Passie vir liefdadigheid help gemeenskappe

Charmaine van Staden. (Foto: Verskaf)

Om daagliks die haglike omstandighede en armoede te sien wat  duisende Suid-Afrikaners in die gesig staar en die bul by die horings te pak om noodsaaklikhede te voorsien vir dié behoeftiges, is ʼn passie wat ingebore is.

Charmaine van Staden, distriksbestuurder vir Hanna Charity and Empowerment Fund, is een van die mense wat elke dag haar ingebore passie uitleef om mense in nood van basiese behoeftes soos kos, klere en ʼn dak oor die kop by te staan.

Van Staden is tans op Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo, waar sy en haar man, Herman, en hulle 16-jarige dogter en negejarige seun woon. Dié seun het vier jaar gelede as vyfjarige onder Van Staden se vlerk beland deur haar betrokkenheid by Hanna Charity, en hy is vandag steeds by die Van Staden-gesin in pleegsorg.

Sy vertel sy het in 2016 betrokke geraak by die Hanna Charity se tak in East Lynne. Sy het destyds as kleuterskoolonderwyseres gesien watter behoefte daar in die omgewing was en het bewus geraak van Hanna Charity se betrokkenheid by die gemeenskap.

“Ek wou nog altyd liefdadigheidswerk doen. Dit is my passie om vir my medemens om te gee, lief te wees vir hulle en om na hulle welstand om te sien,” sê Van Staden.

Die Hanna Charity-organisasie het verskillende projekte in die gemeenskap van stapel gestuur, onder meer ʼn voedselprojek waar sowat 3 200 mense in die East Lynne-omgewing van gekookte etes en klere voorsien is.

“Ek het daar werklik gesien wat hulle vir die gemeenskap doen en ek wou deel wees daarvan. Die impak wat die organisasie op daardie mense se lewens gehad het en die verbetering wat hulle teweeggebring het in mense se lewensomstandighede, is enorm.”

Sy het sowat drie jaar gelede van East Lynne na Mokopane verhuis om ʼn Hanna Charity-tak daar op die been te bring. Van Staden vertel sy het wel nog kontak met ouers en kinders in East Lynne wat sy deur haar welsynswerk leer ken het.

“Jy raak emosioneel so betrokke en dit is moeilik om bloot net van die mense af weg te stap, al weet jy dat jy nou niks meer kan doen as wat jy reeds doen nie. Jy stap ʼn lewenspad saam met die mense en jy vorm ʼn band met die kinders. Jy kan nie met iemand ʼn pad stap as jy nie alles kan gee ten spyte van die hartseer nie.”

Van Staden verduidelik dat die Hanna Charity se doel is om “die armste van die arm, werklose mense, kinders, soms drie, vier gesinne wat in een huis woon, ʼn gesin op straat of wat in iemand se motorhuis woon” by te staan.

Oom Andy

Oom Andy en Charmaine van Staden. (Foto: Verskaf)

Daar kom ook elke nou en dan iemand soos oom Andy, ʼn 71-jarige werklose man wat in ʼn nywerheidsgebied agter op ʼn sakeonderneming se erf in ʼn ou karavaan gewoon het, oor Van Staden se pad.

Sy vertel sy en oom Andy het ʼn lang pad saam gestap en ʼn spesiale band gevorm voordat hy in April vanjaar oorlede is.

Oom Andy het kakebeenkanker gehad en hulle het gesukkel om vir hom die regte behandeling te kry. Hy kon weens die aard van sy kanker later ook nie meer eet nie en hy het vinnig verswak.

Hy is oorlede net nadat Van Staden daarin kon slaag om van sy familielede op te spoor en hy by ʼn ouetehuis ingetrek het. Sy loof egter die gemeenskap se betrokkenheid om vir oom Andy ʼn waardige begrafnis te gee.

“’n Hele gemeenskap het saamgewerk om vir een mens ʼn verskil te maak in sy lewe. Dit was ʼn wonderlike reis saam met oom Andy waartydens ek baie geleer het van wat regtig daar buite aan die gang is.”

Sy glo haar ontmoeting met oom Andy was ʼn bestiering. “Iemand het vir my vertel van ʼn oom wat in ʼn karavaan bly en ek het besluit om te gaan kyk. Dit het my en oom Andy se lewens verander. Hy is so mooi ontvang by die ouetehuis, maar sowat drie weke later het hulle my laat weet sy toestand het drasties verswak.”

Van Staden sê sy is hartseer wanneer sy aan oom Andy dink. “Ek kan nie dink dat iemand se lewe nie meer werd was as dit nie. Hy het dit nie verdien om só te leef nie.”

Sy onthou hy het swak soos wat hy was vir ʼn hele klomp rondloperkatte gesorg soos wat hy kon. Hy was ʼn goeie mens, ʼn kunstenaar wat weens die inperking werkloos en vergete was.”

Hanna Charity

By die naaldwerkakademie in Parow. (Foto: Verskaf)

Die Hanna Charity-organisasie is op verskillende terreine betrokke by die gemeenskap. Van sopkombuise, klerebanke, vrouegroepe, bidgroepe, biblioteke, oefengroepe en vaardigheidsontwikkeling.

Die organisasie woeker reeds sedert 2008 oor die land heen om behoeftige mense by te staan met basiese behoeftes.

Gemeenskappe in Elandspoort, Wolmer en East Lynne in Pretoria, Benoni, Boksburg, Leandra en Sundra in Mpumalanga, Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo, Cloetesville (Smartie Town) in Stellenbosch en Parow in die Wes-Kaap en Amanzimtoti in KwaZulu-Natal is gebiede wat baat by dié liefdadigheidsorganisasie.

ʼn Hanna-stasie is nou ook in Stilbaai opgerig en ʼn formele naaldwerkakademie het in Parow sy deure oopgemaak waar die Eazy Stitch-kurrikulum gevolg word.

“Dit is die gemeenskap wat mekaar help, ons bring die mense net by mekaar. Ons vra altyd vir mense om betrokke te raak in die omgewing. Ek kan nie genoeg benadruk dat kos en klere deurlopend uitgedeel word nie. Dit is hartseer om ʼn bejaarde of kind sonder truie en komberse in die winter te sien.

“Ons doen nie hierdie werk om betaling nie. Die betaling is die wete dat jy gedoen het wat jy kon om hierdie mense by te staan.”

Om ʼn skenking te maak aan die Hanna Charity of om ʼn navraag te rig, skakel (012) 348 3534 of 083 571 3299 of stuur ʼn e-pos na [email protected] of [email protected].

Besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Prontuit ·

En so hoop en bid ek jy word uit jou skoene gebless vir jou onbaatsugtige diens ons het BAIE van ons eie mense wat bitter bitter swaar kry, helfde van dit weet ons nie eers van nie, ja jy het jou kansvatters maar daar is soveel elende deesdae in ons land wow my hart gaan uit na jou en die organisasie toe dankie vir mense soos julle!

Gert K ·

Soms vergeet ‘n mens hoeveel jy regtig het om voor dankbaar te wees, dan kom ‘n artikel soos hierdie oor jou pad en jy besef dat ons wat met vol magies in ‘n warm bed klim, miskien meer kan doen vir
ons medemens wat nie so bevoorreg is nie. Dankie Charmaine. Julle is ‘n voorbeeld vir baie van ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.