Overvaal bring hoop vir Sonskynhoekie

Sonskynhoekie, (Foto: Ignaz Streicher)

Om hoop in die harte te bring vir die inwoners van Sonskynhoekie, waar mense in tente, houthuise “wat glad nie op standaard is nie” en ou karavane woon, het verskeie organisasies hande saamgesit om skenkings vir die gemeenskap bymekaar te maak.

Ignaz Streicher, stasiebestuurder van Overvaal Stereo, wat meestal in die Noordwes-provinsie en dele van die Vrystaat uitsaai, sê die idee om aan die mense hier uit te reik het ontstaan na een van die gemeenskapsradiostasie se adverteerders, Megasave in Potchefstroom, hulle ingelig het van die nood in die “wit plakkerskamp”, net buite Pretoria.

Aanvanklik het Overvaal sy luisteraars uitgenooi om skenkings te stuur, wat dan by ʼn sentrale punt afgelaai is, waar inwoners van Sonskynhoekie skenkings kon haal soos wat hulle benodig het. “Ons het egter besluit om die uitreik te doen, want daar is te veel mense wat glo dis ʼn mite. Vandaar die besluit om die kamp te besoek en die nare werklikheid met die publiek te deel.”

Met die mees onlangse aflewering, wat die afgelope naweek plaasgevind het, het Overvaal Stereo, tesame met oud-Springbok Vlok Cilliers, Megasave, Maluti FM en Boeregemeenskap Transvaal, ʼn vragmotor vol skenkings na die Sonskynhoekie-gemeenskap aangery. “Daar was ook talle karre vol skenkings en ook baie speelgoed, omdat daar so baie kinders bly.”

Na raming bestaan die gemeenskap uit 160 volwassenes en sowat 60 kinders. Daar het ook onlangs ʼn tweede been van die kamp, Sonskynhoekie Twee, oopgemaak, maar daar is volgens Streicher geen geriewe of munisipale dienste nie.

Ignaz Streicher en Tannie Gerda, die oudste inwoner van Sonskynhoekie. (Foto: Verskaf)

“Die lewe het die mense wat hier bly geen ander keuse gelaat nie. Van hulle het nie meer familie nie en het op straat opgeëindig. Die dice het maar net verkeerd geval vir hulle,” sê Streicher. Hy vertel dat die oudste inwoner van Sonskynhoekie 94 is. Haar naam is Gerda.

Sanet van Wyk, eienaar van Megasave en die vrou wat die bal aan die rol gekry het, sê die Here het haar “eendag net gepluk en gesê ‘Doen dit’!”

“Ek het vir nege jaar lank 96 kinders met vigs in en om Potch versorg, maar ek het moeg geraak en dit afgeskaal. Ek het seker te rustig geword.”

Sy sê sy het Overvaal genader om hierdie projek aan te pak omdat sy Suid-Afrikaners se oë wou oopmaak. “Meer mense moet betrokke raak en self die plekke gaan besoek. As mens nie self daar was nie, sal jy nie verstaan waardeur die mense gaan nie.”

Van Wyk sê hul werk by die kamp is nog lank nie klaar nie. “Ons kort kos. Ons kry baie klere. My hart borrel sommer. Ons kry beddegoed, beddens, alles, alles, alles. Koppies, pierings, rolskaatse. Jy verstaan nie wat ons alles kry nie. Ons groot behoefte is eintlik kos vir die mense.

“Ons doel was dat die mense vir ʼn paar uur van hulle sorge vergeet en dis wat ons gedoen het. Johan van der Merwe het die dag ook daar opgetree. Dis besonders, want hulle het nie die geld om ʼn kaartjie vir so iets te koop nie. Hulle het dit vreeslik geniet, saam gedans en saam gesing,” sê Streicher.

Hy sê Overvaal Stereo sal ook met die projek wil voortgaan, maar dat die publiek se steun gaan nodig wees. “Ons moet hande vat dat ons meer kan doen as wat ons reeds gedoen het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Baie dankie almal se bydrae. Mag dit oorvloed raak deur seening van Here af.

Marietjie Stander ·

Baie dankie vir die hulp aan die wit plakkerskamp, ons vergeet hoe swaer ons eie mense kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.