Philippolis, ’n dorp ryk aan geskiedenis en skatte

Juliette het Maroela Media gesels oor haar Karoo Artist’s Café en Philippolis. (Foto: Facebook)

Deur Yolanda Wessels

“Ek het hierheen gekom om die sterre te pluk.” So het Anna Neethling-Pohl jare gelede vertel oor haar besluit om in Philippolis te kom aftree. Hier waar ʼn mens vandag in die gewilde Karoo Artist’s Café se binnehof sit terwyl jy onder die kristalhelder sterre na ʼn buitelugfilmvertoning kyk, voel dit inderdaad of jy jou hand kan uitsteek om met jou vingerpunte daaraan te raak.

Een van die vele aantrekkingskragte van die Karoo Artist’s Café is die gratis film waarna jy kan kyk wanneer jy ʼn aandete bespreek het. Ontbyt is vanaf 07:00 nadat daar soos van ouds ʼn bottel melk voor die voordeur wag en die plaaslike boere “free range” eiers kom aflewer het. Juliette Whelpton vertel dat dit hierdie kwaliteite is wat haar laat besluit het om die geskiedkundige gebou, wat twee jaar gelede maar taamlik gehawend daarna uitgesien het, te koop en in ʼn unieke restaurant, naamlik die Karoo Artist’s Café, te omskep. Net soos die res van die dorp het die statige gebou baie stories om te vertel. Philippolis was die eerste nedersetting in die Vrystaat en word na verwys as die deurgang na die Karoo.

“Dit was juis ook ʼn storie, of eerder die skryf van ʼn storie, wat my na dié dorp gelei het; die storie van ʼn perd. Dié storie begin jare gelede toe ek vir die Suid-Afrikaanse Polisie by een van die mees opwindende eenhede gewerk het. By die rekenaarondersoekeenheid het ons soos Stieg Larsson se Girl with the Dragon Tattoo planne beraam om kuberkrakers en ander booswigte te uitoorlê. In samewerking met internasionale wetstoepassingsagentskappe is menigte misdaadsindikaat se ondergrondse bedrywighede onbloot.” Juliette sê dat die werk ongelukkig na jare sy tol begin eis het, en dat dit veral die misdade teenoor kinders was wat soms geharde polisiemanne na trane gedryf het, wat die laaste spyker in die doodskis was. Polisiemanne wys nie maklik emosies nie en agter ʼn grappie word dikwels baie seer weggesteek. Juliette het gewonder of hulle ook so angstig soos sy was. “Was slaapversteurings ook ons voorland? Vertrou hulle mense net so min soos ek? Is hulle oorbeskermend teenoor hulle kinders? Vind hulle ook dat tradisionele benaderings vir ontlontingsessies en berading ondoeltreffend is?” Dié tipe vrae het daartoe gelei dat Juliette intense navorsing vir haar nagraadse studies gedoen het. Die bevinding was onder meer dat alternatiewe vorme van berading meer effektief is vir sulke tipe stres en dat een van die beste terapeute wat jy ooit sal kry in ʼn heel ander gedaante as jou bekende sielkundige voorkom. Daardie terapeut is ʼn perd.

Philippolis se uber kan jou by die Karoo Artist’s Café of by Starry Nights Karoo Cottages optel vir ‘n dorpstoer. (Foto: Facebook)

“Die liefde vir perde was nog altyd in my bloed en ek het by die Equine Assisted Growth and Learning Association (Eagala) betrokke geraak. Dit is ʼn wêreldwye organisasie met 5 000 lede in meer as vyftig lande waar die beradingspan uit ʼn sielkundige/berader, ʼn perdekenner en ʼn perd of trop perde bestaan; ʼn konsep wat nie nuut is nie. Reeds in die vyfde eeu voor Christus is perde al gebruik om gewonde soldate te rehabiliteer. Die eerste sentrums vir perdryterapie het in die 1960s in die VSA posgevat en vandag is daar talle sulke sentrums wat verskillende dienste bied. Terapie met perde skep die geleentheid om ʼn persoon se lewensgehalte te verbeter. Dit word bereik deur motiverings-, opvoedkundige, ontspannings-, gedrags-, emosionele, geestelike en verhoudingsontwikkeling te doen.

Perdondersteunde intervensies word deur Eagala beskryf as ervaringsleerterapie waartydens perde by die terapeutiese proses gevoeg word om groei en leer by die kliënt te bevorder. Hierdie is nie perdry nie en alle aktiwiteite vind op die grond plaas.

“Dit was ook in dié tyd dat ek na ʼn boekbesprekingsaand genooi is waar daar onder meer ʼn film oor die Anglo-Boereoorlog vertoon is. Ek was nooit vreeslik lief vir geskiedenis nie, want al wat ek gesien het, was datums en moeilike name. Maar daardie aand het ʼn nuwe wêreld oopgegaan omdat ek besef het dat dit oor veel meer gaan. Dit was stories, ware stories, oor ons land en sy mense. Veral een karakter het my aangegryp, naamlik die perd genaamd Fleur, van veggeneraal Christiaan de Wet. Ek moes net sy storie vertel en dit was boonop die regte tyd op my ervarings in die polisie voort te bou.” Juliette glo niks gebeur ooit verniet nie en dat ʼn mens dit as basis vir ʼn nuwe lewensverhaal kan gebruik. Sy het haar loopbaan in die polisie beëindig en agter die eeue-oue hoefspore van die perd begin aanloop. Geskiedenis het lewendig geword.

Een van die vele aantrekkingskragte van die Karoo Artist’s Café is die gratis rolprent waarna jy kan kyk wanneer jy ʼn aandete bespreek het. (Foto: Verskaf)

Intussen is Fleur se storie tesame met dié van ander perdehelde geskryf, wat nou deel is van die Helde met Hoewe-boekreeks. Fleur, Bokkie en Dapper is historiese avontuurverhale wat uit die bekke van die perde van generaals Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha vertel word. Die trio eer die onbesonge perdehelde waarvan 500 000 tydens die oorlog omgekom het. Die boeke bevat interessante inligtingsbrokkies, gedigte soos AG Visser se Voorslag, liedere en waardevolle ou swart-en-wit foto’s. Deur die oë van perde beleef die leser veldslae, leer oor die gebeure rondom die ABO, soos die verskroeideaardebeleid en guerrilla-oorlogvoering, en ontmoet figure soos Paul Kruger en Emily Hobhouse. Noukeurige navorsing is gedoen en daar is ook by professore Fransjohan Pretorius en Jackie Grobler kers opgesteek om historiese korrektheid te verseker.

“In daardie tyd het ek ook met Healing Hooves, my eie welstandspraktyk, begin waar natuur, perde en kuns gebruik word om mense te help. Tussen Healing Hooves en die soektog na die perde se stories het die pad uiteindelik na Philippolis gelei. Vir my was dit ʼn tuiskoms. Hier vind jy sielerus en voel dit asof jy werklik kan asemhaal.”

Een van die karakters in die Helde met Hoewe-boeke is die geliefde Emily Hobhouse. Die Britse filantroop en kampvegter vir menseregte het dit tydens die Anglo-Boereoorlog op haarself geneem om die lyding van duisende vroue en kinders te verlig. Ná die oorlog het sy weef- en spinskole in die land begin om met die opheffing van vroue te help. Die eerste skole is in Philippolis begin. Daar het onlangs weer ʼn minder bekende foto van daardie tyd uit die versameling van die bekende skrywer Nico Moolman die ronde op sosiale media gedoen. Die foto blyk dieselfde gebou te wees as waarin die Karoo Artist’s Café is. Dit word nou behoorlik ondersoek en lok nuwe belangstelling oor die geskiedenis en die dorp uit. Wat wel seker is, is dat daar ʼn aanvoelbare positiewe energie in die gebou is met die ruimte wat lig en lug verwelkom. Dit is asof kunstenaars en musikante daarna aangetrek word en die Café bied ook ʼn platform vir veral alternatiewe sangers, digters, skrywers en kunstenaars.

Emily Hobhouse het in haar dagboek baie oor die lewe ín en oor die mense ván die dorp geskryf – oor hulle vrygewigheid en goedhartigheid, en oor hulle musiektalente. Hierdie is alles eienskappe wat steeds drie generasies later ervaar word. “Soms wag daar vir my, net soos Emily beskryf het, tuisgemaakte konfyt of varsgeplukte druiwe op Starry Nights Karoo Cottages, Karoo Artist’s Café se selfsorgwooneenhede, se stoep. Die plaaslike talent word by die Karoo Artist’s Café se bedrywighede betrek.” Juliette vertel van mense soos oom Jannie Cilliers wat vir die speel van uitsonderlike musiekinstrumente soos ʼn saag, swanfluit, banjo en mondfluitjie bekend is. Tannie Maureen Eloff is ʼn bekende pianis en Uys Fick speel kitaar. Astale se muurskilderye maak nie net die Karoo Artist’s Café mooi nie, maar ook die res van die dorp. Johan en Ada se loodglasvenster by die Café laat mense behoorlik na hul asems snak as die sonstrale daardeur dans en die mure met reënboogkleure verf. Willene het groen vingers en verander enige Karootuin in ʼn oase. Terry Terblanche Botha is een van ons land se talentvolste jong skrywers en ʼn fotograaf van formaat. Wanneer hy kan, help hy met bemarking en aanbieding van aktiwiteite. Lana Jacobs sing soos ʼn engel en Lena Fereira is ʼn ervare boekbinder wat werksessies aanbied oor hoe om kosbare ou hardebandboeke te herstel. Rina Coetzee en Lina Kapp se kuns raak diep. Dan is daar die plaaslike dansertjies van Phodi wat moderne en tradisionele danse uitvoer. Oom Toi het ʼn gemeenskapstuin met groente en kruie en sy seun Lebo sorg nie net dat die Café se tuin met vars groente en kruie spog nie, maar is self ook ʼn bobaaskok. Tina het ʼn hart van goud en sonder haar lojaliteit kan hul maar die deure toemaak.

Die Herdenkingsritspan het ook in Oktober by die Karoo Artist’s Café gekuier. Die span het meer uit oor die dorp se geskiedenis en erfenis uitgevind. (Foto: Verskaf)

Juliette sê nogtans vra mense haar steeds, hoekom Philippolis? “Wanneer jy hier op Starry Nights Karoo Cottages se stoep sit, het jy nie tegnologie en televisies nodig nie. ʼn Kind speel in die plas water in die klein slaggat in Tobie Mullerstraat – die enigste van twee geteerde strate in die dorp. Partykeer jaag hulle met hulle draadkarre of stukkende fietsies wat hulle oupa vir hulle gemaak het daardeur. Die huise is skoon en eenvoudig. Hier is diepte. Hier is ʼn mengsel van oud en van nuut. Jode, Hollanders, Boere, Britte, Kleurlinge, Griekwas, Sotho’s, Portugese leef in vrede saam. Sinergie. Daar loop hoenders in die straat. En beeste. Soms ry die skaapwagters met hulle perde daarlangs.”

Sy is dit eens dat mense dit liefs self moet kom ervaar. Behalwe vir Starry Nights Karoo Cottages is daar verskeie akkommodasiemoontlikhede in die dorp. Bespreek vroegtydig jou aandete by die Karoo Artist’s Café met die gratis buitelugvertoning onder die sterre om teleurstelling te voorkom. Breek vir ʼn naweek weg om rus te vind met Healing Hooves se sessies in die natuur, tussen die perde en met skeppende kuns.

Dagboek die volgende geleenthede:

  • 26 Januarie – Doc MacClean
  • 22-24 April – Welstandsnaweek vir dames

Besoek karooartistscafe.business.sitewww.healinghooves.co.za en www.starrynights.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.