Paramedici bederf kinders, bejaardes vir Kersfees

Foto: Verskaf

Om die loeiende sirenes van ambulanse in die straat te hoor verbygaan, voorspel gewoonlik niks goeds nie. Maar vanjaar het dié sirenes van ambulanse oortrek met sowat 2 000 liggies, kompleet met Kersvader agterop, die omgee-hart van Kersfees aan Pretorianers gebring.

Best Care-ambulansdiens het vanjaar weer hul gebruiklike Kersprojek aangepak. Dié projek het een doel voor oë: Om te wys dat mense omgee.

Die Kersprojek het Dinsdagaand afgeskop waartydens dié ambulanse sekere roetes in die stad ry en Kerspakkies aan behoeftige kinders en bejaardes uitdeel. Hierdie jaar word altesaam ʼn allemintige 20 000 Kerspakkies uitgedeel.

Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdiens en voorsitter van hul jaarlikse Kersprojek, het Woensdag aan Maroela Media gesê dié projek het reeds ’n dekade gelede in 2008 begin. Die roete het destyds verskil en net Pretoria Tuine ingesluit.

Ná talle versoeke dat die projek na ander dele van Pretoria uitgebrei moet word, het Best Care geluister en sedert 2016 dek die jaarlikse optog vyf gebiede van Pretoria oor vyf aande. Dié gebiede sluit hoofsaaklik Pretoria-Noord en Pretoria-Wes in.

Xander Loubser (Foto: Verskaf)

Loubser vertel die projek het daarna behoorlik vlamgevat. In 2016 is sowat 11 000 pakkies aan kinders uitgedeel. In 2017 is 18 000 pakkies uitgedeel en vanjaar is sowat 15 000 pakkies vir kinders en 5 000 vir bejaardes uitgedeel. Dié Kerspakkies sluit onder meer ’n kinderbybel en lekkers vir die kinders in en ’n warmwatersak, slaapsokkies en koekies vir die ouer garde.

’n Sosialemediagebruiker het Dinsdagaand op Facebook geskryf dat sy “nog nooit so iets beleef het in die tyd wat sy in Pretoria-Noord bly nie”.

“Ons hoor al die verskriklike sirenes van ambulanse en ek sê vir manlief hier is êrens ʼn groot ongeluk,” skryf sy. “Toe ons buite kom, is dit net ligte en toe is dit die ambulansouens met Kersliggies teen die ambulans. Ek bid dat die ouens ʼn geseënde en veilige Kersfees sal beleef en dankie vir die Kersfeesgees wat hulle vir ons gebring het.”

Vanaand is dit Daspoort, Claremont en Hermanstad se beurt met Saterdag die laaste aand. “Enige kind en bejaarde is welkom om vir hul ’n Kerspakkie te kom haal. Kinders kan ook op Kersvader se skoot kom sit,” sê Loubser. Elke aand se roete begin om 17:00 en dit duur sowat drie tot vier uur om al die Kerspakkies uit te deel. Die roete sluit veral ouetehuise en huise vir gestremdes in.

Loubser sê dat dié projek vir hom persoonlik los hande uitstaan bo al die ander projekte wat Best Care oor die jaar aanpak. “Ek het grootgeword in ’n gebied wat op vanaand se roete is en ek weet sou só iets baie waardeer het toe ek klein was,” sê hy.

“Dit gaan oor die boodskap, nié die pakkie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos ·

Die een van die mooiste dinge om te aanskou. Ek het die voorreg gehad om dit al twee keer te sien en my kinders kan nie wag om dit weer te sien nie. Xander en span, dankie vir julle bereidwilligheid en om iets terug te gee vir die gemeenskap!

bosluis ·

Sjoe, dit is fantasties. Ek dink Xander en sy span gee al klaar so baie terug aan die gemeenskap, deur bloot hulle normale dagtaak uit te voer. Dink net hoe baie sal dit vir hulle beteken as die betrokke gemeenskap vir hulle ook treat met geskenkies.

Petro Truter ·

My Kleindogters het dit omtrent geniet. 1 Ste keer wat ek so iets bygewoon het na my seun se afsterwe in n motorfietsongeluk 5 jaar gelede.Klein Wianca is gebore met n gaatjie in haar hartjie en Ouma hulle wil haar alles laat beleef soos n normale kind. Duisend dankies Xander Loubser en almal wat betrokke was met gisteraand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.