Pak jou tas vir ‘n groen vakansie

Groen, oftewel ekogunstige, vakansies is die jongste gier en dit is tyd dat jy op dié wa klim en sodoende jou deel vir die omgewing doen. LekkeSlaap spog met verskeie blyplekke wat ekovriendelike beginsels handhaaf:

earth-1389720_1920

Go Green is ’n groen onderneming in Seepunt wat slegs omgewingsvriendelike skoonmaakprodukte gebruik en oor sonkragpanele beskik. Daar is spesiale wasbakke wat die spoeltoilette vul en hulle herwin glas, plastiek, papier en blik. Hulle gebruik ook slegs energiebesparende gloeilampe.

Black Leopard Camp in Lydenburg is trots selfvolhoubaar, genereer hul eie elektrisiteit en water en sorg ook vir hul eie vullisverwydering. Hulle het ook ’n kragopwekker wat net sekere tye loop indien jy jou haardroër moet gebruik. Hiér kan jy ’n ware bos-ervaring geniet.

hotel-verde

Hotel Verde.

Kaapstad se lughawe-hotel, Hotel Verde, spog met die titel van Afrika se “groenste” hotel ─ luukse akkommodasie sonder ’n koolstofvoetspoor! Die grootste ekotreffer van hierdie hotel is die gimnasium wat ingerig is met splinternuwe gimnasiumtoerusting wat krag opwek as jy dit gebruik. ’n Gesonde liggaam gereed vir ’n gesonde planeet!

Mashovhela Bush Lodge in Limpopo het lieflike grasdak-chalets wat lyk soos tradisionele Venda-hutte. Die lodge is bekroon met die Gold Leaf-toekenning vir sy ekovriendelike beginsels en volhoubare energieverbruik. Die lodge werk slegs met sonkrag en daar is ’n unieke hangmat-kamp waar jy onder die pragtige sterrehemel kan slaap.

karoo

Karoo Eco Reserve.

Karoo Eco Reserve is slegs 46 km van Graaff-Reinet af en bied omgewingsvriendelike vakansies in die lieflike Karoo. Hier word sonkrag gebruik en die stowe, yskaste en geisers werk met gas.

By Platbos Forest in die Overberg geniet gaste ’n unieke eko-ervaring. Die akkommodasie by Platbos straal respek vir moeder natuur uit. Platbos gebruik slegs sonkrag. Die warmwatertenk werk met ’n “donkie” en jy kan hier met gas kook. Daar is ook ’n unieke waterlose kompostoilet – nié jou gewone “long drop” nie!

Daar is ook ’n unieke waterlose kompostoilet – nié jou gewone “long drop” nie!

tentetoe

TenteToe.

TenteToe in Parys is op ’n 100 ha-wildplaas geleë en gebruik net sonkrag en batterylampe. “Donkies” word gebruik vir warm water en die kombuise beskik elk oor ’n gasstoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Dis sommer goeie nuus!! Selfs die voetslaanroetes is nou so modern en met alle geriewe toegerus dat mens wegbly. Mens wil tog wegkom van die alledaagse en die primitiewe beleef. Dit gaan gewoonlik gepaard met ‘n nader wees aan die natuur en jou Skepper. Nou se dae gaan dit egter vir diegene wat maak asof hulle die natuur wil beleef maar eintlik nie deel daarvan is. Weg met die yskaste, gasstowe, beddens (daar kan op die vloer geslaap word met jou eie matrassie wat jy saamdra). Maak self vuur onder daardie donkie (drom met water gevul). Dit laat my dink aan die Argentyn wat ek op ‘n staproete ontmoet het en wat al 24 jaar in SA woonagtig was. Ons sê aan hom “For warm water we are going to stoke the donkey”. Sy reaksie: “You are going to stoke the donkey for warm water? Really, this is something that I must see!!”. Groot was sy verbasing dat hy na 24 jaar in SA uitgevind het wat ons bedoel met ‘n donkie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.