Pasgebore babas knus in weldoeners se mussies

(Foto: Verskaf)

Marlé van der Merwe, ʼn vyfdejaar- mediese student by die Sefako Makgatho-universiteit (geleë by die voormalige Medunsa buite Pretoria), het nie op haar laat wag om ʼn verskil te maak toe die geleentheid hom voordoen nie.

Dié voornemende dokter het tydens een van haar skofte in die pediatriese eenheid van die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal gesien dat die pasgebore babas karige mussies dra wat nie naastenby warm genoeg is nie.

“Dit het meer soos ʼn kous gelyk wat oor hul koppies getrek is,” verduidelik Marlé.

By verdere navraag het ʼn verpleegster vir haar gesê dat die mense wat gewoonlik musse vir die babas verskaf nie meer in staat is om dit te doen nie.

Hoewel die winter intussen verby is, het dié klein lyfies nodig om warm te bly. Die saal en gange is yskoud en daarom is iets soos ʼn mussie vir pasgebore babas ʼn noodsaaklike item.

“Ek studeer medies omdat ek vir mense omgee,” vertel sy. “Dit is veral die praktiese deel van medies wat ek geniet.”

Marlé het toe by haar ma, Dorothy, vir raad gaan aanklop.

“Ek en my dogter het gesels en saam besluit dat ek by die kerk sal hoor of iemand bereid is om mussies te brei of te hekel,” vertel Dorothy.

Dorothy en haar man, Wouter, is in die Lewende Woord Centurion-gemeente, waar Wouter ook ʼn senior leraar is.

Sy onthou dat Marlé haar in ʼn tyd genader het waar sy dikwels vir God gevra het hoe ʼn mens te midde van die onsekerheid ʼn verskil in die land kan maak.

“Ek het besef met elke mussie wat gebrei word, kan ons bid vir die baba of kind wat daardie mussie gaan dra,” sê Dorothy. “Ons kan op dié manier ook bid dat ʼn volgende generasie die Here sal dien, en ook vir die ouers van die kind wat die mussie gaan dra.”

Dorothy het die gemeente een Sondag toegespreek en van die projek vertel. Sy het vroue aangemoedig om oorskietwol van die huis af te bring sodat niemand onnodige uitgawes aangaan nie. Die reaksie was oorweldigend en kort voor lank het ʼn fotograaf in die gemeente ʼn gratis fotosessie as prys uitgeloof vir die persoon wat die meeste mussies brei of hekel.

“Oud en jonk het ʼn handjie bygesit,” sê Dorothy. Hekelgroepe, van die pa’s en oupas en selfs ʼn paar kinders het ook naalde opgetel en saam gebrei. Alida Viljoen is as die algehele wenner aangewys. Viljoen het 450 mussies by die Zuid-Afrikaans-hospitaal ingesamel tydens hul jaarlikse Mandeladag-projek. Connie Phillips het self 320 mussies gebrei. Martin Wilkens het ook erkenning ontvang as die man wat die meeste mussies gebrei het en oom Alie het al wat ʼn gemeentelid is, uitgedaag en gesorg dat hulle op hul tone bly.

Marlé sê dit is ongelooflik om te sien hoe die projek ontwikkel het en sy is geweldig opgewonde oor die meer as 5 000 mussies wat tot dusver geskenk is.

Hulle gaan steeds voort met die projek al is die winter en streng afsonderingsmaatreëls bykans verby.

Jeuk jou vingers om die naalde op te tel en saam te brei of te hekel? Stuur ʼn e-pos aan Dorothy van der Merwe na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VannieBaai ·

Hoe eerbaar die skenking mag wees is dit iets waarby ek nie weer betrokke sal raak nie. Ek was betrokke by ‘n groepe wat mussies vir oud en jonk vir ‘n hospitaal gebrei het en het later uitgevind dat die meeste van die mussies nie die pasiënte bereik het nie, maar wel die personeel, want “hulle kry mos ook koud” soos daar mooi aan my meegedeel is……….nooit weer nie…….. dankie vir goeie mense wat nog na die kleintjies, siekes en swakkes omsien. Mag julle hande tot in lengte van dae nog geseen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.