Ouers hoor twee keer: ‘Jou seuntjie het breinskade’

Die Liebenberg-gesin. (Foto: Verskaf)

Deur Johanni Meiring

Dikwels kom ʼn mens gesinne wat met ʼn gestremdheid saamleef, teë. In hierdie situasies kan dit moeilik wees om regtig te weet wat om te doen of te sê.

“Empatie is die vermoë om ʼn ander persoon se emosies te herken en te deel.” – Edward Titchener.

Nico en Ronell Liebenberg van Pretoria is getroud as jong paartjie, met toekomsdrome van ʼn gesin en om ʼn lewe saam te bou. Hulle wou nog altyd ʼn groot gesin gehad het. Hul eerste dogter, Nicole, is in 1995 gebore. Hulle het ouerskap, en alles wat daarmee gepaardgaan, baie geniet, en hul gesin het spoedig begin groei.

Hul tweede kind, Dillon, is twee weke te vroeg in 1996 gebore. Met sy geboorte het hulle opgemerk dat sy geslagsdele onderontwikkel was. Die dokters het toetse gedoen, maar kon geen chromosoomafwykings kry nie, en sy Apgar-telling was ook normaal. Hulle is toe huis toe gestuur.

By die huis het Ronell opgemerk dat Dillon se nekbalansering nie goed is nie, en dat hy sukkel om te suig. Een dag, terwyl Ronell met borsvoeding besig was, het sy skielik opgemerk dat haar seuntjie se ogies nie pupille het nie. Sy was vreeslik geskok en het besef dat daar gróót fout is.

Dit was die begin van ʼn ouerskaplewe met baie onverwagte werklikhede.

Ná anderhalf jaar van toetse, ondersoeke en doktersterugvoer kon niemand ʼn spesifieke sindroom by Dillon diagnoseer nie. Daar is net tot die gevolgtrekking gekom dat iets in die baarmoeder moes gebeur het, wat veroorsaak het dat sy brein nie ten volle ontwikkel het nie. Hy is met onder meer blindheid, ernstige breinskade, minimale beweging en ʼn algehele gebrek aan spraakvermoë gediagnoseer.

Ná Dillon is Luke en Daniel-David met geen probleme gebore nie.

Toe gebeur dit weer …

Ronell het ná Daniel-David weer swanger geraak. Dit was ʼn normale swangerskap, maar toe Matthew in 2005 gebore is, kon sy onmiddellik sien daar is fout. Sy geslagsdele was ook onderontwikkel. Hulle is vir ʼn tweede keer deur al die pyn wat met die skok van diagnose gepaardgaan. Dieselfde breinskade wat Dillon gehad het, is by Matthew gevind.

Dillon en Matthew het nog altyd voltydse sorg nodig gehad. Hul gesin leef met voortdurende uitdagings wat baie keer moeilik is om te verduidelik.

Ondanks hul pyn en uitdagings leef Nico, Ronell en hul kinders lewens wat Jesus eer en waarin hulle die mense om hulle liefhet en dien – ware simbole van goud wat deur vuur gevorm is.

Luister hier na die podsending van ʼn onderhoud met Nico en Ronell Liebenberg.

Johanni Meiring (Foto: Verskaf)

Hoe maak jy ʼn verskil in so iemand se lewe?

  • Vra eerder hoe jy kan help as om iets aan te bied.
  • Wanneer jy mense met spesiale behoeftes oornooi na jou huis, bied vir hulle ʼn vertrek aan as persoonlike ruimte, indien hulle hulle soms aan die geselskap moet onttrek.
  • Vra uit oor spesialebehoeftegesinne se dieetvereistes wanneer jy hulle oornooi.
  • Vra ʼn rekeningnommer as jy ʼn skenking aan die gesin wil maak.
  • Word deel van ʼn gemeenskapsprojek, soos Parent Reality (ʼn ondersteuningsgroep vir ouers met spesialebehoeftekinders), wat hierdie ouers ondersteun.

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke deur Johanni Meiring in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Ere-ondersteunersnetwerk om bewusmaking te skep van ouers van kinders met spesiale behoeftes en om dié ouers te bemagtig en by te staan. Klik hier om ʼn ere-ondersteuner van Helpende Hand te word of om ʼn bydrae te maak om dié ouers deur die Spesialebehoefte-ouerfonds te help.

  • Johanni Meiring is ʼn lewensafrigter, spesialebehoefte-ouer en medestigter van Parent Reality.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.