Pensioenaris klim Himalajas uit vir liefdadigheid

Martie Brits in die Himalajas. (Foto: Verskaf)

“Ek groet jou vanaf die mooiste plek op aarde, die Himalajas.”

So sê Martie Brits, ʼn 57-jarige pensioenaris wat tans die gebergtes in Nepal aanpak om geld vir dierewelsynsorganisasies in Suid-Afrika in te samel.

Toe Maroela Media met Brits gesels, het sy pas haar tog deur Langtangvallei, in die noorde van Nepal, voltooi. “Ek kan nie sê hoeveel kilometer ek nou al afgelê het nie. Hier werk hulle met ure, nie afstande nie.

“Dit was ʼn moeilike roete as gevolg van al die rotsstortings wat plaasgevind het tydens die aardbewing in 2015,” sê sy. Sy sou Dinsdag weer met ʼn vyf tot ses dae staptog na Nagthali vertrek.

Brits, ʼn oudonderwyseres van Johannesburg, verduidelik dat sy geld insamel deur ʼn Suid-Afrikaanse vlag met die Wollies Projek‑diereskuiling in Pretoria-Noord se logo daarop, met haar saam te dra. Suid-Afrikaners wat finansiële skenkings gedoen het, het hul handtekeninge op die vlag aangebring.

“Vir hulle was dit net die idee om hul naam op die vlag te skryf, sodat hul naam Himalajas toe kan gaan.” Die staptog ondersteun ook die Cat Shack‑organisasie in Edenvale aan die Oos-Rand in Gauteng en Border Collie Rescue, ʼn landswye organisasie.

Die Wollies-vlag in die Himalajas. (Foto: Martie Brits)

Die vlae is by verskillende plekke in die streek gehang. Die Border Collie Rescue‑vlag is by ʼn veearts in Kathmandu gehang, terwyl Cat Shack se vlag by ʼn teehuis in Langtang Gompa opgesit is. Die Wollies‑vlag is by die laaste nedersetting in die Langtangvallei, Kyanjin Gompa, gehang.

Brits het tot dusver sowat R17 000 vir Wollies ingesamel, terwyl Cat Shack R5 000 ontvang het en Collies R1 100 gekry het. Intussen het daar nog name bygekom, vertel Brits, wat die finale bedrae nog hoër gestoot het.

Sy betaal egter self vir al haar uitgawes. Brits vertel dat sy die roete alleen aangepak het, sonder ʼn toergids of sakdraer, en dit dus goedkoper uitgewerk het. “Ek voel werklik veilig in Nepal en was glad nie eers bang om die laaste 12 dae soms vir ure alleen deur digte woude te stap nie. Alhoewel dit die habitat van die swart bere is, het ek nie toegelaat dat dit my van stryk bring nie.

“Op die roete wat ek vandag voltooi het, het ek party aande verniet geslaap, of so min as R12,50 per aand betaal om te slaap. Jy moet net hul kos eet. Nepal is ʼn baie goedkoop land.”

Brits moes ook R625 vir twee permitte betaal het.

Dit is nie die eerste keer dat sy die streek aanpak nie. Dié voormalige Comrades‑atleet, wat ses van die uithou-marathonne voltooi het, het verlede jaar saam Theresa Wernich, haar susterskind, die Everest‑roete tot die basiskamp gestap en in Februarie vanjaar het sy die Poonhill‑roete aangepak met die idee om na Annapurna, die wêreld se tiende hoogste berg se basiskamp, te stap.

“Ek was so naby aan dié kamp, maar toe is die dorpie Chhomrong deur ʼn sikloon getref en daar het baie sneeu en wind oor die gebied beweeg. Die roete is toe gesluit, aangesien dit te gevaarlik was. Ek was vir drie dae vasgekeer en het my roete daarna verander.”

Dié staptogte was ook ten bate van liefdadigheidsorganisasies aangepak.

Brits vertel dat die mense in die streek haar van haar vorige staptogte onthou. Met haar laaste staptog het sy by ʼn ouetehuis aangegaan waar sy vir die inwoners beskuitjies gevat. Met Brits se volgende besoek het die inwoners gehuil van vreugde toe hulle haar weer sien en serpe, of khata, om haar nek gehang. In Tibetaanse kultuur, is dié ʼn teken van liefde en respek en dat dit goed op jou pad sal gaan.

Die skoonheid van die Himalajas. (Foto: Martie Brits)

“Ek weet beslis, ek het nie net geld ingesamel vir liefdadigheidsorganisasies nie, maar ek het myself weer kom ontmoet. Ek is mal oor hierdie land en sy mense.

“As jy nou was waar ek nou sit en uitkyk by my venster – hoë Himalajas reg rondom my, met ʼn malende rivier hier onder in die vallei wat ek tot in my hotel hoor. Ek het nie woorde nie, absoluut hemels,” sluit sy die gesprek af.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephen ·

Ag nee Maroela! Julle maak uit of 57 antiek is. Dis belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.