Op die Paralimpiese Spele wat van 7 tot 18 September in Rio de Janeiro aangebied word, is vanjaar vir die eerste keer spesiaal-ontwerpte medaljes aan gesiggestremde wenners gegee sodat dié atlete dié medaljes kan hoor.
Foto’s wat die amptelike Facebook-blad van die Olimpiese Spele Dinsdag gedeel het van Paralimpiese atlete na hul medaljes luister, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en die organisasie is wyd en syd geloof vir dié inisiatief.
Die medaljes, wat aan die binnekant met staalballetjies gevul is, maak ʼn geluid wanneer dit geskud word.
Atlete kan egter ook onderskei tussen die soorte medaljes wat aan hulle toegeken word. Die bronsmedaljes het 16 staalballetjies, die silwer 20 en die goud het 28 staalballetjies.
Die woorde “Rio 2016 Paralimpiese Spele” is ook in braille op die medaljes geskryf.
Die foto’s van die atlete is al meer as 98 000 keer ge-“like” en meer as 15 000 keer op sosiale media gedeel.
Vir meer inligting oor die Paralimpiese Spele, besoek hul Facebook-blad.
Baie baie baie mooi.
Maroela Media, let asb. net daarop dat blindes en/of mense met sig probleme nie GESIGgestremdes is nie, maart SIGgestremdes. Daar is niks met hul gesigte verkeerd nie, net met hul vermoë om te kan sien, m.a.w. met hul SIG.
Dagsê Karma
Dankie vir jou terugvoer. “Siggestremd” en “gesiggestremd” word albei erken vir persone wat nie goed kan sien nie, of blind is.
Verwys gerus ook na die “Pionierskool vir Gesiggestremdes” en “Prinshofskool vir Gesiggestremdes”.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Dis nou ‘n briljante idee.
Dis wonderlik!!