Nadat Hugo le Roux se yslike wenpampoen verlede jaar die skaal op 556 kg laat kreun het, maak meer as 50 ander “bobaas-pampoenkwekers” vanjaar wéér gereed om dié landwye rekord die stryd aan te sê.
Le Roux is verlede jaar tydens die Goliat-van-Gat-pampoenfees in Silverton in Pretoria as Suid-Afrika se pampoenkoning aangewys. Dit was die derde agtereenvolgende keer dat hy dié kompetisie gewen het – en dít nadat sy eerste pampoen maar ʼn skrapse 80 kg geweeg het.
Pampoenkwekers maak egter nou weer reg om hul pampoene vir die agtste Giant Pumpkin Festival in Heidelberg in die Wes-Kaap in te skryf.
Corné van Greunen was verlede jaar die wenner van dié kompetisie met sý bielie van ʼn pampoen wat 519,5 kg geweeg het.
Suid-Afrikaners kon egter nog nie naby aan die wêreldrekord vir die grootste pampoen kom nie. Mathias Willemijns van België het in 2016 ʼn allemintige pampoen van 1 190,5 kg gekweek – ʼn pampoen wat tot vandag die wêreldrekord behou.
“As jou pampoen het wat dit verg om deel te neem, kan jy nog tot op 24 Maart inskryf en sodoende ʼn kans staan om ʼn deel van R35 000 te wen. Addisionele prysgeld sal ook gegee word aan die kweker wat ʼn nuwe Suid-Afrikaanse of wêreldrekord stel,” lui ʼn verklaring van die organiseerders.
Die Giant Pumpkin Festival het onder meer ook stalletjies, 4X4-ritte en musiek. Al die geld wat by die fees gemaak word, sal in Heidelberg teruggeploeg word.
Vir meer inligting en inskrywingsvorms, besoek die Giant Pumpkin Festival-webwerf.
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Corné van Greunen se wenpampoen (Foto: Verskaf)
- Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Wat maak mens met so ‘n pampoen as die kompetisie verby is ?
Hoe kan le Roux en van Greunen verlede jaar se wenners wees. Een moet mos n naaswenner wees. Maroela verduidelik asb.
soos ek die artikel verstaan, Le Roux was die streek wenner van PTA en Van Greunen die streek wenner van die Wes Kaap. en Le Roux was toe aangewys as die kampioen van SA.
Bielie van n pampoen
Waar kry mens hulle se pitte?