Paartjie gaan van ‘Koer’ tot kansel

René Venter en Jan Bester. (Foto: Verskaf)

Nadat sy jare lank teen aanlyn hofmakery vasgeskop het, het René Venter van Kaapstad beslis nie verwag om eendag haar trouman op ʼn pasmaatapp raak te swiep nie.

Veral nie ʼn man wat 204 km van haar af woon nie.

“Ek het nooit in hierdie apps geglo nie, ek het vasgesteek as iemand dit voorgestel het en net gesê ek sal liewer enkellopend bly. Ek wou iemand in die kerk of by ʼn kuier ontmoet, toe ‘Koer’ ek hom wraggies raak, ” vertel René (35), ʼn virtuele assistent van Kaapstad, aan Maroela Media.

Sy en haar verloofde, Jan Bester, het op Koer –  ʼn app wat vir Afrikaanssprekendes die geleentheid bied om in hul moedertaal vlerk te sleep – ontmoet.

Dié app is deur die akteur Armand Aucamp saam met die ontwerper Dewald van Zyl, kopieskrywer Marteni Burger en tegniese ontwikkelaar Jacques Engelbrecht ontwikkel en spog reeds met meer as 170 000 gebruikers wat aanlyn kan “koer” of “koes” om liefde te vind.

René en Jan vertel dat hulle albei voorheen soortgelyke apps sonder sukses probeer het, maar met ʼn bietjie aanmoediging tog besluit om die sogenaamde “Koerwoud” in te vaar.

Die liefde het nie vir een van hulle dadelik kom klop nie.

“My een vriendin vergelyk liefde vind op ʼn maatsoekapp met pannekoek bak. Die eerste enetjie is maar altyd ʼn flop, daarom moet jy aanhou probeer,” sê sy tergend.

Jan erken dat hy ook eers vir ʼn paar vroue moes “koes” voor hy sy toekomstige vrou raak gekoer het. Hy werk tans as bestuurder vir ʼn toerustinghuur-agentskap in Agulhas en het toevallig 5 km van René in Kaapstad af gewoon kort voordat die tweetjies in November 2020 aanlyn ontmoet het.

René terg dat sy “treffende” openingsboodskap net “hi” was, maar dat sy oulike foto’s en beskrywing op die app haar aandag getrek het.

Afstand was nie vir dié Koer-duifies ‘n probleem nie. (Foto: Verskaf)

“Ons het gemaklik sonder fieterjasies gesels en baie van dieselfde waardes en belangstellings gedeel. Ons al twee was op daardie ouderdom waar jy nie meer speletjies wil speel nie en weet wat jy wil hê,” sê Jan.

Weens die 204 km afstand tussen Kaapstad en Agulhas het hulle ses maande lank gesels voordat hulle op ʼn eerste afspraak gegaan het.

“Ons het besluit om mekaar in die middel te ontmoet en ʼn dag saam in Hermanus te spandeer,” vertel René.

Sy het selfs vir Jan McDonald’s saamgebring op hul eerste afspraak, ʼn bederfie wat skaars vir dié plattelandse man was.

ʼn Dag se wynproe en kuier langs die see het blitsig oorgegaan in maandelikse heen-en-keer-kuiers tussen dié koerduifies te tuistes gelei.

“Jan is so oplettend en vra uit oor alles,” meen René.

Jan sê sy toekomstige vrou se avontuurlustigheid en mooie glimlag het dadelik sy hart gesteel. Sy oplettendheid en omgee is volgens René nou weer eienskappe wat haar hart warm laat klop.

Die paartjie glo kommunikasie is kernbelangrik. (Foto: Verskaf)

“Kommunikasie is ook kernbelangrik, veral as ʼn mens so ver uit mekaar bly. Ek dink baie paartjies praat en lewe so maklik verby mekaar deesdae,” voeg hy by.

Die koeël was vinnig deur die kerk, maar Jan – wat ʼn enigste kind is – vertel hy moes in Junie 2021 eers René se vier ander sibbe se sogenaamde “vuurdoop” oorleef voordat dinge té ernstig geraak het.

“Dit is nou al ʼn gewoonte vir my familie om altyd die nuwe kêrel of meisie by die eerste kuier te kruisondervra. Ek dink dit was nog erger in my geval omdat ek my lewe lank enkellopend was, maar hy kon gelukkig sy man staan,” vertel René laggend.

In September 2022 het Jan die jawoord tydens ʼn romantiese ete by die Agulhas Country Lodge gevra en in September vanjaar gaan hulle die volgende hoofstuk van hul liefdesverhaal voor die kansel begin.

Daarna gaan René by Jan in Agulhas aansluit.

Die paartjie en Koer-stigter, Armand Aucamp. (Foto: Verskaf)

“Een van die eerste goed wat Jan vir my gevra het, is wat dit gaan verg vir my om na ʼn klein dorpie toe te trek, toe ek sê ek net goeie Wi-Fi, ʼn skottelgoedwasser en liefde,” vertel René skertsend.

Jan erken van sy plattelandse vriende het aanvanklik kop gekrap oor sy keuse om Koer te gebruik, maar die paartjie het selfs van hulle enkellopende vriende gehelp om liefde daarop te vind.

“Daar is nog by party mense ʼn stigma rondom maatsoekapps, maar mense moet net oopkop daaroor wees en besef dit gaan die norm raak, veral vir mense wat op ver geleë plekke woon. As ons nie oopkop was nie, sou ons nie nou hier gewees het nie.”

Om so ʼn rol in iemand se liefdesverhaal te speel is volgens Koer-medestigter Armand Aucamp die grootste riem onder sy span se hart.

“Ons kry maklik weekliks tussen vyf en tien boodskappe van mense wat vertel dat hulle of iemand wat hulle ken liefde op Koer gevind het. Ons wag nog wel vir ons eerste Koer-kuiken,” terg hy.

Koer spog ook al met ʼn nuwe, opgedateerde weergawe met bykomende funksies en plaas geweldige klem op veiligheid. Daarom word die platform gedurig gefynkam om skelmstreke uit te wis en vlerksleep veilig te hou.

Armand Aucamp. (Foto: Verskaf)

“Van die begin af was een van ons hoofuitgangspunte om vir mense ʼn veilige aanlyn ruimte te skep. Ons het onsself gevra of ons gemaklik sou voel as een van ons eie vriende of familie op Koer is en as die antwoord nee was dan moes ons harder werk.”

Armand sê hy verstaan ook party se huiwering om die wêreld van aanlyn hofmakery te betree, maar herinner gebruikers dat almal op Koer in dieselde bootjie is en daarom nie skaam hoef te voel nie.

“Die feit iemand soos René, wat nooit voorheen in ʼn verhouding was nie, se eerste liefdeservaring deur Koer gebeur het en boonop so positief was dat sy haar trouman ontmoet het, is vir my so mooi getuienis van die moontlikhede wat Koer vir gebruikers kan inhou.”

“Hierdie is ʼn gratis platform wat boonop in Afrikaansprekendes se moedertaal beskikbaar is.

Armand se top Koer-wenke:

  • Gebruik goedbeligte foto’s waar jy glimlag.
  • Moenie foto’s te veel verbloem nie, mense sien daardeur.
  • As jy skaam is om alleen op ʼn foto te wees, deel een waar jy saam met vriende is.
  • Vermy ʼn skuilnaam, dit lyk verdag as iemand nie bereid is om sy of haar eie naam te gebruik nie.
  • Gooi die net ʼn bietjie wyer as net jou eie woonbuurt. “Ons heel eerste paartjie wat verloof geraak het, het op verskillende vastelande gewoon toe hulle aanlyn ontmoet het. Liefde is oral te vind!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janie ·

Ek gun enige iemand liefde wat dit waardeer en dit teruggee. Dis al wat mens nodig het in die lewe. Liefde en aanvaarding. En ek glo elke pot het sy deksel. Dis net jammer dat party mense se deksels nooit gevind word nie. Ek is so baie bly vir julle twee. Ek glo en hoop en vertrou dat julle saam sal oud word en mekaar altyd sal liefhe en respekteer. Lank lewe die liefde…xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.