Paddas vertel van ʼn siek wêreld

Tafelbergspookpadda.

Barbara Potgieter

Olifantgetalle het in Afrika met ʼn derde afgeneem, swartrenosters word kritiek bedreig. Bye is onder druk, donkies se velle word uitgevoer om medisyne te maak. Maar die mees bedreigde van alle vertebrate in die wêreld is die nederige padda.

Die paddabevolking is dikwels ʼn aanduiding van ʼn gesonde of siek ekosisteem en speel ʼn onmisbare rol in die voorsiening van belangrike inligting oor die toestand van die omgewing.

Die paddabevolking oor die hele wêreld neem al geruime tyd geleidelik af en dit vertel vir ons net een ding: die aarde is in die moeilikheid!

Binne slegs twee dekades het spesies wat voorheen volop was, soos die Australiese Corroboree-padda, ʼn kritiek bedreigde spesie geword, terwyl ander spesies heeltemal uitgesterf het. Byna ʼn vyfde van Suid-Afrika se paddaspesies word bedreig, sommige tot die punt van algehele uitsterwing.

Misband mospadda. Foto’s: Vincent Carruthers.

Twee van die vier kritiek bedreigde spesies kom in die Kaapse Skiereiland voor. Hulle is die Tafelberg-spookpadda, wat in slegs vier stroompies op Tafelberg te vinde is, en die mikropadda, wie se enigste oorblywende bevolking op die Kaapse Vlakte is, en wel in die inheemse plantegroei binnekant die Kenilworth-renbaan.

Die ander twee kritiek bedreigde paddaspesies is Hewitt se spookpadda wat net voorkom in die Elandsberg in die Oos-Kaap, en die misband-mospadda, wat beperk is tot die oostelike platorand van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Albei spesies se blyplek word bedreig deur kommersiële bosbou- en uitheemse indringerplantegroei.

Hoekom hulle verdwyn

Paddas verdwyn veral deur die verwydering en fragmentasie van hulle habitat, onder meer weens ontbossing, landboubedrywighede en vergiftiging van waterbronne deur fabrieksafval, verstedeliking en klimaatsverandering. Hulle haal asem deur die vel en is glad nie bestand teen besoedelde riviere nie. Die teenwoordigheid van paddas, al dan nie, is ʼn toets of water giftig is. So word paddas beskou as die  barometer van die natuur.

Paddas is al 370 miljoen jaar op die aarde, en as spesie baie, baie ouer as die dinosourusse en ongelukkig het daar die afgelope paar dekades sowat 150 spesies weens mense se toedoen uitgesterf.

Klimaatsverandering

Klimaatsverandering speel ook ʼn groot rol in die verdwyning van die padda. Klimaatsverandering veroorsaak dat biome verskuif en so verloor paddas hulle woongebied. Ekstreme hitte of koue het ook ʼn direkte uitwerking op paddas en kan tot hulle dood lei. In Wes-Australië neem die paddas se getalle af weens die verminderende reënval; in Suid-Afrika kan paddas ook vrek, want padda-eiers het ʼn klam omgewing nodig. Hulle eiers is jellieagtig, anders as bv. voëleiers.

As veenlande uitdroog, vernietig dit die habitat van onder meer paddas. By die Moloporivier naby Mahikeng is veenlande wat minstens 6 000 jaar oud is grootliks vernietig deur die water te onttrek vir menslike gebruik. Indringervisse soos die barbel wat in riviere geplaas word, bedreig hulle voortbestaan.

Siektes

Paddas word ook deur fungi aangeval soos die Cytrid en selfs paddavissies kry ʼn platwurm-infeksie, Ribeirola, wat lei tot misvorming en veelvuldige bene.

Help die mens

Dit is nie net lede van die voedselketting wat daaronder ly as paddas verdwyn nie. In Kenia waar onder meer ontbossing die paddagetalle beïnvloed, lei dit tot siektes soos malaria en denguekoors. Paddavissies en alge hou riviere en poeletjies water skoon. Paddas verorber groot hoeveelhede lastige insekte en op hulle beurt is hulle voedsel vir ander diere. Geen Suid-Afrikaanse padda is giftig nie. Elke soort het sy eie roep, het ʼn uitsonderlike velkleur en vorm en is ʼn onontbeerlike skakel in die ekologiese ketting.

BIBLIOGRAFIE:
Animal Demography Unit 2017: Department of Biological Sciences, University of Cape Town.
Carruthers V & De Villiers, L: Frogs & Frogging in South Africa 2011, Struik.
Independant media IOL Endangered Wildlife Trust: www.facebook.com/KZNHerpConservation\SA species.
Minter, LR (PhD). Frogs and Climate change in South Africa, artikel in: Current Allergy & Clinical Immunology, Junie 2011, vol 24, no 2.
Pillay, K. Daily News,17/9/2015. Endangered frogs crucial to health of our natural environment.
Hymans, Joubert: Amietophrynus gutturalis
Kouevuur.wordpress.com

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

A ·

Ek wonder wat gaan oorbly van die diere en of die mense enigsins besef wat hy doen. Ek voel moedeloos as ek net kyk hoe lyk dit waar ek bly. Jy kan papiere optel soveel jy wil – mense gee werklik regtig net nie om nie.

Ek vermoed ons nalatenskap vir ons kinders gaan gasmaskers wees in ‘n dorre en droë landskap omdat ons nie ons rentmeesterskap behoorlik uitoefen nie.

Denise ·

Ai dit is hartseer die mens is sy eie ondergang tragies!!!!! T veel mense en so word die diereryk beroof van hul blyplek!!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.