Pa het Covid-19 – ’n familie se dagboek

Generaal Johan van der Merwe is ‘n oudkommissaris van polisie. (Foto: Verskaf.)

Armand van der Merwe van Pretoria deel sy familie se ervaring met Covid-19

“Pa het korona.” Net daardie enkele WhatsApp en min kon ons dink dat ons ʼn week later om my vader se lewe sou veg.

Eers is my 65-jarige swaer, Leon, gediagnoseer, toe my 60-jarige suster Zelda, en drie dae later my 84-jarige pa.

Snaaks genoeg het al drie aanvanklik net ʼn hoesie gehad, geen van die ander simptome was teenwoordig nie. Leon het heel goed gevoel, eers later het ʼn ligte hoofpyn gekom en het hy sy smaak verloor. Zelda was aanvanklik glad nie siek nie, die siekte sou haar eers behoorlik vat nadat sy ons pa dag en nag versorg het.

Die Saterdag ná die tyding kook ek en my verloofde, Michelle, verwoed sop en maak bakke pasta. Sondag ry ek na my ouers toe met kos vir die siek familie. Ek handhaaf ʼn gesonde afstand, ons dra ons maskers. My ma maak die hele tyd skoon en jaag my pa rond as hy aan iets vat. Pa voel nie siek nie, net ʼn hoesie wat pla. Dit voel vreemd, onnatuurlik, en die onbesproke vrees, vir dit wat dalk kan voorlê, hang swaar in die lug.

Ons dring daarop aan dat Pa ten minste ʼn voorskrif kry vir antibiotika en die nebuliseerder. Hy skakel sy huisdokter: “Nee, daar is niks wat die huisdokter dink hy behoort te kry nie,” ag tog. Skoonsus Maxi kontak haar dokter en ná ʼn telefoniese konsultasie skryf sy antibiotika en ander medisyne voor. Ten minste voel ons nou so bietjie gewapen vir wat kan voorlê.

Maandagaand skakel ek om te hoor hoe dit gaan. Pa het die dag in die tuin gewerk, want ek het mos aanbeveel hy moet vitamien D inkry. En sonlig gee mos vitamien D. Ai toggie! Hy voel so bietjie moeg. Leon kla oor lyfpyn, maar voel nie te sleg nie.

Dinsdag whatsapp Zelda ons, Pa lyk sleg. Sy toestand het skielik verswak in die nag. Sy dink nog nie hospitalisasie is nodig nie, maar dinge lyk nie goed nie. Ons lees in die media van hospitale wat in duie stort, dat bejaardes nie ʼn prioriteit is nie en dat jou kans om te oorleef baie skraal is op ʼn ventilator, veral as jy 84 is. Ons lees en ons lees. Daar is baie data, min feite. Die boodskappe vlieg en ons praat met Pa. Pa is vasbeslote, ʼn hospitaal sal hom nie sien nie. Ons besluit dus om eers nog vas te byt. Dit is duidelik dat suurstofsaturasievlakke nou die sleutel tot oorlewing geword het. En Google word ons huisdokter… saturasievlakke en suurstof sou in die volgende weke ons lewens oorheers.

Michelle (my verloofde) spoor ʼn mediese verskaffer op en ek jaag Centurion toe, koop ʼn suurstofmeter (Oximeter). Jaag deur na Pretoria-Noord. Werner (broer) het ʼn klein botteltjie suurstof en laat dit volmaak. Ons meet my pa se saturasie, 83%! Ons whatsapp verwoed en hou konferensie-oproepe tussen ons kinders. Ek voel Pa moet hospitaal toe, maar hy weier nog steeds. Ná ʼn paar oproepe oor hoe dit gaan by hospitale in Pretoria, stem ons saam, vir ʼn 84-jarige Covid-19-pasiënt is die hoësorgeenheid waarskynlik ʼn doodsvonnis. As Pa daar ingaan groet ons hom en sien hom dalk nooit weer nie. Wil ons werklik dat ons pa eensaam en alleen in ʼn koue onpersoonlike ICU lê sonder dat een van ons sy hand kan vashou? Keuses, keuses, keuses. Moeilike keuses. En so maklik om te oordeel en ʼn mening te lug as jy aan die buitekant staan.

Michelle werk by ʼn nuwe hospitaalprojek, en hulle hoësorgeenheidbestuurder praat lank met my oor die foon. Daar is nie eenvoudige antwoorde nie. ʼn Jaar terug sou my pa in ICU gewees het met ʼn lys van spesialiste watna hom kyk, wat ʼn pulmonoloog, en kardioloog sou insluit. Toetse soos longfunksies, bloedgas en EKG’s sou daagliks gedoen word. Maar ons leef in ʼn post-apokaliptiese tyd, die reëls het verander, of verdwyn.

Zahir, die hoësorgeenheidsbestuurder, is duidelik, saturasie is die sleutel, en as die longe beskadig is deur Covid-19, en nie meer genoegsaam kan asemhaal nie, moet die pasiënt geventileer word. Dit is moeilike keuses. En die antwoorde kompleks.

Werner begin om Pa suurstof te gee. Saturasie styg tot so 85% en bly daar. Pa weet nie meer heeltemal wat om hom aangaan nie, maar hospitaal bly nog steeds nie ʼn keuse vir hom nie.

Michelle kry weer ʼn kontak en ek jaag om ʼn CPAP (vir volgehoue positiewe lugwegdruk) te koop. My seun gebruik een vir slaapapnee. Nooit het ek gedink dit gaan ʼn lewe moet red nie. Die verkoopsverteenwoordiger is verstaanbaar baie versigtig om mediese advies te gee, maar ná ʼn kort opleidingsessie jaag ek weer deur na Pa toe. Werner kry my by die hek, ons handhaaf ʼn gesonde afstand, maskers op. Dertig minute later is Pa op die CPAP met die suurstof gekoppel. Ons begin met ʼn suurstofvloei van 0,5 liter per minuut want die suurstofbotteltjie is klein, en ons weet nog nie eers amper wat ons doen nie. Die CPAP is op ʼn atmosferiese druk van 3 gestel. Min het ons toe geweet dat 0,5 suurstofvloei net ʼn troos is en nie eers amper voldoende is nie.

Zelda sit nou voltyds by Pa. Pa is baie, baie siek. Elke 30 minute jaag sy die CPAP se druk op met 0,5. Hier by 8 begin dinge beter lyk, Pa se saturasievlakke klim na so 88% en hang daar rond. Die suurstof raak min en Werner kry ʼn groter leenbottel by ʼn vriend, en dit is weereens ʼn gejaag om dit vol te maak. Die CPAP is op 9 atmosferiese druk. Zahir vermaan ons om die drukking nie te hoog te maak nie, want dit kan die longe skade doen. Ons besluit om nie hoër as 11 te gaan nie.

Zelda kry Pa se kardioloog in die hande. Hy kyk na die medisyne wat Maxi se dokter voorgeskryf het en gee ʼn “thumbs up”.

Die hele nag bly Zelda by Pa, teken elke 30 minute sy saturasie aan op WhatsApp. Ons konfereer, google, vra raad en so tussen ons klomp kinders hou ons ons Pa aan die lewe.

Drie dae verder en na ʼn paar nagte se gewaak by Pa stort Zelda se gestel ineen. Covid-19 slaan haar met sy volle mag. Sy het koors en haar saturasie val vinnig. Werner en Len neem Pa se versorging oor by haar. Ons suurstof is min en sy weier om suurstof te gebruik wat vir Pa bedoel is. Ek leen ʼn masjien wat suurstof vervaardig by ʼn vriendin en jaag weer deur.

Zelda is op die suurstofbottel en Pa op die masjien. Ons lees op World Health se webwerf vir dokters wat die aanbevelings is oor suurstofvloei. Ons verhoog die vloei na 3 liter per minuut en die saturasie spring na 93% binne 30 minute. Intussen het Zelda vroeër die week ʼn videokonferensie gehad met ʼn Lucia, ʼn fisioterapeut en huisvriende van my en Michelle. Sy noem “proning” as ʼn belangrike wapen teen Covid-19 en ons google dat dit bars. Ons prone vir Pa en dit werk sowaar, saturasie spring nog ʼn punt. Zahir waarsku ons dat Pa gereeld klein slukkies vloeistof moet neem.

Die masjien wat suurstof maak moet enige tyd teruggaan en ons probeer nóg ʼn suurstofmasjien in die hande kry. Ons probeer om by Pa se dokter ʼn voorskrif te kry vir ʼn huurmasjien (die een wat nie medisyne wou voorskryf nie); dis nou ʼn saak van lewe en dood. Ná vier ure se gesukkel sê die dokter se ontvangsdame dat ons nie behoort te kla nie. ʼn Voorskrif neem gewoonlik 48 uur. Zelda sê vir die ontvangsdame my pa se saturasie is 88. “Wat kla julle, dis dan amper 100,” kom die antwoord.

Michelle se base hoor van ons dilemma en gee opdrag, haar hospitaal in wording moet ʼn suurstofsilinder by Afrox huur en dit moet na my pa toe gaan. Maar nou moet daar eers ʼn reguleerder en vloeimeter gekoop word. Die tyd vlieg, en ons het nie baie daarvan nie.

Ek skakel ʼn vriend wat ʼn narkotiseur is. Hy meen dat as ons die saturasie hier by 90 kan stabiliseer dit goed sal wees, maar ons moet die asemhaling per minuut tel, dit behoort so 14-15 te wees, moet nie oor 20 gaan nie. Nog iets wat ons moet weet. Pa is op 20 asemhalings per minuut… ’n grensgeval.

Pa voel effens beter, maar het ʼn lelike hoes. Hy kan al stort en tee drink. Sy neus is toe en die CPAP maak hom benoud. Hy kyk elke keer na die saturasiemeting en dit maak hom ook angstig. Ons reël vir ʼn ligte kalmeermiddelvoorskrif by die kardioloog. Nie asof ons enige hoop het dat hy dit sal neem nie. Halsstarrig verby…

Zelda is nou ook op suurstof, haar saturasie is 90%. Leon sukkel om haar koors te breek. Goeie nuus, Leon het intussen heeltemal herstel. Leon is ʼn ywerige atleet en rook ook nie, dit moes beslis baie gehelp het.

Leon Cornelius, skoonseun, Zelda Cornelius, dogter en Len van der Merwe, seun, glimlag vir ‘n foto na min slaap en baie drama met Covid-19. (Foto: Verskaf.)

Twee dae later is Zelda se koors gebreek. Sy voel beter. Met Pa gaan dit ook beter. Sy neus is net baie toe en hy weier die CPAP. Het amper ʼn intense wrok in die ding.

Nóg ʼn dag later en Zelda laat weet benoud, Pa se stats val en val. Werner jaag deur en spandeer die nag by Pa. Suurstof in die neus en suurstof in die masker. Pa lyk beter, slaapapnee en toe neus bly die groot probleem. Len neem die volgende nag oor. Die boodskappe vlieg.

Pa voel vandag beter, hy slaap sleg met die hoes en toe neus, maar sy saturasie bly bo 91. Hy gaan seker nog ʼn ruk lank op suurstof wees. Ons weet nie wat voorlê nie, maar het die eerste rondte teen Covid-19 gewen.

Michelle woon ʼn direksievergadering by met mediese spesialiste. Hulle is dit eens, dit is wonderbaarlik dat ons pa tot hier gekom het. Sy kanse om te oorleef was ongelooflik skraal. Net sy absolute uithouvermoë en die familie se versorging het hom deurgetrek. Die feit dat hy nooit gerook het nie, baie aktief was in sy lewe en tot voor hy siek geword het elke dag gestap het, het ʼn reuserol in sy oorlewing gespeel.

Wat het ons hieruit geleer? Daar is geen maklike antwoorde nie. Ons leef in ʼn abormale-normale realiteit. Die keuse van behandeling berus nou baie, baie meer by die pasiënt, en die familie.

Ons is nie dokters nie en hierdie verhaal van ons reis kan nie as mediese advies gesien word nie. Nooit kan ons so arrogant wees om dit wat vir ons gewerk het, te verkoop as die heilige graal tot Covid-19-versorging nie. Wat wel duidelik is, is dat ons tuisbehandeling slegs gewerk het omdat ons ʼn sterk familieondersteuningsgroep het. Sonder ʼn Len, Werner, Michelle, Maxi, Amanda, Zelda en Leon wat elkeen ʼn kritiese bydrae kon lewer, sou ons nie eers amper kon doen wat ons gedoen het nie. Die eerste sleutel tot oorlewing is die suurstofmeter (Oximiter). Die pasiënt weet nog nie sy of hy het suurstofnood nie, dan is die saturasievlakke klaar lewensgevaarlik onder 90%. Uit die data wat tans gepubliseer word, is dit duidelik dat die meeste sterftes te doen het met die longe se onvermoë om suurstof te vervaardig. Alhoewel baie nuusberigte sê die pasiënt het vinnig gesterf nadat asemnood ondervind is, is medici dit eens dat die pasiënt al waarskynlik vir ʼn baie lang tyd suurstofnood ervaar het, sonder om dit te weet.

Suurstof, suurstof, suurstof… As die saturasie onder 95 val het ons suurstof gegee, maar in ons ervaring skep droë suurstof alleen ander probleme, soos ʼn toe neus, en moet verkieslik in ʼn masker saam met gehumifidiseerde lug gegee word. Ons het ons suurstofvloei bepaal deur die saturasievlakke van ons pa en suster. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel 5 – 10 liter per minuut aan, maar ons kon meestal wegkom met ʼn laer vloei. Dit is duidelik dat suurstof betyds gegee, belangriker as ʼn ventilator is. Ons het ook gereeld slukkies vloeistof gegee.

Ons het dadelik begin met die nebuliseerder, want ons was bang dat die longe só vol vloeistof kon word en dat die nebuliseerder nie meer sal help nie.

Die CPAP was krities aan die begin. Ons het geweet as die saturasie onder 85 val en suurstof alleen nie help nie, die longe dalk skade het en gehelp moet word. Maar kenners waarsku, wees versigtig om nie te hoë druk te gebruik nie. Ons het besluit om by ʼn atmosferiese druk van 11 te stop. Ons het ook die hidreerder van die CPAP gebruik om die suurstof te bevogtig.

Moet nooit vinger wys nie, partykeer doen iemand iets waarmee jy nie saamstem nie, maar as die familie saam besluit is dit ʼn familiebesluit, en moet dit ondersteun word. Dit is uitputtend om ʼn pasiënt dag en nag te versorg en ons was uiters versigtig om nie ongeduldig met mekaar te raak nie.

As jy ʼn goeie dokter het wat die pad saam met jou kan stap, bly dit nog die beste opsie. Die meeste dokters doen vandag aanlyn konsultasies, selfs die spesialiste. Soos ons nou maar te goed weet, leef ons nou in ʼn nuwe normaal. Daar is nie altyd ʼn regte of verkeerde keuse nie, net dalk ʼn beter of slegter een.

Sodra dinge weer relatief na normaal teruggekeer het sal ons Pa neem vir behoorlike longfunksietoetse en ʼn EKG, maar met groot genade van Bo lyk dit of ons die eerste rondte gewen het. En net om die Covid-19-sage nog ʼn vreemde draai te gee: Ma is 83 en was feitlik elke oomblik aan Pa se sy of in sy teenwoordigheid. Ma is egter perdfris met nie ʼn sweempie van siekwees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

…en Pa het vir seker ‘n ander dokter gekry, nê…. Baie dankbaar dat julle as gesin kon help!

Faraway ·

Wat n storie . . . vol vrees, genade en n vreugdevolle einde! DANKIE HERE !!!
Julle was so bevoorreg om mediese vriende te hê en fondse om nodige aan te koop vir behandelings en om familie te hê wat naby was om te kon help met versorging en kos.

Kobus ·

Armand, dankie dat jy dit met ons gedeel het, die wereld het meer sulke positiewe verhale nodig. Baie sterkte, en ek hoop hy herstel volkome.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.