Paramedici help wewenaar se droom bewaarheid

Dirk Gunther (Foto: Verskaf)

Dirk Gunther (Foto: Verskaf)

Dirk Gunther, ʼn 84-jarige man van Newcastle in KwaZulu-Natal, se wens is Dinsdag bewaarheid toe ER24-personeel ingestem het om op pad terug na Newcastle by die Durban-strandfront te stop, sodat hy vir die eerste keer in 35 jaar dié strand, waar hy en sy oorlede vrou as jong egpaar gewoon het, kon besoek.

Lida Pietersen, Gunther se dogter, het aan Maroela Media vertel hy is na die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban oorgeplaas vir ʼn angiogram waarin ʼn naald deur die arm na die hart gevoer word om te kyk of die are oop is. Hy is weens sy swak toestand per ambulans vervoer.

“Hy het op pad na Durban vanaf Newcastle aan die ER24-personeel genoem hy wil baie graag weer die Durban-strandfront sien. Margery Meijerink, van ER24 in Newcastle, het toe vir hom gesê sy gaan haar bes doen, maar die weer het dit nie toegelaat nie,” het Pietersen gesê.

Pietersen meen hy kon egter vinnig ontslaan word aangesien die uitslag van die toetse positief is.

Meijerink het daarna met Jannes Prinsloo, die ER24-takbestuurder in Durban, gereël dat hy die strand sien op pad terug na Newcastle.

“Lucas Nzimande en Shaun Naidoo het toe by die strand gestop sodat hy sy herinneringe kon herleef.”

Pietersen meen haar pa het ʼn spesiale verbintenis met dié strand. Haar ma is 24 jaar gelede oorlede en Gunther se tweede vrou vanjaar.

“Ek dink hy wou by die strandfront wees omdat hy baie mooi herinneringe koester. Hy en my ma het as jong egpaar daar gewoon toe hy vir die spoorweg gewerk het. Hy was so opgewonde en het die aandag terdeë geniet,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jean ·

Wat ‘n pragtige gebaar, as mense in SA maar net almal so vir mekaar kan omgee, en simpatie en empatie het, eerder opbou as breek, eerder gunste bewys as skade aandoen, KAN ons wen in SA.

Ruby ·

Wat ‘n pragtige dienende gebaar aan jou naaste.

Dankie Maroela.

JP Nelson ·

‘n Storie wat ‘n glimlag met ‘n traan bring! Stem ten volle saam met Jean , ons kan net wen as ons begin omgee vir mekaar.

Theresa B ·

Ag is dit nou nie awesome nie??!! Dis mos nou menswees!!! Great – dankie julle. Julle sal dit alles dubbeld terug ontvang. Blessings.

Theresa B ·

Dis nou awesome. Dis mos nou menswees. Baie dankie julle – vir hierdie goedhartigheid sal julle dubbeld terug ontvang. Blessing!!

Uvonka ·

Wraggies nog omgee mense daarbuite, fantasties! Bell’s vir julle.

Delia ·

Baie dankie aan die ER24 personeel vir die wonderlike gebaar!
Dankie ook aan MM vir ‘n opbeurende berig tussen al die ander neerslagtig nuus berigte…..

lizette ·

Pragtige gebaar ken die oom persoonlik en n dierbare oom. Mooi loop oom Dirk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.