‘Padkampstories’ herinner aan inryteaters, asbeshuisies

Amanda Greff by haar pa se Ford Zephyr (Foto: Verskaf)

Padkampstories deur Amanda Greeff vertel die verhaal van ʼn klein dogtertjie wat in die 1970’s in ʼn asbeshuisie grootword. Dit laat ʼn mens met heimwee terugdink aan die tyd van Dippety-Do en Vitalis, vis-en-tjips-kafee-etes, Chappies, Wilson-toffies, niekerbôls, inryteaters en die padkampkultuur in Suid-Afrika.

Greeff, wat self in ʼn padkamp grootgeword het, se verhale herleef in ʼn splinternuwe Sondagmiddagprogram wat een keer per maand gratis op Afrikaans.com se webwerf en Facebook-blad uitgesaai word. Padkampstories is deur Cordis Trust Publikasies uitgegee en word deur Johan Allers voorgelees.

Allers sê Greeff se stories is in vele opsigte ʼn spieëlbeeld van “wie ons is en waar (baie van) ons vandaan kom”.

Padkampstories is ʼn unieke stuk kultuurgeskiedenis waarin ons onsself, in die gewone daaglikse individuele en volkseie bestaan en karakter, maklik herken,” meen hy. “Dit bevat die kosbaarheid van klein dingetjies wat ons identiteit omvat.”

Allers het voorheen in 54 lande as buitelandse korrespondent vir die SAUK gewerk. Sy laaste werk vir Suid-Afrikaanse produksies was 20 jaar gelede met Trippe Trappe Trone wat hy saam met Amanda Strydom vir kykNet gedoen het en daarna ʼn kort reisprogram, Veertig Dae deur die Delta, saam met Valiant Swart deur die suide van Amerika.

Johan Allers lees Amanda Greeff se ‘Padkampstories’ voor. (Foto: Verskaf)

Volgens Allers is taal dié oorlewingsinstrument en daarom behoort elke taalspreker saam vir die behoud van Afrikaans te veg. Vir Allers beteken dit om in sy moedertaal te skep.

“Wanneer ʼn mens kyk na Afrikaans se stryd om oorlewing en die regering se versuim om moedertaal te bevorder, besef jy dit is nou belangriker as ooit om in Afrikaans te skep. Dit is daarom vir my ʼn intense begeerte om, selfs ná 30 jaar in Europa, podsendings in Afrikaans, my moedertaal en die kern van my identiteit, te vervaardig. Elke woord tel.”

Nicolette van Schalkwyk, webredakteur van Afrikaans.com, sê die waarde van ʼn projek soos hierdie lê in die vertellings.

“Storievertel is so ʼn belangrike deel van enige taal en kultuur en is dikwels die manier waarop ervarings op ʼn kreatiewe manier aan ander sprekers van ʼn taal oorgedra word.”

Van Schalkwyk sê verder dat oud en jonk hierby aanklank sal vind.

“Die vindingryke beelde wat deur Greeff se skryfwerk geskep word en Ahlers se boeiende vertelling maak van Padkampstories ʼn reeks wat oud en jonk sal geniet.”

  • Klik hier om na die eerste episode van Padkampstories op Afrikaans.com se webwerf te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.