Parapleeg op die rug van ʼn perd ná 20 jaar in ʼn rolstoel

Adri Knoetze op Shangai, die perd, se rug. (Foto: Facebook)

Adri Knoetze op Shangai, die perd, se rug. (Foto: Facebook)

Dit was ʼn dag wat sy nooit sal vergeet nie – die dag dat sy weer vryheid agter op die rug van ʼn perd kon beleef ná bykans 20 jaar in ʼn rolstoel.

Om perd te ry was iets wat Adri Knoetze (47), ʼn T2-parapleeg, nie gedink het haar ooit weer beskore sou wees nie. Sy was ʼn aktiewe jong vrou van 28 op die kruin van haar lewe toe sy en twee werkskollegas in ʼn motorongeluk betrokke was wat haar van die bolyf af ondertoe verlam gelaat het.

Knoetze vertel opgewonde van die geleentheid wat sy gekry het om op haar vriendin, Tanya Malan, se perd, Shangai, te ry. Die saal is spesiaal vir Knoetze aangepas sodat sy op die perd kon bly sit, aangesien sy nie self haar balans kan behou nie en van onder haar arms geen spierbeheer het nie.

“Dit was my eerste probeerslag as parapleeg om perd te ry. Dit was ongelooflik, ʼn fantastiese ervaring. Ek kan nie wag om dit weer te doen nie.”

Knoetze, wat tans op Mokopane (Potgietersrus) woon, onthou soos gister die dag in 2000 toe sy en twee kollegas op pad terug was van ʼn ekspo in Durban toe die bestuurder beheer verloor het oor die voertuig.

Sy was toe maar slegs vier maande werksaam in ʼn nuwe pos as bemarkingsbestuurder.

“Ek het agter in die Land Cruiser gesit en het my sitplekgordel vir ʼn oomblik losgemaak om agteroor te leun om my aktetas by te kom wat agter in die voertuig gelê het. Teen die tyd dat ek besef het ons ry van die pad af, was dit te laat. My deur het oopgegaan en ek het die teerpad teen ʼn hoë spoed getref,” onthou Knoetze die dag wat haar lewe vir altyd verander het.

Haar bolyf was aan skerwe. “Nét drie van my ribbebene was nié af nie,” onthou sy. “Ek het inwendig verskriklik seergekry. My ingewande het ook ophou funksioneer en ek moes ʼn kolostomie-sakkie kry.”

Vir drie jaar daarna kon Knoetze nie uit die bed klim nie en in ʼn stadium het sy slegs 35 kg geweeg.

Adri Knoetze op Shangai, die perd, se rug. (Foto: Facebook)

Adri Knoetze op Shangai, die perd, se rug. (Foto: Facebook)

Dokters het haar en haar familie gewaarsku dat haar gebroke liggaam nie die ongeluk gaan oorleef nie, maar vandag, bykans 20 jaar ná die ongeluk, is Knoetze ʼn kranige bergfietsryer, wat haar nie steur aan mense wat vir haar sê sy kan ʼn ding nie doen nie.

“Die ongeluk het ʼn geweldige uitwerking op my lewe gehad. Nié net op myne nie, maar ook op my eks-man en my ouers se lewe. Maar die dokters het gesien: ondanks die verdoemende voorspelling dat ek nie die ongeluk sou oorleef nie, het ek die wil om te leef. En daarom is ek vandag nog hier.”

Sy vertel dit was egter emosioneel en geestelik die grootste uitdaging om weer die lewe die hoof te bied. “Ek het gegaan van iemand wat gereeld soveel buitelugaktiwiteite moontlik doen na iemand wat 24 uur van die dag vir die dak lê en kyk.”

Dit het ʼn groot stremming op haar en haar eksman se huwelik geplaas en hulle het die moeilike besluit geneem om hul paaie te laat skei.

“Hy wou by my bly, maar ek het vir hom gesê hy moet eerder aangaan met sy lewe. Ek het so seer gekry en het altyd pyn gehad. Ek sou nie ʼn goeie vrou vir hom kon wees nie en hy was self nog so jonk. For better or worse is ʼn tall order, jy weet,” sê sy.

Adri is in haar element in die buitelug. (Foto: Facebook)

Adri is in haar element in die buitelug. (Foto: Facebook)

Tog is haar en haar eksman se lewensdrade vir altyd verweef toe sy agterkom sy is swanger. Hoewel dit ʼn riller van ʼn swangerskap was, is hul seun, SB (nou 18), op 37 weke gesond gebore. Knoetze vertel sy het op 20 weke eers besef sy is swanger.

“Die dokters sê vir jou dit kan nooit gebeur nie weens jou inwendige beserings, so jy verwag dit nie. SB het lekker teen die ysters in my lyf geskop,” onthou sy.

Sy vertel dié pienkvoet se opwagting het haar opnuut ʼn rede gegee om te leef. “Ek het begin dink ek het nie meer ʼn doel op aarde nie. Ek het gevoel ek was van almal afhanklik en kon vir niemand iets beteken nie. Ek het nuwe moed gekry toe hy in my lewe kom.”

Knoetze het besluit om nie te werk nie, aangesien haar lyf te onvoorspelbaar is. “My lyf laat my te gereeld in die steek. Ek is aktief wanneer ek kan wees, en op my sosialemediaprofiel wys ek net die goeie goed. Ek is nie openlik oor die dae wanneer dit sleg gaan nie, daarom kan mense dalk onder die indruk wees dat dit altyd goed gaan,” vertel sy.

Die enigste beroep wat sy op ander mense wil doen oor gestremdes of siekes, is dat mense daardie persoon steeds sal behandel asof hy of sy normaal is.

“Daar is ʼn groot behoefte om net behandel te word as ʼn gewone persoon. Ek was nog altyd iemand met ʼn sterk persoonlikheid en niemand sou met my in verkleinwoordjies praat nie en skielik word ek behandel soos ʼn tweejarige omdat ek in ʼn rolstoel is.

Adri en haar seun, SB, tydens sy matriekafskeid. (Foto: Facebook)

Adri en haar seun, SB, tydens sy matriekafskeid. (Foto: Facebook)

“Mense se empatie is natuurlik welkom en as iemand my vra hoe dit gaan, is dit vir my lekker. Maar ek is steeds dieselfde gees wat elke oggend wakker word as die gees van die Adri wat mense 20 jaar gelede, voor die ongeluk, geken het.”

Knoetze is ook gereeld op haar bergfiets te sien en vertel dat sy reeds bykans 10 000 km met dié fiets afgelê het.

Sy vertel sy het vir haar ʼn bakkie gekoop waarmee sy al vir jare ry en wat haar nog nooit in die steek gelaat het nie. “Ek is ʼn boskind. Ek en daai bakkie is emosioneel aan mekaar verbind. Ek het onlangs ʼn 4×4-roete gedoen saam met 11 mans. Hulle het gesê ek sal dit nie regkry nie en almal van hulle moes hul woorde sluk!” lag sy.

“Ek gryp die geleenthede aan wat ek kry, al is ek superkapoet vir die volgende dag of twee. Al sukkel ek self om soms nog die negatiewe te verwerk, help dit nie om elke dag te vra: ‘Waarom ek?’ nie.

“Nie een dag is voorspelbaar nie, maar van my goeie dae maak ek die beste. Dit is uit absolute dankbaarheid vir die lewe en die guns wat ek ontvang en die kans wat ek gekry het om te lewe. Ek dank die Here daarvoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
MUIS

n regte feel good storie.

Agter die skerms.....

Adri, ons God is groot al die tyd, en al die tyd is ons God groot. Mense moet dit net besef helemal besef. Sjoe ons altwee kan getuig en net se ons sal nie gaan le nie. Amen Adri Amen

Mieke

Adri, sjoe….!!! Ek bewonder jou . Wat ‘n voorbeeld van positiwiteit en vasbyt. En jy’s’n pragtige vrou – En ek neem aan dit is jou seun in die foto? Pragtige jong man! Mag God jou ryklik seën in jou lewe vorentoe!!

Piet Snot

Adri, jy inspireer my.

Katjie

Adri “good for you!” Ek raak so moeg vir mense wat se “jy kan nie dit of daai”. Ek is bly jy bewys die ongelowige Thomasse verkeerd. Ek leer my kinders daar bestaan nie ‘n woord soos “Kannie”. Jy kan alles doen as jy die ingesteldheid het en met God as jou metgesel. Ek is trots op jou!!!