Pak nou reg vir ’n goeie doel

Helpende Hand se Ons Winkel in Secunda. (Foto: Verskaf.)

Met die nasionale staat van algehele afsondering wat nou sy tweede week weens die nuwe koronavirus (Covid-19) ingaan, word die publiek aangemoedig om in hul kaste in te vaar as die regpakgogga hulle beetgekry het en hulle gesond voel.

“Die publiek kan nou die ledige ure tydens die afsondering gebruik om hul kaste reg te pak en van alle ou klere en oortollige huis- en motorhuisware ontslae raak. Dié goed kan dan vir liefdadigheid geskenk word. Hierdeur kan jy in ’n moeilike tyd ’n goeie taak verrig waarby nie net jou huishouding sal baat nie, maar wat ook ’n verskil in ’n behoeftige mens se lewe kan maak.

“Jy kan boonop ook die kans staan om ’n geskenkbewys van R1 500 te wen om nuwe klere op die trots-Afrikaanse onderneming Klerekas.com te koop,” sê René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie.

Roux verduidelik Helpende Hand het pas hande geneem met Klerekas.com om saam ’n veldtog van stapel te stuur om iets positiefs en vir liefdadigheid gedurende die Covid-19-pandemie te doen.

“Die idee is om die publiek te vra dat indien hulle gedurende die afsonderingstydperk besluit om klerekaste reg te pak, hulle asseblief die klere eenkant moet bewaar en ná die afsondering aan hul naaste Helpende Hand se welsynswinkels, genaamd Ons Winkels, te skenk. Daar kan ook ná die afsondering met die onderskeie Ons Winkels gereël word dat die klere en huisware by die inwoners se huise opgelaai word,” voeg sy by.

Helpende Hand het tans meer as 60 Ons Winkels landwyd. Met ’n heenkome vir alles wat in die pad staan, maak dié winkels dit vir die publiek maklik om aan die werk te spring en weer orde in hul kaste te skep.

Roux verduidelik die doel van Ons Winkels is om skenkings uit die gemeenskap in te neem.

“Behoeftige mense wat kwalifiseer, word met dié skenkings gehelp en die res van die voorraad word verkoop. Die geld wat met die verkope van dié tweedehandse ware ontvang word, word gebruik vir gemeenskapsprojekte en ook vir studiefondse vir behoeftige studente.”

Klere, kombuisware, speelgoed, elektriese toerusting, meubels en linne kan na die Ons Winkels geneem word. Besoek onswinkel.co.za om die winkel die naaste aan jou op te spoor.

Wen:

Klerekas.com gee aan een gelukkige wenner ’n geskenkbewys van R1 500 om op Klerekas.com te spandeer. Die kompetisie eindig die dag as die afsondering gelig word. Om in aanmerking te kom, gaan na Facebook en klik op die like-knoppie van Helpende Hand en Klerekas.com. Deel dan die plasing van die kompetisie en tag drie van jou vriende in die kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Daar is n winkel gelukkig na by my(Hercules Van der hoff straat) so ek vat gereeld bruikbare goed na hulle toe, en ek snuffle altyd deur hulle boeke ek het al die mooiste storieboeke daar gekoop, spot goedkoop.

Mieke ·

Daar is baie mamma’s met jong kinders of met net een kind wat nog nie wintersklere kon koop nie voordat die lockdown ingestel is. Ek hoop die regering gaan dit moontlik maak dat kinders genoeg warm klere kan kry of koop. Ek praat nie van die minder bevoorregtes nie – en ook nie met my traak-my-nie-agtige houding nie. Ek praat van die werkende klas mammas! Mens moet hulle ook in gedagte hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.