‘Pasella-pakkies’ in Pretoria bekendgestel

Pasells-pakkies

Ghapi en Henda van der Merwe Foto: Adéle Changuion

Die CMR Gauteng-Oos se voedselskema-handelsmerk “Pasella-pakkies” is pas in Pretoria bekendgestel.

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, sê aangesien die organisasie ʼn welsynsorganisasie is, is hul kernaktiwiteit gesinswelsynsdienste. “’n Honger kind is nie ʼn gesonde kind nie. ʼn Honger kind kan nie goed op skool presteer nie, en honger gesinne, om die waarheid te sê, honger mense, sal altyd ʼn behoefte wees waaraan ons sal aandag gee in elke gemeenskap waarin ons aktief werk,” sê sy.

Die sambreelprojek is nou “Pasella-pakkies” gedoop en die Pretoriase sanger Ghapi, as die projek se ambassadeur, het die lint geknip om dit van stapel te stuur. Hy het ook pakkies aan gaste wat by die bekendstelling teenwoordig was, oorhandig.

“Ons doelstelling met hierdie voedingskemas is nie net om kos uit te deel nie, want om mense afhanklik te maak van uitgedeelde kos is nie ʼn langtermyn, volhoubare en opheffende aktiwiteit nie,” het Van der Merwe gesê. “Ons vra diegene wat ons nader vir hulp, insette van hul kant af, byvoorbeeld, hulle kan helpers word in enige van ons gemeenskapsprojekte, soos die klerestoor. Op hierdie manier ‘verdien’ hul dan eintlik hul kos.”

Volgens statistieke blyk dit dat meer as helfte van die mense wat verlede jaar kos van CMR Gauteng-Oos ontvang het, wit mense was. “Dit wys duidelik dat honger nie die kleur ken nie. Alle lede van die gemeenskap word deur die huidige ekonomiese insinking geraak, en ons reik uit na almal in nood. Ons ondersoek wel die behoeftes en maak seker dat mense nie die stelsel misbruik deur wanvoorstellings van hul nood nie, of deur gelyktydig op verskillende plekke by verskillende organisasies kos te ontvang nie. Dit neem kos uit die monde van die wat dit werklik nodig het.”

Van der Merwe het ook daarop gewys dat die voedselskemas hulp vanuit hul plaaslike gemeenskappe benodig. Nie-bederfbare kos, en in sommige gevalle, gekookte, gevriesde maaltye word verwelkom. So versoek die Lyttelton-kantoor byvoorbeeld gesinne om Sondae ʼn ekstra bord kos uit te skep en dit te vries. Dit kan na die kantoor geneem word waar dit geberg word totdat die sopkombuis, wat een keer per week oopmaak, dit kan uitdeel aan behoeftiges.

CMR Gauteng-Oos het 13 satellietkantore regoor Pretoria en voedselskemas word by al hierdie kantore bedryf, hoewel op verskillende maniere en aan uiteenlopende groepe.

Daar is kantore in Lyttelton, Ivory en Ebony Park, Cullinan, Refilwe, Faerie Glen, Silverton, Zithobeni, Nellmapius, Meyerspark, Moreletapark, Elarduspark en Bronkhorstspruit.

Van der Merwe benadruk dat elke kantoor sy eie modus operandi het en vra lede van die publiek om Sandra Kruger by die hoofkantoor te skakel 012 361 4613/19 om vas te stel hoe hulle deel van die voedselnetwerk kan word – al is dit selfs net een keer per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charlotta ·

Daar is baie wit plakkers kampe……hoop hulle kry ook van die kospakkies. Ek sal baie graag dan bydra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.