Oudmatrikulante skenk groentetonnel aan skool

(Foto verskaf)

Een van die tradisies by Hoërskool Eldoraigne in Centurion is dat die vorige matriekgroep elke jaar iets aan dié skool skenk; iets waarvolgens toekomstige generasies hulle sal kan onthou.

Die matrikulante van 2022 het in Januarie ʼn groentetonnel aan hulle alma mater gegee, wat behoeftige gesinne en families van die skool sal kan help.

Volgens Carla Kotzé, hoofdogter van 2022, is hulle opgewonde om “te dink dat die geskenk nog vir vele jare ’n positiewe verskil in die skoolgemeenskap sal maak.”

Sy verduidelik verder dat die Hoërskool Eldoraigne hulle geleer het wat dit beteken om dienende leiers te wees, en dat hulle matriekgroep hierdie beskou “as ons geskenk wat ’n simbool daarvan is”.

Die sooispitseremonie het plaasgevind op dieselfde dag wat die matriekuitslae bekendgemaak is. Dit was duidelik op hierdie dag waar die matrieks van 2022 met hul toekoms begin het, deur ook ‘n nuwe toekoms vir behoeftiges in hul gemeenskap in die vooruitsig te stel. Die dag wat senutergend vir talle oudleerders was, is so in ʼn dag van omgee en liefde omskep by dié hoërskool.

Solani van Onselen, onderwyser aan die skool en leierraadvoog van welwillendheid, beskryf die projek as ’n behoefte wat uit verskeie oorde gekom het. Die boodskap was duidelik; dat hierdie droom iets is wat die skool moes nastreef.

“Die droom het by juffrou Elaine Fick begin, waarna ons waarnemende skoolhoof, Dave du Plessis, dieselfde droom uitgelig het. Hy het daarna die leiding met die projek geneem en in verbinding met verskeie belanghebbendes getree om hierdie droom vir ons matriekgroep te bewaarheid.”

Sy bedank verder vir Lumbri Project vir die bydrae om nie net te help met die uitleg van die tonnels nie, maar ook opleidingsgeleenthede te bied, waarby huidige Eldo’s kan leer hoe om die groentetonnel in stand te hou en ook hoe om groente te plant.

“Tuinwerk is terapeuties,” verduidelik sy, “en ons glo dat dit ‘n positiewe uitwerking op leerders en die gemeenskap sal hê.”

Die matriekgroep van 2022 het ‘n groentetonnel aan Hoërskool Eldoraigne geskenk. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.