Paar se harte blom weer ná swaar, hartseer

Antoinette en Smittie Smith. (Foto: verskaf)

Antoinette Smith (72) se lewensverhaal is een van daardie wat jou aan ʼn Verimark-advertensie herinner wat sê: But wait, there’s more! Wanneer jy dan wél verder luister en jy sien die steeds breë glimlag op haar onlangse troufoto, weet jy dat hierdie vrou ʼn buitengewoon goeie dosis yster in haar pype het.

Nadat Antoinette Smith, verpleegsuster by ʼn intensiewesorgeenheid, in haar tóé veertigs besluit het dat sy ʼn nuwe uitdaging wil aanpak, aanvaar sy kort daarna ʼn pos as direkteur van verpleging in Saoedi-Arabië.

“Hier het ek in ʼn saal gewerk waar al die adellikes verpleeg is,” vertel sy. “Ek het ʼn kursus gedoen om Arabies te leer praat wat kommunikasie vergemaklik het. Mettertyd kon ek dit vlot praat en was dit ook die rede dat ek genader is om ʼn Arabiese prinses, wat met kanker gediagnoseer is, voltyds te versorg.” Antoinette deel hoe sy ritte in privaat vliegtuie na verskeie paleise saam met die familie meegemaak het. Sy was byna 12 jaar in die Midde-Ooste.

Terug in Suid-Afrika aanvaar sy ʼn pos by die Mediclinic-hospitaal in Welkom en besluit toe om haar op gespesialiseerde babasorg toe te spits. “Daardie babatjies ken naderhand jou stem so goed. As jy in die oggende by hulle kom, reageer hulle as hulle jou stem herken.” Antoinette se rug het haar egter begin opkeil en het sy besluit om ʼn aanstelling as direkteur van bejaardesorg by NG Maatskaplike Dienste te aanvaar. Gedurende hierdie tyd het haar huwelik van agt jaar egter skipbreuk gely en moes sy met leë hande uit die egskeidingshof stap.

“Nie lank daarna nie stop daar ʼn vrou van die bank voor die huis en sê dat die huis op ʼn veiling verkoop gaan word. Ek moes uittrek, maar het nêrens gehad om heen te gaan nie. Die enigste oplossing was om in my kar voor die polisiestasie te bly. Twee maande lank. Maar toe begin ek ʼn verskriklike pyn op my maag kry.”

ʼn Kolonoskopie het gewys dat Antoinette ʼn gewas in haar dikderm het wat dadelik verwyder moes word. Die operasie, waartydens die helfte van haar dikderm verwyder is, is in Pretoria gedoen waarna sy vir ʼn rukkie by haar oudste sussie gebly het terwyl sy chemoterapie ontvang het.

“My niggie het aangebied dat ek by hulle moet gaan bly. In hierdie tyd het ek vir Ted ontmoet en ons het heerlik begin saamkuier. Hy was baie goed vir my, al was hy self nie gesond nie. Ons is toe getroud en was baie gelukkig.”

Sy gesondheid het egter begin versleg en Antoinette het hom voltyds versorg terwyl hy, ʼn diabeet, ook met nierversaking, Alzheimer én Parkinson se siektes geworstel het.

“Woensdagaand 4 Augustus 2021 het ons saam Bybelstudie gehou. Ons het daarna nog lekker gesels en toe rustig gaan slaap. Dit is die laaste van daardie nag wat ek kan onthou.”

Antoinette vertel hoe sy presies ʼn maand en ʼn dag daarna in die hospitaal wakker geword het. Verward. Bang. Ontsteld. “Ek het my man gesoek en na die personeel wat heen en weer in verpleeguniforms rondbeweeg het, geroep. Niemand het gereageer nie. Hulle kon my nie hoor nie. Ek was baie swak en aan ʼn ventilator gekoppel. Ek het nie geweet wat aangaan nie. ʼn Rukkie daarna het ek gesien hoe my sussie en ʼn dokter in my rigting aangestap kom. Ek kon op my sus se gesig sien dat daar groot fout was.”

Antoinette se suster het haar vertel van die brand wat in hulle woonstel uitgebreek het en hoe die brandweer daarin kon slaag om haar betyds uit te sleep. Sy het egter ook die nuus gekry dat haar man in die brand omgekom het.

Haar longe het groot skade opgedoen en behalwe vir die verlies van haar eggenoot, was daar ook geweldige materiële verliese. Meubels, matte, yskaste, klere, noem maar op. Antoinette se suster het vir haar ʼn sweetpak en plastiekskoene gekoop net om minstens iets te hê om aan te trek wanneer sy ontslaan word.

“Nadat ek skaars vyf dae tydelik by mense gebly het, het ek geweet ek moet ʼn ander plan maak. Ek het in my tyd wat ek verpleeg het heelwat met verskillende ouetehuise te doen gehad. Ons Tuis was eerste op my lysie. Ek het hulle geskakel, my storie vertel en gevra of hulle my nie op een of ander manier met verblyf kon help nie,” vertel sy. “Toe die maatskaplike werker my laat weet dat die paneel my graag wou ontmoet en ʼn onderhoud as deel van die keuringsproses met my wou voer, het ek my boeglam geskrik. Ek het nie ordentlike klere gehad om aan te trek nie, en asof dit nie erg genoeg was nie het my tande ook in die proses verlore geraak! My bril was ook weg. My sussie het my winkels toe geneem sodat ek net minstens ʼn bloes en broek kon koop. Na ʼn paar dae het ek met net ʼn paar items in ʼn plastieksak by Ons Tuis Emily Hobhouse ingetrek.”

(Foto: verskaf)

Dit was ʼn besondere moeilike tyd vir Antoinette. Sy vertel hoe Jenny Botha, haar buurvrou by die tehuis, dae lank by haar gesit het terwyl sy net gehuil het. “Na ʼn ruk het ek besef dat ek sielkundige hulp nodig het Ek het iemand begin sien wat regtig ʼn groot verskil in my lewe gemaak het.”

Intussen het daar goeie én baie water in die see geloop en het Antoinette weer ná terapie, ʼn nuwe bril en nuwe tande, onder andere, haar ou self ontdek. Sy het ook weer ʼn stokperdjie waarvoor sy baie lief is – naaldwerk – opgeneem. Haar skêre het egter begin stomp raak en ʼn inwoner vertel haar toe van Smittie (87), wat ook in Ons Tuis Emily Hobhouse woon, wat almal se skêre skerpmaak.

“Ek het vir Smittie gaan soek en kom toe op so ʼn waardige man met die mooiste, mooiste blou oë af. Sjoe, hy het na my met daardie mooi, groot oë gekyk totdat ek amper ongemaklik was met myself omdat ek nie kon ophou terugkyk nie!”

Die skerpgemaakte skêre draai toe sommer die kuierkrane ook oop. “Ons het te lekker begin kuier en het een keer só lekker gesels dat Smittie uit sy woonstelblok gesluit is. Hy moes een van die inwoners wakker maak om vir hom die deur oop te sluit,” vertel Antoinette laggend.

“Toe daar ʼn kamer langs Smittie oopgaan, het ek besluit om daarheen te trek en ons word toe bure. Toe kon ons éérs lekker kuier!” vertel sy verder. “Hoe sal ek dit nou verduidelik? Ons maak goeie musiek saam…”

Smittie se vrou is vyf jaar gelede aan Alzheimersiekte oorlede waarna hy na Emily Hobhouse verhuis het. Vra Antoinette hom uitdagend of hy lief is vir haar, sê hy net: “Baie, baie!”.

Hierdie twee bejaardes verstaan iets van tyd: dit is kosbaar en elke oomblik moet gekoester word. Smittie het juis om hiérdie rede nie gras onder sy voete laat groei nie toe hy met die woorde: “Ek wil jou myne maak” om Antoinette se hand gevra het.

Die paar het hulle troubeloftes presies ʼn jaar na die verwoestende brand, wat soveel hartseer veroorsaak het, op 5 Augustus vanjaar afgelê.

“Ons is geesgenote en ek het so baie respek vir hom,” gesels Antoinette trots oor haar bruidegom. “Smittie se seun en sy vrou aanvaar my onvoorwaardelik en ek is sommer nou ʼn ouma ook.”

Oor die lewe by Ons Tuis antwoord Antoinette: “Ek het nou vrede in my lewe. Dis rustig, of ons sit en gesels of sommer net die stilte geniet. Genesing is ongelooflik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.