Oudrugbyster pak lang pad vir kinderhuise

Janco Lehman saam met Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder van die Suid- en Wes-Kaap. Foto: Verskaf

Nadat sy beste vriend oorlede is, het Janco Lehman (25), ʼn oudspeler vir die Border Bulldogs, geweet hy wil iets doen om sy vriend se lewe te gedenk en terselfdertyd terug te gee aan die gemeenskap.

Nou, byna drie jaar later, word dié droom bewaarheid. Vir byna ses weke gaan Lehman (25) stoksielalleen ’n allemintige 1 793 km op sy fiets aandurf om ’n boodskap van hoop te bring vir kinders in kinderhuise.

Hy voel so passievol oor dié lang beplande hartstog dat hy uit sy werk bedank het om dit aan te durf – ter herdenking van sy beste vriend wat onverwags uit sy lewe geruk is.

Lehman, tans die gimnasiumbestuurder aan Hoërskool Paarl Gim, het in Lambertsbaai in die Wes-Kaap grootgeword. Hy droom al die afgelope drie jaar om vanaf Alexanderbaai na Durban met ’n fiets te ry om geld vir kinderhuise in te samel.

Op 3 Oktober sal hy uiteindelik die lang pad van die Wes-Kaap tot KwaZulu-Natal op sy fiets aanpak. Sy hartstog sal in Alexanderbaai begin en as alles volgens plan verloop, behoort hy op 20 Desember sy eindbestemming in Durban te bereik.

Op hierdie roete gaan hy by verskeie kinderhuise op sy pad stop en die kinders bemoedig met die boodskap: “Die omstandighede waarin jy nou is, bepaal nie jou toekoms nie.”

Lehman vertel hy het wonderlike kinderjare gehad en was gelukkig genoeg om in omstandighede groot te word waar sy ouers aan sy behoeftes kon voldoen. Sy beste vriend, Armand, het in sy lewe gekom toe Lehman vyf jaar oud was. Armand was toe ses.

“Armand het swaar grootwordjare gehad. Hy was ’n laatlammetjie en dit was net hy en sy ma. Hy het sy pa eers later in sy lewe ontmoet. Hy het altyd by ons gebly omdat sy ma nie altyd vir hom kon sorg nie. Sy was wel ’n fantastiese ma en het alles gedoen wat sy kon,” vertel Lehman.

“Armand-hulle het net nie baie gehad nie. Hy was altyd iemand wat bo sy omstandighede uitgestyg het en ’n sukses sou maak met alles wat hy aandurf. Hy was ’n goeie rugbyspeler gewees, hy was ’n goeie mens en ’n groot kind van die Here. Hy het altyd geglimlag, ondanks sy omstandighede. Ek het altyd opgekyk na hom en doen dit nog steeds vandag. Hy is een van my grootste inspirasies.”

Janco Lehman het sy beste vriend, Armand, se naam op sy gewrig laat tatoeëer. Foto: Verskaf

Op 20 Augustus 2015 is Armand op die ouderdom van 23 in ’n motorfietsongeluk dood. Sedertdien het sy beste vriend begin planne beraam om sy lewe met dié reistog te gedenk. Lehman het gevoel dat hy uit dankbaarheid wil teruggee aan die gemeenskap. Nou doen hy dit deur sy #GeeHoop-fietstoer van 1 793 km.

“Ek is glad nie ’n fietsryer nie. Ek het twee jaar lank professioneel rugby vir die Border Bulldogs gespeel. Ek kan wel spinning doen, so ek sien kans vir die lang tog. Ek het baie slaapplek wat mense my al op die roete aangebied het. Ek beplan ook, as dit uitwerk, om by van die kinderhuise te oornag. Ek gaan die hele fietstoer weg van die huis af wees,” sê hy.

Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder van die Suid- en Wes-Kaap, het van Lehman se planne te hore gekom en was so deur sy verhaal geïnspireer dat sy hom gaan ontmoet het.

“Ek het dadelik gevoel dat Helpende Hand in die Wes-Kaap met hom wil hande vat. Janco gaan met sy fietstoer op plekke kom waar ons nie noodwendig uitkom nie. Hy gaan hoop bring en dit is waarvoor Helpende Hand staan,” sê De Lange. “Spesifiek by ons kinders wat ook swaar kry en soms as gevolg daarvan stemloos is. Daarom gee ons hom ons volle steun en wens hom voorspoed toe vir die reis. Ons sal hom ook bystaan deur saam met hom geld vir die kinderhuise te help insamel.”

Enigiemand wat Janco finansieel wil ondersteun of navraag doen oor sy roete, kan ʼn e-pos aan De Lange stuur na [email protected]. Volg ook Lehman se vordering op sy Facebook-blad, GEE HOOP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

ek bid vir jou en hoop jou fietstog sal nie vol “slaggate” wees nie, wees paraat, pasop vir die “wolwe”

My mening ·

Baie sterkte! Ons bid dat jy veilig sal wees en jou doel bereik.

Amber ·

Sterkte Janco met die lang tog.
Maroela, ‘tatoeëer’ het net een ‘t’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.