Pa stomgeslaan oor vreemdeling se goedheid

debbie-bolton-2

Die agent by die toonbank het aan Debbie verduidelik dat die kaartjie $749 (amper R10 000) sou kos, maar Debbie het haar kaart vir hom gegee en gesê dit is in die haak. Foto: Facebook.

ʼn Raadop pa van ʼn tweejarige dogtertjie was skoon oorbluf toe ʼn vreemdeling hom uit ʼn verknorsing gered het.

Die man, wie se identiteit nie bekend is nie, het by ʼn toonbank by ʼn lughawe in Nebraska aangekom om vir sy vlug in te boek, net om te hoor dat sy tweejarige dogtertjie ook ʼn vliegtuigkaartjie moet hê. Die man, wat maande gelede die kaartjie gekoop het, hoef toe nie vir sy dogtertjie te betaal het nie, aangesien kinders onder twee jaar gratis mag vlieg. Sy dogtertjie het egter vanjaar in Januarie twee geword en moes daarom ook ʼn betaalde kaartjie hê.

Volgens die lughawe se personeel was die man vreeslik geskok toe hy hoor wat dit sou kos om vir haar ʼn kaartjie te koop. Die man het eenkant gaan staan, sy dogtertjie se kop vasgehou en verwoed begin rondbel.

“Mens kon sien die man se hart was gebreek,” sê Kevin Lesie, wat die inskrywing op Facebook gemaak het.

ʼn Vrou, wat later as Debbie Bolton geïdentifiseer is, het agter die man gestaan en alles gehoor. Sy het na die man en sy dogtertjie gestap om te hoor wat fout is. Die twee het ʼn rukkie gesels en daarna het Debbie na die toonbank gestap en aangebied om die dogtertjie se kaartjie te betaal.

Die agent by die toonbank het aan Debbie verduidelik dat die kaartjie $749 (amper R10 000) sou kos, maar Debbie het haar kaart vir hom gegee en gesê dit is in die haak.

Volgens personeel wou die man met die dogtertjie Debbie se besonderhede kry sodat hy die geld aan haar kan terugbetaal, maar Debbie wou niks daarvan weet nie.

Debbie is later op Facebook deur vriende geïdentifiseer. Hulle meen dit klink presies soos iets wat sy sal doen.

“Debbie sal nooit so iets doen vir die publisiteit nie. Sy is net een van daai mense wat goed wil doen,” het ʼn kollega van Debbie in ʼn onderhoud vertel.

En toe Debbie genader is vir kommentaar?

“Enigiemand anders sou dit ook gedoen het,” het Debbie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Kitty ·

Shoe, Debbie Bolton jy het ‘n hart van goud. Here seen jou wat jy doen vir ander mense.

Antheny ·

Sjoe, ek is sommer hoendervleis. Thnx Debs, jy is ‘n ENGEL. God werk op snaakse maniere, en Hy het jou gekies as ‘n instrument om die pa en dogter te help. Ek is dankbaar ek ken God en Sy grootheid. God seen jou sommer miljoene kere.

Johan v d Merwe ·

dit was Desember 2021 ek het by die Ultra City op die N1 tussen JHB en P-Town gestop om petrol in te gooi en ‘n draai te loop toe ek parker sien ek die klein sports karretjie met ‘n man wat ongelooflik ongelukkig was hy het al die pad van Bloem afgekom om sy seun wat op Universteid was uit te neem vir ete en daar het hulle sy bank kaarte gesteel hy het reeds petrol ingegooi en toe in die penarie gesit dat hy nie geld gehad het om daarvoor te betaal nie. ek het R200 in my beursie gehad vir 1 maand en geweet eendag gaan ek dit aanwend vir iets goed wat dit is wat God op my hart gedruk het. Ek het gevra wat aan die gang was en hy wou eers nie vir my vertel nie want hy was toe op daar die stadium warm onder die kraag – dit is vrydag en die bank is al toe en hy moet nog Bloem toe. ek het ook die geld vir hom gegee en betaal vir die petrol dit was R178 maar ek het vir hom die R200 gegee en weggery sonder om my detail vir hom te gee – hy wou dit gehad het en ek het gese as jy iets will doen doen dit sonder om iets terug te verwag. My moto is as iemand geld will leen en ek het dit – gee dit – moet nie leen nie want leen verkoop vriendskap.

MooiSo ·

Maar soos jy klink, vertel jy die ou sob storie elke kans wat jy kry. Weet jy, ekt gisteraand gaan kuier, my rekening was R499,95, inplaas van die standaard 10% wat ek moet gee, het ek besluit, die dame kort die ekstra R10 meer as ek, ekt nooit my detail vir haar gegee nie.

Jess ·

Wel dis nou die bietjie goeie nuus wat ek gekort het vir die dag!

Leonie ·

Dis nou lekker om ‘n goeie positiewe storie te lees. Baie dankie Maroela vir die mooi storie!

Suzi ·

Debbie …. jy is n ENGEL met n HART van GOUD. Geseende vrou!!!

Skerp Spioen ·

Ek dink nie Debbie van Nebraska lees julle kommentaar aan haar gerig nie. Inteendeel ek dink nie Debbie van Nebraska verstaan Afrikaans nie.

Piet Pompies ·

Ek dink nie die berig is hier vir Debbie om te lees, eerder as bietjie goeie nuus.
Geniet die beter van die lewe!

Johan duP ·

Baie bly om te sien dat die universiteite in 2021 in Desember oop gaan wees.

Naas Vermaak ·

Ek het jare gelede by ‘n vulstasie geld probeer leen by ‘n petroljoggie…ja, n swart man vroeg in sy twintigs….by the way, ek het geoefen op my fiets en nie kos of geld by my gehad toe ek skielik begin sleg voel het. Sonder om te skroom haal daai mannetjie R100 uit sy beursie en gee dit vir my…vra nie eers naam en tel nr nie, gee dit net….ken min mense wat dit sal doen…en ek is n wit man…ons moet dus waak daarteen om soms almal oor dieselfde kam te skeer….meers sulke nuus is welkom Maroela!

Jaaare ·

Jare gelede was die toekom ook blink vir n jong wit man. Jare gelede was die stad veilig. Jare gelede het ons nie elektriese heinings gehad nie. Jare gelede, jare gelede maak absoluut niks van die hede.

Fanie ·

Hoe lekker is dit om hierdie goedhartige storie en kommentaar te lees vanoggend! As almal van ons maar net een keer vandag iets goed doen en “pay it forward”.. dink net hoe kan ons `n verskil maak!

Beter ·

So omdat hy anderkleurig was het jy geskrik en die gebaar is groter, as dit nou n plain wit man was, was dit nie so mooi nie. Goed dat die rasiste weg is.

E.K. ·

MooiSo, is dit nou nodig om lelik te wees met Johan vd Merwe wat goed gedoen het vir iemand?Sob storie se dinges man! Ai tog! Ek doen ook gereeld sulke goed, hou spesiaal paar note op ‘n sekere plek in my beursie. Laat mens SO goed voel as jy iemand uit ‘n penarie kon help of sommer net vir die lekker iemand iets te gee. Ek is seker daar is derduisende in SA wat sulke goed doen en aan elkeen van hulle sê ek nou sommer dankie al lees hul nie hier en al verstaan hul nie Afrikaans nie, ek gooi dit daar uit vir die sommer.

Stellie ·

So nou en dan betaal ek die kar agter my se Tolhekgelde… en giggel as ek die mense se gesigte sien!

Niccy ·

Ek het eendag twee ou mensies se ete vir hul betaal terwyl hul nog geeet het. Daardie gesiggies toe hul wou betaal kan mens nie vergeet nie. Hulle kon dit nie glo nie en die kassiere mag nie vir hul gesê het wie vir hul betaal het nie. Lekker om iets vir jou medemens te kan doen… roomys koop vir ‘n swart kleinding wat naggg by die ouma vir dit en mens kan sien die trek swaar!!! Wat ‘n voorreg!

Tokkie ·

Dis lekker om sulke brokkies te lees. Dis net jammer party mense buit jou ook uit. Praat van ondervinding

amanda ·

Aai….. hoe wonderlik om nie vir ‘n verandering wonderlike nuus te lees nie… Aai daar is nog goeie mense in hierdie wereld… Debbie….. jy is ‘n engel gestuur om daardie pappa te kon help..mag ons Hemelse Abba Vader jou net seen en seen en seen… aai maak my ou hartjie sommer warm klop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.