Paralimpiese swemmer oor gidshond: ‘Sy het my lewe verander’

Cornelle Leach en haar gidshond, Vogue. (Foto: Verskaf)

Toe sy vir die derde keer deur ʼn fiets op kampus raakgery word omdat haar sig só verswak het dat sy nie die fietsryers meer kon sien aankom nie, het sy besef die tyd het uiteindelik aangebreek om ʼn gidshond aan te skaf.

Só vertel Cornelle Leach, ʼn 21-jarige BCom Toerisme-student aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom en Paralimpiese swemmer, wat in 2008 op negejarige ouderdom met Stargardt se makulêre degenerasie gediagnoseer is.

Dié degeneratiewe oogtoestand behels dat die selle van die oog nie hergenereer nie en die lyer se sig dan stelselmatig verswak. Hoewel sy nie heeltemal blind is nie en haar eerste jaar op kampus sonder hulp aangedurf het, het sy later begin sukkel om trappies, klippe en ongelykhede in die pad raak te sien.

“Ek kan uiteraard nie bestuur nie en het baie angstig begin raak om rond te loop. Dit het my sosiale lewe geraak, want ek wou nie uitgaan nie omdat ek heeltyd in mense vasgeloop en fietse teen my vasgery het,” vertel Leach.

“Ná die derde keer het ek besluit genoeg is genoeg – ek wou ʼn hond kry wat my kan help oriënteer en vir ander mense ʼn aanduiding kan gee dat ek visueel gestremd is.”

Sy het in September 2018 aansoek gedoen om ʼn hond by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging en ses maande later het Vogue haarself pens en pootjies tuisgemaak as Leach se viervoetige regterhand.

Leach, wat eers op Lydenburg en later in Pretoria haar skoolloopbaan voltooi het, vertel Vogue het haar lewe onherroeplik verander. Dié driejarige, pikswart Labrador het haar gehelp om haar lewe op kampus makliker en beter te navigeer, sê sy.

Cornelle Leach en Vogue. (Foto: Verskaf)

“Vogue het my sosiale lewe teruggebring. Ek kan nie mense herken nie, so dit is vir my moeilik om na iemand toe te stap en hulle te groet en die volgende keer weer te herken. Mense het altyd gedink ek is vreeslik ongeskik as ek die volgende dag verbystap en nie groet nie, maar Vogue dui nou vir hulle aan dat ek nie kan sien nie, so nou kom groet hulle my.”

Leach is met normale sig gebore en het tot in graad drie ʼn gewone hoofstroomskool bygewoon, totdat haar onderwysers en ouers besef het haar sig is te swak om by die ander leerders by te hou.

“Ek kon nooit reguit knip of reguit lyne trek nie. My onderwyseres het my omtrent heel voor in die klas laat sit, maar ek kon nog steeds nie ordentlik sien nie en my leesspoed was baie stadig. Sy het my ouers genader en hulle het my na ʼn spesialis geneem wat uiteindelik die diagnose gemaak het.”

Sy is na ʼn privaat skool geskuif, waar die skoolstelsel toegelaat het dat sy ʼn hele dag op een plek kon sit en werk sonder om klasse te wissel. Sy kon haar skoolwerk afhandel met behulp van ʼn toestel wat haar leeswerk vergroot het.

Leach sê sy het aanvanklik teen die idee van ʼn gidshond geskop. “Ek het gevoel ek is baie normaal grootgemaak en het gedink ʼn hond of ʼn kierie sal die idee skep dat ek minderwaardig is. Dit is ongelukkig die wêreld waarin ons leef – mense wat nie ʼn gebrek het nie, hanteer mense met ʼn gebrek anders. Maar toe ek in Februarie 2019 saam met Vogue vir opleiding gaan, het ek besef watter groot fout ek gemaak het.”

As sportiewe kind het Leach alle sportsoorte beoefen en het sy veral op die netbalbaan en hokkieveld probeer deel bly van die span, maar die stelselmatige verswakking van haar sig het later haar hand-oog-koördinasie heeltemal belemmer.

Cornelle sê Vogue wag geduldig vir haar langs die swembad tot sy klaar geoefen het. (Foto: Verskaf)

“Dit was vir my verskriklik erg om nie meer aan sport te kon deelneem nie en ek het toe self begin navorsing doen oor watter sportsoorte ek kon beoefen ondanks my swak sig. Ek was tien jaar oud toe ek vir my ouers gesê het ek wil swem, want jy het nie ʼn span daarvoor nodig nie en jy hoef ook nie te kan sien nie,” verduidelik sy.

Daar was egter nie ʼn Olimpiese oefenswembad op Lydenburg nie en die naaste een was 100 km weg op Mbombela (Nelspruit). Sy het in vriende se swembad, met ʼn lengte van 10 m, begin oefen.

“Die eerste keer dat ek ʼn 50 m lange swembad gesien het, het ek vir my ma gevra of ek dan al die pad tot op die einde moet swem, want ek kan nie eens die eindpunt raaksien nie,” lag sy.

ʼn Swemafrigter op Sabie, Kobie Gruwer, het uiteindelik die deur tot mededingende swem vir Leach oopgemaak. “Sy het in my geglo en vir my die regte tegnieke geleer; dit was net wat ek nodig gehad het. My ma, Yolande, het my ongelooflik ondersteun deur elke liewe dag saam met my die 50 km Sabie toe en terug af te lê sodat ek kon swem.”

Die swemgogga het gebyt en sy het die een goue medalje ná die ander begin inryg. Die Leach-gesin het in haar graad 10-jaar Pretoria toe getrek, waar sy by Tuks aangesluit het en afgerig is deur Neville Smith.

Leach, wat later in die S12-kategorie aan die Wêreldkampioenskapstoernooi deelgeneem en uiteindelik verlede jaar gekwalifiseer het vir die Paralimpiese span, vertel Vogue wag geduldig die ure by die swembad om terwyl haar ounooi oefen.

“Maar sy is ʼn diva en haar naam pas haar goed, want as die vloer nat is, gaan lê sy op die bankie. Sy het selfs een keer self my handdoek tot op die bankie getrek sodat sy daarop kon lê. Sy is só slim!” koer Leach oor dié gidshond, wat haar eie toegangskaart tot die gimnasium het.

Cornelle en Vogue ontspan lekker saam. (Foto: Verskaf)

“As ek in die groot swembad buite oefen, swem sy alte lekker in die kinderswembadjie. Daar is heinings reg rondom die perseel, so ek kan haar los dat sy speel. Sy is verskriklik oulik wanneer ek oefen. As ek op die duikblok staan, wag sy langs my. En wanneer my afrigter die sein gee dat ek moet swem, hardloop Vogue tot aan die einde van die swembad en wag vir my daar. Sodra ek opkom uit die water, lek sy my gesig.”

Leach vertel trots dat Vogue op die Wêreldkampioenskapstoernooi ook ʼn goue medalje gekry het. “Sy is so deel van my lewe en almal ken haar nou al. Sy is verskriklik beskermend oor my en raak baie angstig as sy nie by my kan wees terwyl ek opwarm nie.

“Ons het haar op ʼn keer Durban toe geneem en op die strand laat hardloop, wat sy baie geniet het. Maar toe ek in die see swem en die golwe te rof is vir haar, het sy baie ontsteld geraak toe sy nie verstaan waarheen ek gaan nie.”

Vogue is deur en deur haar beste maat, sê Leach. “Sy het my lewe soveel makliker gemaak, veral op kampus. Sy onthou ʼn roete nadat sy dit een keer gestap het en almal op kampus het haar met ope arms verwelkom. En almal wil net vriende wees met die meisie met die hond. Veral in die winter wil almal graag langs my sit, want Vogue hou daarvan om op jou voete te lê en dit is heerlik warm!” lag sy.

  • Vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging en hoe om aan dié instansie te skenk, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.