Parapleeg-kleuter skater op onnie se rug: ‘Dis die klein dingetjies’

Riaan van Straten doen die 60-meter naelloop saam met Angela Motswanemere (Foto: Facebook)

Riaan van Straten doen die 60-meter naelloop saam met Angela Motswanemere (Foto: Sulette de Bruin)

ʼn Onderwyser van Kathu in die Noord-Kaap word wyd op sosiale media geloof vir sy “ongelooflike daad van naasteliefde”. Riaan van Straaten het ʼn vyfjarige paraplegiese gr. R-leerder verlede week tydens ʼn atletiekbyeenkoms op sy rug getel en ʼn 60-meter naelloop saam met haar voltooi.

Agt gr. R-leerders het Vrydag voor die beginstreep op die atletiekveld van die Curro-private skool hulself gereed gemaak vir die 60 m-naelloop – ʼn tasbare opgewondenheid het op die veld oorheers. Die aandag was egter op die jong Angela Motswanemere.

Sy wou ook dié wedloop aandurf en Van Straten (32), hoof van sport by die skool, het haar op sy rug getel, die afsitter het die sneller getrek en hulle het gehardloop – so vinnig as wat hulle kon.

Van Straten en sy spanmaat het eindelik ʼn sesde plek behaal. “Of dalk selfs sewende of agtste plek, ek het nie eintlik opgemerk nie – ons het te veel pret gehad,” vertel dié onderwyser.

Hy het die harte van duisende aangeraak ná foto’s van die wedloop wyd op sosiale media versprei is.

Hy verstaan egter nie mense se reaksie hieroor nie, sê hy. “Mense het die storie wyd en syd versprei en ek verstaan nie hoekom nie. Die Bybel sê tog ʼn mens moet help wanneer jy kan, dis hoe elke mens moet wees. Dalk is dit omdat die wêreld so vol lelike goed is dat mense gryp na die positiewe.”

Die sportonderwyser meen dit is belangrik dat elkeen geliefd en gelyk voel en dat dit sy werk as onderwyser, en ook as mens, is om dit te verseker in sy alledaagse lewe. “Sy het die heelpad op my rug gelag. Selfs toe ons oor die eindstreep getrap het, was haar gesig borrelend en vol lewe. Dis klein dingetjies wat mens vir iemand anders kan doen. Ek het grootgeword om te glo dat ʼn mens soveel moontlik vir ander moet doen.”

Maroela Media het vroeër berig Van Straten se eie dogtertjie, Carli, is op 22 November 2014 met vier verskillende hartdefekte gebore en dokters het gesê sy sal net ʼn paar uur lewe. Vandag leef die klein “woelwater” voluit en hou sy haar ouers soos enige ander peuter lekker besig.

Hy meen dat Carli ook sy hart selfs meer versag het teenoor behoeftiges en minderbevoorregtes. “Ek is nog altyd so omdat ek so grootgemaak is. Maar Carli het beslis my hart meer versag. Ek wil graag help, om die waarheid te sê, ek sal iemand uit die pad stamp om ʼn ander persoon te help. Die enigste verskil tussen ʼn nagmerrie en ʼn avontuur is jou ingesteldheid,” sê hy.

Hy en sy vrou, Joanie (32), het nog ʼn kind, Benjamin, wat vroeër in Januarie vyf jaar oud geword het.

“Ek bly kalm oor alles,” sê Van Straten. Sy bakkie se enjin het ingegee kort nadat drie van die bakkie se wiele in Oktober gesteel is. “Ek weet die Here voorsien. Hy het nog altyd, en Hy sal ook nou.”

Vir meer inligting om of by die gesin betrokke te raak besoek iHeartCarli op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Liza ·

Fantastiese gesindheid! Wens ons kon meer sulke onderwysers he wat opbou en nie kinders breek nie. Baie dankie Riaan, jy is een fantastiese mens!!!

Sarina ·

Dit is darem baie waar wat jy sê Liza. Onderwysers en onderwyseresse kan klein kindertjies “maak of breek”!!! Ons het meer Riaan’s in ons skole nodig!!! Dankie vir dié wat reeds ñ positiewe invloed op ons kinders het én dié wat net skêl en gil – “take note”!!!!!

Sarel Strydom ·

Hierbo word met reg gevra of die wereld so vol slegte goed is dat ons gryp na die positiewe. Hieride is nog ‘n man wat se onderwys vir hom nie ‘n werk is nie maar ‘n roeping en ek haal my hoed vir hom af. Maar heelaas hierdie foto sal nooit die wereld igestuur word of op TV verskyn nie, want dit is te positief.Al wat mense vandag wil lees en hoor en kyk is geweld. kyk na programme op TV. Films se sukses word gemeet aan die hoeveelheid geweld wat daarin voorkom. Moet nie die Medial blameer nie, dit is ons wat dit vra. Laat mens dink.

Yvonne ·

Dit is so lekker om vir ‘n slag iets moois en positief te lees. Hierdie onderwyser het met sy daad ‘n herhinnering gelaat wat hierdie dogtertjie nooit sal vergeet nie. Ek het ook verlede week so iets eerste hand ervaar by my eie dogtertjie se atletiek. Die graad 6 onderwyser het vir die laaste ronde saam met ‘n dogter gehardloop en haar aangemoedig om die 1500 meter te voltooi. Dankie daar nog onderwysers/esse is wat bereid is om die ekstra myl te gaan, of dit nou op die sport veld of in die klaskamer is. Doen so voort!

wes kaap ·

Well done Meneer!!! Jy het baie vir daai kleintjie beteken.

Reinette ·

Hartroerend. Was sommer in trane.
Maar die deel oor sy stukkende bakkie is onnodig… klink na bedel.

nannie ·

Kan iemand die goeie nuus deur gee na die tv kanale asb? Sabc & kyknet. Dat almal kan sien

naomi ·

die bande en eie moeilike omstandighede gaan nie oor bedel nie. As jy reg ingestel is, sal jy eerder raaklees en sien, dat ongeag wat sy eie omstandighede is, dit sy hart is om ander te help. Daar is bitter min mense wat juis in hul eie moeilike omstandighede sal uitreik na ander. Kom ons leer uit die voorbeeld, en streef daarna om ander te help, ongeag ons eie te kort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.