Die wêreldwye reisverbod en ons landsgrense wat gesluit is, het rampspoedige gevolge op die plaaslike toerismebedryf gehad met talle instansies wat hul deure moes sluit.
Daarom het Ferdinand Rabie van Big Brother South Africa-faam en ʼn span kundiges in die bedryf die Legend Runner Uphill Challenge-veldwedloop in die hartjie van die Paarl in die Wes-Kaap van stapel gestuur ter bewusmaking van die spartelende toerismebedryf.
Deelnemers aan dié veldwedloop kom te staan voor ʼn strawwe staproete van 8,5 km tot by die Paarl-rots en sal dan weer afwaarts voetslaan na die Taalmonument, waar die roete eindig. Daar is ook ʼn korter roete van 4 km.
Rabie, wat self sedert 1995 in die toerismebedryf werk en die sakeonderneming Ferdinand’s Tours and Adventures bestuur, sê die idee vir die veldwedloop het by hom posgevat toe hy die Paarl-rots besoek het.
“Dit is my hartsplek, waar ʼn mens die mooiste uitsig het oor Stellenbosch, Franschhoek en die Paarlvallei, en iets het op my hart gedruk om in te gryp vir die mense in ons bedryf wat vergete is sedert die pandemie begin het.
“Sowat 70% van ons bedryf is bankrot,” skets Rabie die donker prentjie waarin ʼn eens florerende bedryf hom nou bevind.
“Daar is mense wat alles verloor het en hulle skreeu om hulp. Ek het besef dat ons as ʼn bedryf sal moet saamstaan om te red wat daar te redde is. Dit is tyd om nederig en sorgsaam te wees en om meer as ooit tevore saam te werk.”
ʼn Aantal diensverskaffers sal ook teenwoordig wees om hulle dienste ten toon te stel en om winskopies aan te bied.
“Ons doel is dat hierdie unieke gebeurtenis ʼn jaarlikse instelling word op die kalender van toerisme, kultuur en sport in Suid-Afrika. Vanjaar plant ons net die saadjie.”
Die veldwedloopgeleentheid sal regstreeks deur Digi TV uitgesaai word. Die Vrydagaand se verrigtinge, waartydens die diensverskaffers die geleentheid sal kry om regstreeks hulle stories te vertel, sal ook uitgesaai word.
ʼn Reeks groot name in die bedryf, insluitend die president van die SA Events Council, Tes Proos, sal ook aan die woord wees tydens die geleentheid.
Die Legend Runner Uphill Challenge vind op Saterdag 20 Maart plaas. Bespreek plek vir die wedloop teen die volgende tariewe:
Uphill Challenge:
Volwassenes: R300 per persoon
Onder 18s: R200 per persoon
4 km Pretstap: R150 per persoon
Inskrywings by die hek:
Volwassenes: R330 per persoon
Onder 18s: R230 per persoon
4 km Pretstap: R180 per persoon
Die veldwedloop is nie geskik vir kinders onder die ouderdom van 12 nie.
Klik hier om in te skryf.