Ouers oorstelp ná mediese fonds dekking toestaan

Tuschke Reynders en Gidion du Toit. (Foto: NB Photography)

Tuschke Reynders en Gidion du Toit. (Foto: NB Photography)

Gidion du Toit, die negejarige Fanconi-anemie-lyer van Pretoria, en sy gesin is oorstelp van vreugde nadat die mediese fonds waarvan die gesin al vir nege jaar ʼn lid is, R1 miljoen se dekking vir ʼn beenmurgoorplanting toegestaan het.

Maroela Media het vroeër berig Du Toit, ʼn leerder aan Bronberg Akademie in Olympus, is by geboorte met dié seldsame en genetiese siektetoestand, wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie, gediagnoseer.

Hy was ʼn vroeggebore baba en moes buiten dié diagnose twee dae ná sy geboorte ʼn operasie ondergaan om sy slukderm met sy maag te heg. Hy ly ook aan gehoorgestremdheid.

Weens die aard van sy toestand sou die enigste oplossing ʼn beenmurgoorplanting wees, maar dokters was destyds van mening dat daar geen kanse op oorlewing sou wees indien hy dié beenmurg ontvang van ʼn skenker met wie hy nie DNS deel nie.

Tuschka Reynders, Du Toit se ma, het aan Maroela Media gesê trane van blydskap rol al die hele dag oor haar wange sedert sy vroeg Vrydagoggend die goeie nuus ontvang het. Die dekking sal dokters die groen lig gee om ʼn geskikte kandidaat wêreldwyd te werf wat beenmurg aan Du Toit kan skenk.

“Ons is totaal oorbluf. Ek tjank al die hele dag my oë uit my kop uit en ek is só ontspanne vir die eerste keer in maande,” het Reynders gesê.

Gidion en sy ma, Tuschke. (Foto: NB Photography)

Gidion en sy ma, Tuschke. (Foto: NB Photography)

Volgens Reynders het sy Vrydag ʼn brief van Profmed ontvang waarin die fonds bevestig het dat hy R1 miljoen se dekking sal toestaan vir die werwing van ʼn gepaste kandidaat wie se DNS met Du Toit sʼn ooreenstem vir ʼn beenmurgoorplanting. Daar is geen geskikte kandidate in Suid-Afrika nie en daar moet dus ʼn skenker in die buiteland gekry word.

“Daar is tans net vier kandidate ter wêreld wie se DNS met Gidion sʼn ooreenstem. Ons glo en vertrou dat een van daardie vier persone die een gaan wees wat Gidion se lewe gaan red,” het sy gesê.

Die fonds, wat sedert Du Toit se geboorte die meerderheid van sy mediese onkoste gedek het, het vroeër vanjaar gesê die gesin moet van pakkette verskuif sodat hulle die dekking kan kry wat Du Toit nodig het. Reynders het vertel sy het ʼn openhartige brief aan die mediese fonds geskryf waarin sy aan hulle verduidelik het dat sy nie die duurder pakket, wat R15 000 per maand beloop, kan bekostig nie.

“Die fonds dek nog sy hele lewe lank alles en toe Gidion nog ʼn baba was, het ek ʼn bybetaling van R180 gehad op ʼn rekening wat meer as R1 miljoen beloop het. Dus was die fonds nog altyd goed vir ons.

“Nadat die fonds laat weet het ons moet oorskuif na die onbekostigbare premium pakket en dat hulle slegs R150 000 se dekking vir die noodsaaklike beenmurgoorplanting kan toestaan, het ek in ʼn brief vir hulle gesê dat ek vir die eerste keer in nege jaar verlate gevoel het deur die fonds.”

Sy vertel die kliniese adviseur wat haar geassisteer het, Wendy Schleifer, het die brief na die hoof van die mediese fonds gestuur. “Ek het vir ʼn paar weke niks van hulle gehoor nie en toe kom die brief van Wendy vanoggend deur. Ek kan dit nog steeds nie glo nie. Sy het vir my gesê my brief het haar so op die hart gedruk dat sy dit aan haar hoof gestuur het en hulle het besluit om R1 miljoen se dekking vir die beenmurgoorplanting toe te staan.”

Reynders, ʼn privaat praktiserende dieetkundige, het gesê daar lê nog ʼn lang pad vir hulle gesin voor. “Die werwing van die skenker kan maande vat, hulle het vir ons gesê ses tot agt weke. Dan moet die skenker se beenmurg geoes word en ʼn klomp ander ingewikkelde stappe moet eers gedoen word voordat die oorplanting kan plaasvind.”

Gidion. (Foto: NB Photography)

Gidion. (Foto: NB Photography)

Reynders het vertel sy en haar seun sal, sodra die beenmurg gereed is vir oorplanting, Kaap toe moet verhuis vir ongeveer vier maande waar hulle in isolasie sal woon terwyl Du Toit aansterk. “Ons beplan om einde Augustus, begin September die groot skuif te maak, afhangende van wat gebeur met die beenmurgwerwing. Dit gaan beteken dat ons tot die einde van die jaar in die Kaap is en hy sal dan ʼn gedeelte van gr. 3 misloop, wat hy waarskynlik volgende jaar sal moet oor doen.”

Die beenmurgoorplanting sal by die Universiteit van Kaapstad se Akademiese Hospitaal plaasvind aangesien die Rooikruis-hospitaal nie ʼn oorplantingsafdeling het nie.

Sy het vertel dit gaan onder omstandighede goed met Du Toit. “Hy kry nog elke tien dae ʼn bloedoortapping omdat sy plaatjies so vinnig verminder, maar andersins is hy ʼn doodgewone kind wat kla oor huiswerk. En solank hy wifi het vir sy aanlynrekenaarspeletjies, is hy gelukkig. Hy het nou die dag vir my gesê: ‘Mamma, die engele is dan om ons, waaroor worry jy?’”

Om betrokke te raak, kan jy op Gidion’s Blessed Life-Facebook-blad meer oor dié negejarige lees. Besoek ook die Fanconi anaemiaFacebook-blad, die Hope4Gidion-webwerf of die YouCaring-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

CTD ·

Groot waardering vir die mediese fonds wat so n groot bedrag toestaan. Baie strekte vir die gesin.

Ella ·

So bly vir julle twee. Psrty mediese fondse hét n hart vir hul lede. Dit sal wonderlik as my seun se fondse hulle ook kon bystaan maar in hulle geval se die fonds die seuntjie se prostese is “kosmeties”. Ek kan nie daarop uitbrei maar dit breek my hart dat hulle so voel oor n weerlose kind se probleem wat my nie self veroorsaak het.
Dankie vir Profmed.
Sterkte vir die toekoms.

Linda van Mosselbaai ·

Baie bly vir julle – my vriendin se kind het 2 beenmurgoorplantings gehad & gaan goed aan.
Dis ‘n harde pad maar die moeite werd.
Sterkte!

Alice ·

Ons is al 10jr lid van Profmed en dis n fantastiese fonds. Ander fondse kan gaan leer by hulle oor medemenslikheid

Marlene ·

WOW Profmed!
Julle is uitsonderlik … mag julle die vrugte pluk van hierdie groot en moeilike besluit om met menslikheid teenoor julle lede op te tree en nie net op winsbejag gefokus te wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.