Oupa samel duisende in met staptog

Bala Gangiah in Indië (Foto: Verskaf)

ʼn 58-jarige oupa van Durban-Noord het meer as R350 000 ingesamel vir Chatsworth Hospice nadat hy sowat 18 maande gelede kanker oorwin het.

Bala Gangiah het dié geld ingesamel deur ʼn 574 km lange roete oor Indië te stap – die eerste keer dat dít onderneem is. Die staptog het Gangiah 17 dae geneem. Hy het van Pondicherry teen Indië se Ooskus na Kochi teen die Weskus gestap.

Gangiah het die sogenaamde Walk of Life saam met Jay Moodley (51) gestap. Moodley is ʼn Suid-Afrikaner wat na Indië getrek het nadat hy drie keer in Suid-Afrika geskiet en vir die dood gelaat is.

Die twee mans het op 7 Desember 2019 die staptog begin, ʼn algemene afstand van 35,7 km per dag afgelê en drie dae voor skedule op 23 Desember 2019 klaargemaak.

Gangiah sê hy en Moodley het maande lank gewerk aan hul liggaam en verstand vir dié moeilike taak.

“Eerstens het ons onsself redelik fiks probeer hou. Ons het altesaam 1 200 km tot voor die staptog afgelê. Die afrigting wat ons gekry het, het gehelp om ons uithouvermoë op te bou sodat ons sowat 30 km per dag vir 20 dae agtereenvolgens kon doen,” sê hy.

Gangiah en Moodley het deurentyd in dorpe vertoef en met kinders, onderwysers en dokters gepraat oor kankerbewusmaking. In sekere dorpe is daar selfs optogte gehou om bewusmaking te versprei.

Bala Gangiah en Jay Moodley (Foto: Verskaf)

Hoewel dit vir die mans lekker was om sosiale interaksie met die mense van Indië te hê, was die fisieke uitwerking van die staptog ʼn groot uitdaging.

“Ons het deur moeilike tye gegaan, veral weens blase aan ons voete gedurende die tweede helfte van die reis. Maar ons het geweet die pyn gaan net hou tot ons oor die eindstreep loop, en as ons nie oor die eindstreep loop nie, gaan die pyn vir ewig bly. Dít het ons die moed en fokus gegee om aan te hou,” sê Gangiah.

Altesaam R350 000 van hul R500 000-teiken is reeds ingesamel en hulle beoog om die res van die geld teen 15 Februarie vanjaar te hê.

Bala Gangiah en Jay Moodley (Foto: Verskaf)

Gangiah sê sy kankerstryd het hom laat agterkom dat hy sy lewensdoel moet uitleef.

“Wanneer jy ʼn tweede kans op die lewe kry, besef jy wat die doel van die lewe is. Ons kan nie weet hoe lank ons gaan lewe nie, maar hoe diep ons daardie lewe leef, is volkome in ons beheer. En uiteindelik gaan dit oor wie ons geword het in die reis van die lewe, hoeveel mense se lewe ons aangeraak het en hoe ander se lewe jou eie geraak het. Die lewe is net kort as jy te laat begin om dit te lééf,” sê hy.

Kogi Singh, die hoof van Chatsworth Regional Hospice Association, sê hulle is baie dankbaar vir die finansiële hulp wat Gangiah se staptog hulle bied.

Bala en Jay aan die einde vna hul staptog (Foto: Verskaf)

Chatsworth Hospice in KwaZulu-Natal is ʼn organisasie wat deur vrywilligers bestuur word. Dit bied gratis sorg aan mense met kanker, MIV-verwante siektes en kroniese siektes.

“Dit was ʼn ongelooflike reis vir ons om saam met Bala en Jay te stap, te danke aan ʼn WhatsApp-groep wat ons daagliks ingelig gehou het deur boodskappe, foto’s en video’s,” sê Singh.

“Dit was asof ons ook daar was, besig om die ervaring met hulle te deel, om die mense van Indië te ontmoet en te sien hoe hulle dié historiese taak aanmoedig. Baie geluk aan ons twee helde dat hulle hul doelwit in rekordtyd gehaal het. Ons dankbaarheid ken geen grense nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

Dit word gedoen . Dankie n wonderlike opregte storie. Mag jul geseen word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.