) in e-boekformaat publiseer. Om dit te verwesenlik, word befondsing steeds gesoek om die finale resultate in boekvorm en digitaal te publiseer. Enige hulp van die publiek met die kaart-werk, sal baie waardeer word.

Kontak gerus vir Reinhardt Hartzenberg by [email protected] as jy kan help, of meer inligting oor die projek wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.