Ouers blind, kinders doof: ‘God het ons vandag ʼn groot geskenk gegee’

Corban en Samantha (Foto: Corbanandsamantha.co.za)

Corban en Samantha (Foto: Corbanandsamantha.co.za)

Haar hande en voete ken elke hoek en draai van die huis, van waar die kombuiskaste met die koffiebekers is en hoeveel treë sy in die gang moet gee om na haar kamer af te draai.

Ná jare van blindheid leer jy oor die weg kom, want daar is nie aldag iemand wat ʼn handjie kan bysit met die gesin se aandete of ʼn laken wat van die hoek van die matras afglip nie. Jy leer oorlééf.

Tanya en Johan Venter, ʼn egpaar van Pretoria, is albei blind. Johan, verbonde aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, is blind gebore en Tanya, ʼn onderwyser by die Prinshofskool vir Gesiggestremdes in Pretoria, het op ʼn jong ouderdom blind geraak weens die genetiese siektetoestand retinitis pigmentosa. Hul kinders, Corban (11) en Samantha (9), is albei doof. Die jongste, Micyla (2), kan sien én hoor.

“Dis soos enige ander oefening,” vertel Tanya. “Jy raak gewoond daaraan. Dit raak deel van elke dag se verwysingsraamwerk; jy kan nie daarteen baklei nie, dus maak jy die beste daarvan. Ek en my man en al ons kinders het ʼn baie positiewe ingesteldheid, want dis die enigste manier wat jy deur die lewe kan gaan. Om te mor en vrae te vra, maak jou morbied, dus maak jy die lewe so maklik as moontlik.”

Die lewe is al baie eenvoudiger as aan die begin. Die kerk is net ʼn paar treë van die huis se tuinhekkie af en die kinders se skool is ʼn klipgooi ver. En sy maak tee en koffie in ʼn japtrap, grap sy: “jy doen enigiets om nie gefrustreerd te raak of te baklei nie, daarvoor is ons te veel geseënd.”

Vir sommige dinge móét jy egter baklei, sê sy. Dit was ʼn stryd van minstens twee jaar om net meer as R900 000 in te samel sodat Corban en Samantha albei kogleêre inplantings kon kry. Dié inplantings is op 6 Maart suksesvol gedoen.

Dit sal die eerste keer in albei haar kinders se jong lewens wees wat hulle kan hoor. Voorheen het die gesin met behulp van gebaretaal gekommunikeer. Die kinders praat in gebaretaal en Johan en Tanya voel hul hande om uit te maak wat hulle sê.

Nie ʼn enkele woord word gekommunikeer nie, maar dit is selde dat die regte boodskap nié voldoende verstaan word nie.

Johan en Tanya Venter ('n Skermskoot uit 'n video wat EWN vervaardig het)

Johan en Tanya Venter (‘n Skermskoot uit ‘n video wat EWN vervaardig het)

“Dis maar ons eie stelsel en dit werk vir ons. Vir langer as ʼn dekade was my hande vir my baie belangrik; dit was die enigste kommunikasiemiddel tussen my en my kinders. Nou het dit verander en ons gaan van voor af moet leer kommunikeer, maar ons is dankbaar. Dit sal die eerste keer in hul lewens wees wat hulle ʼn ketel kan hoor kook of ʼn deur hoor toeklap. Hopelik is dit nie ʼn deur wat hulle self toe klap nie. Hulle is wonderlike kinders,” sê sy.

Corban en Samantha, beide leerders van die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria-Wes, sal na verwagting Maandag uit die hospitaal ontslaan word.

Die klank-implemente van die kogleêre stelsel sal einde Maart aangeskakel word nadat die wonde genees het.

“Albei is reeds uit die teater. Sussie het al ʼn groot ontbyt agter die rug en sy karring aan haar boetie sodat hy heeltemal wakker word,” vertel sy.

“Ek kan nie wag om in dieselfde vertrek te wees om te luister na hul reaksie wanneer hulle die eerste keer hoor nie. Dis werklik ʼn seën vir ons en ons is dankbaar teenoor elkeen wat dit moontlik gemaak het. Die Here is goed vir ons. Hy het vandag vir ons ʼn groot geskenk gegee.”

Vir meer inligting, besoek die gesin se webwerf.

Die video is deur EWN vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Joel ·

Julle is ‘n voorbeeld vir baie van ons. God seen julle. Sterkte met die kindwers.

Bosbok ·

Wat n fantastiese gesindheid het hierdie gesin. Julle is n insperasie. Sterkte met die nuwe uitdaging

afrikaans ·

God is wonderlik, en almagtig seëninge op die familie se lewe

Nakkie ·

Sjoe, maak mens net weereens dankbaar vir elke klein dingetjie in jou eie lewe.

Chriszelda Steyn ·

Sjoe… hoe amazing…. ek kry skoon skaam om te dink hoe dankbaar ek eintlik kan wees vir my eie gesondheid en my kinders wat kan sien en hoor. :(

MissDemeanor ·

Ek stem saam jou. Ek sal ‘n punt maak daarvan om aan hulle te dink as ek myself jammer kry. Wat ‘n inspirasie

NELIA MEYER ·

Dankie Vader vir u uitreiking na hierdie kinders van u, dankie vir die seening wat U oor hulle gebring het en dankie dat hulle vir ons `n voorbeeld kan wees van hoe ons gesindheid behoort te wees. Sterkte julle julle is voorwaar `n amazing gesin. Laat ons weet hoe dit was om die eerste keer te kon hoor.

antjie ·

Ek het 6 jaar terug n kogleere inplanting gekry.Dit is absoluut amazing om te kan hoor. Sterkte aan julle gesin die aanpassings is groot maar dis alles die moeite werd.

Bernie ·

Ons lees hierdie verhaal en my hart is sommer seer maar kyk net wat het God vir hulle kom doen. Sterkte aan julle, ons loof vandag die Here saam met julle. WENS ek kon dit ook beleef.

THEA SWART ·

sjoe wat ‘n inspirasie vir baie van ons – ons kla so vining so maklik oor die geringste dingetjies en die gesin het my nuwe inspirasie gegee om dankbaar te wees vir dit wat ek wel het – dankie julle – julle is wonderlik en met Jesus liefde gaan julle nog ver kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.