Oumagrootjie op 91 na eerste matriekafskeid

Ouma Emil en Dylan du Plessis (Foto: Verskaf)

Die 18-jarige Dylan du Plessis van Hoërskool Warmbad het die dorp aan die gons gehad toe hy soos ʼn ware heer sy oumagrootjie gevra het om hom later die maand na sy skool se matriekafskeid te vergesel.

Die 91-jarige Emil du Plessis was heel uit die veld geslaan toe haar geliefde kleinseun by die Warmbad Rusoord, ’n tehuis vir bejaardes waar sy tans ’n inwoner is, op sy knie gegaan en haar gevra het om sy metgesel na sy skool se matriekafskeid te wees.

Dit gaan haar heel eerste matriekafskeid wees, aangesien sy nooit self die geleentheid gehad het om na haar eie matriekafskeid te gaan nie.

Volgens Dylan het ouma Emil, beter bekend as ouma Doep of ouma Mielie, aanvanklik nie eers verstaan wat aangaan toe hy haar sowat twee weke gelede met ’n bos blomme en dié eienaardige versoek verras het nie.

“Haar eerste reaksie was: ‘Hoe sê jy nou my kind?’ Sy het eers later besef wat werklik gebeur het en van oor tot oor begin glimlag. Daar was trane in haar oë,” vertel Dylan.

Dylan het op sy knie gegaan en vir ouma Emil gevra om sy metgesel te wees (Foto: Verskaf)

Wat dié gebaar nog meer spesiaal maak, is die feit dat dit ouma Emil se heel eerste matriekafskeid gaan wees. “Ouma Emil is alreeds in graad 10 uit die skool uit en het nooit die voorreg gehad om haar eie matriekafskeid te hê nie,” vertel Dylan.

Dylan en sy oumagrootjie het al van laerskooldae ’n hegte band gehad. “Sy het my help grootmaak en was altyd daar vir my gewees. Sy is soos ’n tweede ma vir my,” sê hy.

Volgens Dylan se ma, Elda du Plessis, is Dylan en sy oumagrootjie onafskeidbaar. “Dylan was nog altyd haar engelkind. Dylan se grootste droom was dat sy oumagrootjie nog hier is om te sien dat hy matriek klaarmaak,” vertel sy.

Elda beskryf ouma Emil as die vredemaker en steunpilaar van die familie. “Ouma hou die familie bymekaar. Sy het ’n hart van goud wat oneindige liefde uitstraal. Ons is baie geseënd met haar.”

Dylan en sy ma beplan om hulle geliefde oumagrootjie se eerste matriekafskeid so spesiaal as moontlik vir haar te maak. “Ons het iemand gekry om haar grimering vir haar te doen. Ons is nog op soek na ’n perfekte elegante uitrusting vir ouma,” sê sy.

Dylan beplan om ’n donkerblou aandpak en vellies na dié spesiale geleentheid aan te trek.

“Ek en my ouma gaan saam die aand om skoffel. Wat ’n voorreg!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

wonder ·

Wat n pragtige gebaar Dylan. Jou ouers moet baie trots wees op jou en mens kan Sien jy is n kind van die HERE. Hou ons nou op hoogte en sit foto op van die aand dat ons almal kan deel in jou goeie gebaar my kind. Hoop jy en Ouma grootjie geniet die aand tevolle.
Kort meer kinder soos jy!!!

Maria ·

AAAgg te oulik en dierbaar ! Asb stuur fotos vir die groot dag.

Suzette Geringer ·

Julle moet die matriekafskeid baie geniet. Ek stem saam met jou Maria – daar kan gerus ‘n paar fotos geplaas word.
So lekker om hierdie positiewe berig te lees.

Elsabé Hardy ·

Awwww….wat ‘n pragtige storie. Maak mens sommer ‘n reuse knop in die keel kry. Duidelik is daar ‘n baie spesiale band tussen twee mense. Maroela Media, asseblief, hou ons op hoogte van die afskeid. Ek dink ons almal sal bitter graag wil sien hoe die buitengewone, maar baie spesiale paartjie, lyk op die aand van die afskeid.

askoekie ·

Dylan.. al wat ek vir jou kan sê is pragtig!! Ek dink nie jy besef hoe baie dit vir jou ouma beteken nie. Die jongere geslag (ek inkluis) vergeet deesdae al te maklik van ons ouer mense. Welgedaan jongman. Jy is voorwaar ‘n voorbeeld. Ek sluk maar swaar aan my trane….

Hallelujah ·

Amen Dylan dit is sowaar pragtig. Ouma en kleinseun gaan skoffel. Ons moet daai foto sien. Net te mooi vir woorde. God seen jou Dylan met jou goeie hart.

ELMA VAN ROOYEN ·

Wat ‘n mooi gebaar is dit nou nie, daar is min kinders in vandag se lewe wat dit sal doen.
Dylan ek haal my hoed af vir jou en jy gaan nog ver kom en jou vrou op jou hande dra eendag ek sien dit.

AmY ·

Julle moet dit baie geniet.
Dylan, jy is ‘n yster én ‘n ‘ legend.’

Wenner ·

Ag hoe lekker om so n goedvoel-storie te lees! Ek stem saam, pns wil die foto’s sien asb!

Yolanda ·

Ons het so 2 jaar gelede hier in Orania ook vir Rinus de Meyer van die plaaslike CVO skool gehad wat sy Ouma as sy metgesel gekies het na sy matriekafskeid toe.
Pragtige jong manne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.