Ouma hoop om binnekort haar kleinkinders se stemme te kan hoor  

Elsabé Potgieter. (Foto: Verskaf)

“Ek het my boeglam geskrik toe ek vir die eerste keer weer my eie stem hoor. Dit het soos ʼn Mickey Muis-piepstem geklink.”

So sê ʼn 54-jarige ouma van Louis Trichardt wat Maandag vir die eerste keer ná 35 jaar weer klank kon hoor nadat sy in Oktober ʼn kogleêre inplanting by die oorinstituut in Queenswood, Pretoria, ondergaan het.

Elsabé Potgieter sê sy hoop nou om eendag haar kleinkindertjies se stemme te kan hoor, of weer die getjirp van voëltjies. “Dit is nog ʼn warboel van geluide en ek kan nog nie regtig onderskei wat gesê word nie; my brein moet nou gewoond raak aan al die geluide. Selfs my asemhaling hoor ek nou,” sê sy.

Potgieter was in 1984, op 19-jarige ouderdom, in ʼn motorongeluk. Ná die ongeluk moes sy sterk antibiotika neem. “Ek was meer as ʼn maand lank op antibiotika en daardie jare was daar nog nie die besef dat antibiotika mense se gehoorsenuwees erg kan beskadig nie.”

Die haarselle in Potgieter se ore, wat klanke opvang, het platgeval en kon nie herstel word nie. “Ek het stelselmatig begin besef ek hoor nie mooi nie – ek het nie die telefoon hoor lui nie, as mense met my praat kon ek hulle nie hoor as ek nie direk vir hulle kyk nie.”

Sy verduidelik dat sy die eerste week nadat die operasie uitgevoer is baie van balans af gevoel het. “Hier was nou ʼn ding in my kop wat nie daar hoort nie.” Sy was ook baie bekommerd oor die feit dat van haar hare afgeskeer sou moes word vir die operasie, maar daar was egter net sowat 2 cm se hare teen haar oor langs verwyder.

Potgieter se apparaat is tans nog op 4% gestel, waarna dit op 6 en 17 Desember harder gestel gaan word. “Dis ʼn lang herstelproses wat tot ses maande kan neem om alles weer te kan hoor.”

Sy sê die dag toe die apparaat vir die eerste keer aangeskakel is, was vir haar ʼn baie emosionele ervaring. “Dit was baie uitputtend. Onthou, dowe mense kan by uitstek lippe lees, en nou kon ek effens hoor en het ek steeds lippe gelees.

Sy verduidelik nadat die apparaat aangeskakel is, het dr. Catherine van Dyk, die oudioloog, haar mond met ʼn papier toegehou en begin tel. “Die syfers was nie in volgorde nie en uit die vyf nommers kon ek slegs twee identifiseer.”

Terwyl die dokter opgewonde was oor dié vordering, was Potgieter baie onseker. Die dokter het haar egter gerusgestel dat dit normaal is.

Dit was reeds ʼn lang pad

Potgieter wil graag nou ander gehoorgestremdes help. (Foto: Verskaf)

Potgieter het eers onlangs in aanmerking gekom vir dié operasie omdat sy nog 20% gehoor in albei haar ore gehad het. Die kogleêre inplanting is vir voorlopig net vir haar linkeroor aangebring. Haar regteroor sal met ʼn gewone gehoorapparaat funksioneer.

ʼn Kogleêre oorplanting kos ongeveer R350 000, afhangend van die soort inplanting wat jy ontvang. Potgieter sê dat sy net ʼn hospitaalplan het, maar dat sy in Mei ʼn e-pos ontvang het dat haar mediese fonds sowat R225 000 beskikbaar sal maak vir die operasie.

Potgieter moes steeds R65 500 insamel om die onkoste te dek en deur middel van borge aan die instituut, wat volgens Potgieter anonieme skenkers was, is die bedrag tot sowat R25 000 afgebring. Potgieter het die geld by verskeie bronne geleen deur middel van ʼn borgvorm.

Sy beplan om elke sent terug te betaal en sê dat sy graag alle geld wat sy ekstra ontvang skenk vir die volgende persoon wat ʼn kogleêre inplanting nodig het. “Hierdie is ʼn gebeurtenis wat ʼn mens net een keer in jou leeftyd ervaar. My begeerte is om ander mense met gehoorgestremdheid ook die geleentheid te gee om te kan hoor.

“Ons lewe in ʼn baie lelike wêreld. As ek byvoorbeeld met mense praat en vir ʼn tweede keer sê ek kan nie hoor nie, word ek geïgnoreer of uitgelag. My kinders het van kleins af geweet mamma kan nie hoor nie –  kyk my in my ogies en praat,” vertel sy.

Sy vertel egter dat sy die hoogste agting vir die oorinstituut het. “Hulle het nooit vir my gelag as ek totaal verkeer hoor nie, net weer met geduld en kalmte verduidelik.”

  • Lesers wat meer inligting verlang kan gerus ʼn e-pos na Elsabé Potgieter by [email protected]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marlene ·

Jy is n inspirasie vir ander. Dit is so dat mense jou eerder sal ignoreer as in jou geselskap wil wees want hul weet nie altyd hoe om die situasie te hanteer nie en ander verkies om nie in n gehoorgestremde of ander gestremdes se geselskap te wees nie. Dis wonderlik dat die tegnologie ook daar is om mense te kan help. Sterkte met jou pad vorentoe en ek hoop ander mense kan ook gehelp word en geinspireer word hierdeur. Net so jammer dat dit so duur is en die medies nie alles dek nie. My opinie vir mediese fondse deesdae is iets wat ek liewer moet stilbly oor. Hul sal toestande dek wat mense oor hulself gebring het maar iets wat nie n menslike fout is nie, net eenvoudig nie ten volle betaal nie of weier. Ek wens daar kan iets daarom gedoen word. Mense sukkel klaar net om n medies te kan bekostig

Bekkie ·

Elsabè, bid vir jou baie sterkte toe! wat ‘n pragtige storie …….. ja, iets wat die moeite werd is om te hoor veral in hierdie tye. God seën!

VE ·

Ek het tans 30% verlies in beide my ore, dit is regtig onaangenaam as mense met jou praat en jy moet hulle vra om te herhaal. My mede kollegas spot met my deur te se ek hou my doof. Dankie vir jou mooi storie Elsabe, dankbaar vir die 70% gehoor wat ek het.

garrie kleinhans ·

ek het sopas..26 november..n inplanting gehad na 10 maande se volkome…skielike doofheid…..en ja…R350000 later…self betaal. My hospitaalplan by Medshield het hul rug op my gedraai en nie eers die hospitaal of die prosedure betaal nie…heeltemal niks…soveel so dat ek hul nou los en enigiemand afraai om hul te ondersteun. na 16 jaar se deelname het dit nou so uitgedraai….ek is werklik bly vir die dame se kans op gehoorherstel en wens haar voorspoed toe…my pad le nog voor vir aanskakeling 15 jan 2020 en die proses daarna…..traumatiese ervaring as jy soveel moet spandeer maar daar,s nie ander opsies nie….sterkte

Antjie ·

Ek het nou vir meer as 10 jaar my inplanting…en dit is absoluut wonderlik….geniet dit…want om te kan hoor is n voorreg nie n reg nie….ek het n lang pad gestap tot hier….en glo my dit is die moeite werd…aan die horendes wil ek net se….waardeer jou gehoor want as dit weg is….is dit weg…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.