Paasrit na Orania om ‘boodskap oor Jesus te bring’

Die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub het Saterdag in samewerking met Orania Helpmekaar en Orania-werk-en-welstand 3 000 paaseiers aan onder andere behoeftige kinders, ouetehuise en sorgsentrums in dié dorp uitgedeel.

Meer as 50 mense het die langpad van Gauteng na dié Noord-Kaapse dorp op hul ysterperde aangedurf, terwyl enkele mense ook van Christiana in Noordwes gereis het.

Verskeie aktiwiteite soos boeresport is vir kinders en gesinne in Kleingeluk aangebied terwyl serpe aan bejaarde inwoners van onder meer die Karoosig-aftreeoord geskenk is. Geld is ook vir Orania Helpmekaar se hulpfonds ingesamel.

Johan Böning, president van die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub, sê hoewel die organisasies Paasfees met verskeie prettige aktiwiteite gevier het, was die hoofdoel om die boodskap van Jesus te verkondig en inwoners geestelik op te hef.

“Die paaseiers en -haas is maar tot ʼn mate deel van die Afrikaners se kultuur. Ons het dit egter ʼn geestelike karakter gegee,” vertel Böning.

Böning sê die projek was uiters geseënd en dat dit ’n voorreg was om Jesus se opstanding op dié manier saam met die inwoners van Orania te vier.

Die motorfietsklub het verlede jaar ʼn soortgelyke projek in die Jakarandastad aangepak.

Meer as 100 motorfietse het tydens dié geleentheid saamgespan om sowat 70 km af te lê om by tien instellings, waaronder Brooklyn Care en die sogenaamde “Danville-tannies” soos die motorfietsklub met respek na hulle verwys, in die stad te gaan draai met die Paasboodskap van Johannes 3:16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

 

Yolandi Roets het dié skildery gemaak waarop kinders ook handafdrukke kon maak. DIe skildery is opgeveil en die opbrengs aan ’n hulpfonds geskenk. (Foto: Verskaf)

 

Meer as 3 000 paaseiers is aan kinders en bejaardes op die dorp uitgedeel. (Foto: verskaf)

 

Meer as 3 000 paaseiers is aan kinders en bejaardes op die dorp uitgedeel. (Foto: verskaf)

 

Verskeie aktiwiteite soos boeresport is vir kinders in Kleingeluk aangebied. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.