‘Pad van liefde’ – vroue oor tog Kaap toe

Die brawe vroue wat die pad Kaap toe te voet aangedurf het (Foto: verskaf)

Met ʼn waentjie vol hartvormige klippies wat langs die pad opgetel is, het sewe formidabele vroue op 18 Februarie hul drie week lange staptog van Pretoria tot die Kaap voltooi.

Die projek is deur die niewinsgewende organisasie Dynamic Women for Children (DWFC) van stapel gestuur en het beoog om onder die vaandel van Cape2Care geld in te samel.

Michelle van Biljon, maatskaplike werker en een van die vroue aan die stuur van DWFC, het vroeër aan Maroela Media gesê die vroue pak die staptog aan om 50 kinders in die Kameelfontein- en Kameeldrift-omgewing te versorg.

“Ek kan dit nog nie lekker begryp nie, ek kan nie glo ons het al die pad Kaap toe gestap nie,” het Van Biljon gesê.

Die vroue het kennis gemaak met van die vriendelikste en mees gasvrye kleindorpie-bewoners oor die hele land.

“Ons is vriendelik verwelkom in elke dorpie waar ons aangekom het.”

Victoria-Wes het veral uitgestaan in die moeite wat vir die stappers gedoen is.

Hulle is met die intrapslag met ʼn reusegejuig in dié dorpie verwelkom.

“Hulle het koek- en worsrolverkopings gehou om geld in te samel. Hulle het daarmee R10 000 aan ons organisasie geskenk.”

Plaaslike laerskoolkinders en bejaardes het om en by 50 km van daardie dag se 80 km saamgestap.

“Daar is tot met ʼn braaier agter op ʼn bakkie agter ons gery om seker te maak dat ons middagete het.”

Die vroue het ʼn paar struikelblokke langs die pad ook raakgeloop.

“Die eerste week was baie erg gewees. Ons het vooraf geoefen en was lekker fiks, maar daar is ʼn paar dinge wat ons nie voorsien het nie.”

Een van die struikelblokke was ongelooflike warm teer wat veroorsaak het dat die vroue blase op die sole van hul voete ontwikkel het.

“ʼn Paramedikus het in een van die dorpe na die blase kom kyk. Een van die vroue moes die stappery twee dae lank uitsit om te voorkom dat sy gangreen in haar voete kry.”

Van Biljon het self aan die einde van die staptog met ʼn blaasinfeksie gestoei.

Die vroue het egter positief gebly.

“Ek kan nou nog nie lekker verstaan waarom ons energiek gebly het nie. Ek het verwag dat ons fisiek en geestelik uitgeput sou wees, maar dit het nie regtig gebeur nie. Daar was nie een dag wat ons gevoel het dat ons nie meer kan nie.

“Ons het elke oggend nuwe moed en krag gehad, dit was definitief van die Here af.”

Een van die onverwagse hoogtepunte wat die vroue ervaar het, is die liefde en omgee van hul ondersteuners.

“Die lede van die publiek het ons gedra. Elke stukkie kommentaar op Facebook, elke boodskap. Ons sou dit nie sonder hulle kon doen nie.”

Die groep het egter nog nie die finansiële doelwit bereik soos wat hulle beoog het nie.

“Ons het om en by R300 000 ingesamel. Dis baie geld, maar dis ver van die R5 miljoen wat ons in gedagte gehad het.”

Van Biljon voel egter dat daar ʼn groter, onbeplande doelwit deur die tog bereik is.

“Die Here het ʼn ander plan gehad. Ons het soveel mense geïnspireer. Ek dink nie ons besef hoe ʼn groot uitwerking ons op mense gehad het nie.”

Daar is nou nog ondersteuners wat na die groep toe uitreik.

“Ons sal dit definitief weer wil doen. Dit was ʼn ongelooflike geestelike en fisieke reis gewees.”

  • Vir meer inligting oor DWFC, besoek gerus die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

quartus ·

Wel gedaan dames !! Ek was skepties dat julle dit sou kon doen maar ek sluk nou my woorde

SlinkseKoljander ·

Baie geluk, dit lyk of julle bietjie gewig verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.