Ouers, help só jou matrikulant deur die eindeksamen

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Die spanning wat ʼn matrikulant se eindeksamen vir ouers en die res van die huishouding meebring, word dikwels misgekyk.

Dit is nie vir almal ewe maklik of eenvoudig om te weet hoe om matrieks die beste te ondersteun deur die onvermydelike angstigheid tydens hul matriekeksamen nie. As jy boonop die uitwerking hiervan op ander gesinslede moet bestuur, kan dit soveel te meer uitdagend wees.

Die Suid-Afrikaanse Kollege vir Toegepaste Sielkunde (South African College of Applied Psychology [Sacap]) bied Saterdag ʼn gratis aanlyn webinaar vir ouers, wat ʼn belangrike emosionele ondersteuningsrol vervul, aan.

In hierdie webinaar sal kenners op ʼn holistiese benadering tot die hantering van die eindeksamen fokus. Hulle gee nie net raad vir ouers oor hoe om te oorleef nie, maar ook hoe om deur hul kind se matriekervaring te floreer.

Hier is ʼn paar wenke wat ouers kan help om hul kind deur die eindeksamen te ondersteun:

Wees bewus van jou eie emosies en gedrag

Hoe sal ʼn ouer weet of hulle meer druk op hul matrikulant plaas as wat hulle besef? Volgens die beradingsielkundige Jogini Packery kan ouers begin deur bewus te wees van hul eie emosies en gedrag wat uit sulke emosionele toestande voortspruit. Dit sal help om die ouer se ervarings van die tiener sʼn te skei.

Die volgende stap is bewustheid van hul tieners se buie en gedrag. Packery sê: “Veranderde buie, gedragspatrone of punte, sonder rede, is ʼn teken dat jy bekommerd moet wees. Die belangrikste manier om te weet of ouers hulself laat geld, is om openlik en doeltreffend met hul tieners te kommunikeer.”

Praat met mekaar

Kirsten Harrison, ʼn geregistreerde berader wat veral in hoër onderwys en trauma belangstel, wys daarop dat kommunikasie tussen jou en jou kind ʼn kernrol speel. Sy sê dit is die sleutel tussen ondersteuning en om leerders te bemagtig om hul studies en eksamens onafhanklik te bestuur.

“Jy moet seker maak dat jy nie jou kind daarvan weerhou om sy of haar eie studiebenadering en ritme te ontwikkel nie. Jou kind se benadering mag van joune verskil,” sê Harrison.

Volgens Harrison help dit om nuuskierig te wees oor jou kind se benadering, want dit help dat jy sy of haar proses beter verstaan​. Maar jy sal waarskynlik beter resultate kry deur vir jou kind te vra hoe jy hom of haar kan help om deur die eksamen te kom, as om vir die kind voor te skryf wat om te doen.

In wese gaan jou kind se matriekeksamen nie net oor die punte wat aan die einde behaal word nie; dit bied ook daagliks geleenthede vir daardie kind om persoonlike selfbeheersing te ontwikkel.

Vra jou kind wat hy of sy nodig het

As ouers kan ons vinnig inspring met praktiese raad op grond van ons ervarings uit die verlede, maar dit is moontlik ver van die hulp wat jou kind eintlik nodig het. Trouens, sulke raad kan per ongeluk dalk jou kind se angstigheid vererger.

Die bestuur van ons eie verwagtinge, hoop en vrese vir ons kind kan ʼn besondere uitdaging wees wat deur die stresvolle atmosfeer rondom matriekeksamens na vore gebring word.

Benadruk gesonde eet- en slaapgewoontes, asook oefening

ʼn Ouer se ondersteuning hou nie op by ʼn kind se leeraktiwiteite nie. Dit is ook belangrik om klem op liggaamlike en fisieke gesondheid te lê.

Die voedingsdeskundige, Robyn-Leigh Mentor, benadruk dat leerders nie helder kan dink as hulle nie gebalanseerd eet nie. Mentor sal tydens Saterdag se webinaar die beste voedingswenke met ouers deel en raad gee oor hoe om ʼn gesonde en heerlike eetplan binne ʼn begroting saam te stel.

Jou aanmoediging van gesonde eetgewoontes, voldoende slaap en fisieke aktiwiteit sal jou kind help om stres en druk beter te hanteer.

Die belangrikheid van selfversorging

Wat moet ouers en tieners weet oor die belangrikheid van selfversorging tydens moeilike tye?

Selfversorging is nie die afwesigheid van stresfaktore of uitdagings nie, maar die vaardighede en die vermoë om deur lewenshindernisse te werk sonder om jou welstand in te boet, sê Packery.

Volgens haar lyk selfsorg vir almal baie anders, en dit begin met ʼn bewustheid oor wat jou angstigheid veroorsaak, of dit in jou vermoë is om die situasie te hanteer en of jy jou reaksie op hierdie stresfaktore moet heroorweeg as dit nie binne jou bereik is nie.

Voorbeelde van selfversorging kan doeltreffende beplanning van onderbrekings in jou studieplan wees, sodat jy kan opstaan, strek en beweeg, eet, hidreer of rus.

Moedig ʼn positiewe ingesteldheid aan

Packery sê dit is belangrik om te verstaan ​​dat ʼn positiewe gesindheid teenoor matriekstudies en eksamens nie daaroor gaan om te maak asof alles rooskleurig gaan wees nie.

“Dit gaan daaroor dat leerders die nodige hanteringstrategieë moet hê wat hulle in staat stel om hul emosies op te los en te fokus op wat gedoen moet word,” sê sy.

Packery meen ouers kan noodsaaklike ondersteuning bied deur hul kind te help om voortdurend te herevalueer wat vir hulle werk en wat nie werk nie.

“Geestelike behendigheid en buigsaamheid is die kern van veerkragtigheid. As hulle iets doen wat nie gesond is nie, kan jy hulle aanmoedig om grense te stel en hulself te beloon wanneer kleiner doelwitte bereik is.

“As jy byvoorbeeld ʼn blaaskans neem en na ʼn gunstelingprogram kyk, help dit jou om te herlaai, maar as jy na ʼn hele reeks programme kyk, kan dit groter angs veroorsaak. Die beloning is belangrik, en die grens ook.”

Maak seker jy skakel Saterdag 21 Augustus in vir hierdie aanlyn webinaar wat die belangrikheid van studiebenaderings, hanteringstrategieë, voeding en oefening bespreek. Die webinaar bevat ʼn interaktiewe vraag-en-antwoordsessie, sodat jy met die kundiges in gesprek kan tree en kan leer uit die bekommernisse van ander ouers. Klik hier om vir die webinaar te registreer.

  • Die Suid-Afrikaanse Kollege vir Toegepaste Sielkunde (South African College of Applied Psychology [Sacap]) het Saterdag 14 Augustus ʼn gratis aanlyn webinaar vir matrikulante aangebied. As jy dalk hierdie webinaar misgeloop het en dit nog wil kyk, kan jy dié instelling se YouTube-kanaal dophou waar dit binnekort opgelaai sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.