Parapleeg se jare lange droom bewaarheid

Daphney en Thabang Malapela

Thabang Malapela saam met sy vrou, Daphney. Foto: Verskaf

ʼn Jare lange droom vir ʼn man wat sedert 2008 aan ʼn rolstoel gekluister is, word Donderdag bewaarheid wanneer hy sy meestersgraad in openbare administrasie aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf.

Thabang Malapela (44) was op 4 Mei 2008 saam met ʼn vriend op pad na Bronkhorstspruit toe sy vriend beheer oor die motor verloor het. Die motor het verskeie kere gerol en Malapela se nek is in die ongeluk gebreek. Ná verskeie operasies is hy verlam gelaat en het tans slegs beperkte gebruik van sy hande.

“Ek het besluit om my studie voort te sit ondanks my ongeluk, omdat onderrig nog altyd vir my belangrik is,” het Malapela aan Maroela Media vertel. “Ek het voor die ongeluk my honneursgraad in openbare administrasie verwerf en besluit om my meestersgraad te doen. Selfontwikkeling is baie belangrik.”

Hy vertel dat hy nie sukses in sy studie sou kon behaal sonder die ondersteuning van sy vrou, Daphney, nie. “Ek is so dankbaar vir haar genade en geduld.”

Malapela moes elke twee weke klasse by die UP bywoon en Daphney het hom na elke klas vergesel. “Sy het elke klas saam met my bygewoon en selfs my notas vir my afgeneem, aangesien ek nie my hande kan gebruik om te skryf nie,” het hy vertel.

Sy lewe het handomkeer verander ná die ongeluk. “Ek gaan nie meer so baie uit die huis soos voorheen nie, so my sosiale lewe het beslis skade gely. Ek het my onafhanklikheid verloor. Chroniese pyn raak my daagliks.”

Hy doen ʼn beroep op vroue om nié hul mans te verlaat indien hulle dalk gestremd sou raak nie. “Mense met gestremdhede het baie potensiaal. Ons kort net ondersteuning en ʼn familiestruktuur om daardie potensiaal te kan bereik.”

Hy wil hom deur sy werk beywer vir die regte van gestremde mense. “Gestremde mense word verwaarloos en afgeskeep in ons land se sosiale en ekonomiese aktiwiteite,” het hy verduidelik. “Dit is maklik vir gestremde mense om ondermyn te word omdat daar geen ruimte vir ons is in politiek nie. Politiek is mag. Daar is politieke ligas vir vroue en die jeug, maar wat van ons gestremdes?” het hy benadruk.

“Enigiemand wat nie vandag gestremd is nie, kan môre wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trots ·

Knap gedaan Thabang en Daphney.
Dit wil gedoen wees.
‘n voorbeeld vir baie van ons klae kouse.

Maria ·

Baie baie trots op jou goeie voorbeeld. Ek deel vir gestremdes.
Dit waar wat jy gese het net waarloos nie maar beloftes aan die land SA kom nie na nie HARTBREEK. Hoop en my gebede gaan uit Thabang Malapela vir ons as SA gestremde op staan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.