Pasgetroudes ‘ry’ die ekstra myl vir liefdadigheid

Theo en Colleen Fourie ry fiets vir liefdadigheid (Foto: Verskaf)

Theo (47) en Colleen (54) Fourie het op 9 April as pasgetroude paartjie op hulle bergfietse geklim om 6 752 km langs die Suid-Afrikaanse kus af te lê ten bate van die Meals on Wheels-organisasie.

Dié egpaar is op 7 April in die eg verbind voor hulle twee dae daarna met hul liefdadigheidstog in Groenpunt aan die Kaap begin het.

“Hierdie was ’n hartsbesluit,” vertel Colleen. Hulle het hul konstruksiebesigheid agtergelaat en op hul fietse gespring.

Na ongeveer 53 dae het hulle reeds meer as 3 200 km al langs kus afgelê en bevind hulle hul nou amper in Hoedspruit in Limpopo.

“Ons beoog om teen 9 Augustus weer in die Kaap aan te kom en ons reis reg om Suid-Afrika af te sluit,” sê Colleen.

Die egpaar probeer so 70 tot 80 km per dag aflê alhoewel die omstandighede hulle nie altyd toelaat nie.

“Hierdie is definitief ’n toets van deursettingsvermoë. Op tye moet ons woeste afdraandes teen 73 km/h aandurf,” sê Colleen.

Sy vertel ook dat dit aanvanklik ’n vreesaanjaende gedagte was omdat sy eers in September verlede jaar op die ouderdom van 54 ernstig begin fietsry het.

Theo en Colleen Fourie ry fiets vir liefdadigheid (Foto: Verskaf)

“Ons leef van dag tot dag. Ons moes al 133 km in die reën ry. Ons was papnat,” vertel Theo. “Wat ek geleer het, is om nie moed te verloor of op te gee nie. As jy ’n droom het, jaag dit na. Moenie uitstel nie. Terwyl jy nog ’n asem aan die binnekant het, kan jy iets goeds vir iemand anders doen,” sê Theo.

Sakke van onderskeidelik 18 kg en 23 kg word aan Colleen en Theo se fietse vasgemaak waarin hul kos, water, klere, slaapsakke en ’n tent om in te slaap, vervoer.

“Vandat ons by Groenpunt vertrek het, het ons net een keer in ons tent geslaap,” vertel Colleen. Mense oral in Suid-Afrika het vir dié paartjie slaapplek in hulle huise en gastehuise aangebied.

“Ons harte is aangeraak deur die vriendelikheid en goedheid van die wonderlike mense wat ons op die pad teëgekom het. Van ʼn warm bord kos, ʼn beker koffie, ʼn warm stort of ʼn bed om in te slaap. Hierdie alles beteken ongelooflik baie vir ons. Daar is nog so baie goedheid in die mense van Suid-Afrika,” sê Colleen.

Volgens Colleen het hulle besluit om hierdie tog aan te pak omdat liefdadigheid en om iemand te help ’n saak is wat hul albei na aan die harte lê.

“Daar is baie mense wat afhanklik is van hierdie geldjies wat ons insamel,” sê Colleen.

Theo en Colleen het alreeds meer as 3200 km afgelê (Foto: Verskaf)

Die Meals on Wheels-organisasie verskaf landwyd kos aan ongeveer 12 miljoen mense per maand .

Die Fourie-paartjie het besluit om hulle geldinsameling op Meals on Wheels in die Noord-Kaap te fokus. “Die Noord-Kaap se behoeftige gemeenskap is afgesonder en soms so vergete. Die mense daar kry geweldig swaar,” vertel Colleen.

Volgens Colleen lê hierdie organisasie en wat hulle op ’n daaglikse basis vir jong mense en bejaardes doen haar na aan die hart.

Mense wat die inisiatief wil ondersteun, kan die egpaar per kilometer borg of selfs ’n maandelikse debietorder aangaan.

Besoek gerus Theo en Colleen Fourie se webblad om ’n bydrae te maak. Volg gerus ook hulle reis op hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wielie ·

Mag die Here julle seen tot in lente van dae. Dankie vir wat julle doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.