Outistiese man se bekkige sêgoed word plan vir onderneming

Janse Erasmus (Foto: Verskaf)

Vir Janse Erasmus van Durbanville is die wêreld dikwels onderstebo, met die agterkant voor en deurmekaar. Janse is op die outisme-spektrum en het moeite om ten volle op sy eie te funksioneer. Hy kan wel goed verbaal kommunikeer; hy kan lekker gesels en kielie gereeld mense se lagspiere met sy vlymskerp sêgoed.

Dit was juis die 23-jarige Janse se skerp sêgoed wat die Erasmus-gesin in die afsonderingtyd geïnspireer het om bigPANCAKE, ʼn aanlyn onderneming wat T-hemde druk, vir hom te begin.

Janse werk as ʼn assistent by ʼn plaaslike skool vir kinders met outisme, maar sy pa, Jan, sê dit is altyd ʼn goeie idee om geleenthede te soek vir ʼn onderneming wat sy eie is, omdat dit nie altyd maklik is vir mense met outisme om by ʼn konvensionele werksplek in te pas nie.

“Ons het almal soveel meer tyd saam deurgebring tydens die inperking, en in een van ons gesprekke het ons gedink aan ʼn aanlyn winkel vir Janse,” vertel sy pa.

“Ons wou vir hom ʼn beskermde werksomgewing skep, waar hy nie sensories oorstimuleer word nie, omdat hy sensitief daarvoor is. En met Janse se unieke benadering tot die lewe het hy ook baie unieke sêgoed. Baie mense in die omgewing ken al vir Janse oor sy sêgoed, so dit is waarop ons wou fokus.”

Van die sêgoed wat op T-hemde, kappie-tops en pette gedruk word is: “Los my bietjie uit”, “Atmosvuurtjie”, “Ma, praat met Pa” en “Askies?”.

Janse se ma, Laséa, sê hulle wou ʼn onderneming begin wat “uniek is aan Janse”.

Die Erasmus-gesin (Foto: Verskaf)

“Ander mense geniet altyd sy sêgoedjies, want baie daarvan is goed waarmee ander mense hulself mee kan vereenselwig. Dit is sy unieke handelsmerk.”

Laséa vertel hulle hoef nie te wonder wat om op die T-hemde te druk nie, “dit kom so spontaan uit”. Janse pak ook self die pakkies wat na kliënte uitgaan en hanteer baie van die bemarking self.

Die Erasmus-gesin wil bigPANCAKE ook gebruik as platform om mense bewus te maak van die uitdagings van mense op die outisme-spektrum.

“Al het mense op die spektrum die intellek om ʼn werk te doen, het hulle baie keer ʼn probleem met hul hande of lyf wat nie wil saamwerk nie. Ons wil hê mense moet weet dit is cool om anders te wees,” sê Laséa.

“As mense net kan wegkyk van die uitdagings en klem lê op wat dit besonders en uniek maak, kan jy ʼn ver pad stap in terme van aanvaarding en bewusmaking,” sê Jan.

Hulle droom ook daarvan dat pigPANCAKE eendag vir ander outistiese mense werk kan skep en dat dit Janse kan onderhou.

“Op die oomblik gaan dit nie vir ons so baie oor die wins nie, maar eerder daaroor om vir Janse iets te skep wat betekenisvol is en wat later ook vir ander iets kan beteken.”

Besoek bigPANCAKE se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Soos hul in berig se: Dis koel om anders te wees – daar is sommer dan ‘n slagspreuk vir een van jul t-hemde! Sterkte en beste wense vorentoe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.