Pienkvoet-Pret vier mondigwording

Anelia Prinsloo, mede-eienaar van Pienkvoet-Pret, spreek die ouers toe op die verjaarsdagpartytjie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Elke mamma van ʼn jong baba of peuter het die behoefte om gehaltetyd saam met hulle kinders deur te bring terwyl hulle speel-speel slim word.

Pienkvoet-Pret skep al vir 21 jaar ʼn omgewing waar mammas kan leer om hulle babas of peuters met dit wat hulle in die huis tot hulle beskikking het, te stimuleer en op te voed met ouderdomsgepaste programme.

Dié gesogte mamma-en-babaontwikkelingsprogram is in 2000 deur Anelia Prinsloo van stapel gestuur en het intussen een van die land se grootste franchises geword, met 32 takke reg oor die land.

Volgens Prinsloo is Pienkvoet-Pret destyds uit “nood gebore” toe sy haar eie seun met huishoudelike items wou stimuleer. Nou, 21 jaar later, vier Pienkvoet-Pret sy mondigwording en het van krag tot krag gegroei tot ʼn volwaardige sakeonderneming.

Prinsloo en talle franchisees van Pienkvoet-Pret het Donderdag dié groot mylpaal saam met ouers en kinders by die Hyto Tyto-speelvenue in Olifantsfontein, Pretoria, gevier.

Elmé Churr, bekende sangeres en liedjieskrywer, en haar 15 maande oue seuntjie Luke het ook ʼn draai by die geleentheid gemaak. Elmé is deel van die Pienkvoet-Pret-familie in Midstream.

“Ek en Luke het ingestap en ek het dadelik op my gemak gevoel. Die ander mammas het my dadelik tuis laat voel en Luke is met elke lessie uit sy vel uit. Hy is mal oor die aktiwiteite en geniet dit vreeslik om met die maatjies van sy ouderdomsgroep te sosialiseer,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ek dink dis so belangrik dat hulle sosiaal verkeer met kinders van hulle eie ouderdom. Die moeite wat in elke les ingesit word, is ongelooflik. Elke les word vooraf beplan en ek kan regtig sien Luke se ontwikkeling en interaksie met kinders het soveel gegroei vandat hy by Pienkvoet-Pret is. Ek is absoluut dol daaroor.”

Die sangeres, Elmé Churr en haar seuntjie, Luke, het die partytjie bygewoon. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Elmé is swanger met ʼn babadogtertjie en sê sy kan nie wag om haar ook aan Pienkvoet-Pret bloot te stel nie.

“As ek geweet het dit is só oulik, het ek vir Luke lankal gevat. ʼn Mens is onseker van jouself en dink jy wil nie uit voel in ʼn groep nie, maar dit is só lekker vir die mammas se interaksie met mekaar ook. Dit is amper asof die Covid-19-pandemie ons ʼn bietjie menssku gemaak het. Die mammas ruil graag gedagtes en raad uit en ʼn mens leer baie by mekaar ook tydens die klassies.”

Pienkvoet-Pret word spesifiek vir die ouderdomme van drie maande tot drie jaar aangebied. Daar is nou ook Pienkvoet-Pret 2.0 Speelskole beskikbaar, wat deur kinders wat ouer as drie jaar is, bygewoon kan word. Dié speelskole is halfdag en mammas woon nie die klasse saam met die kinders by nie.

Maritza Botha van Pretoria is tans aan die stuur van dié speelskole. Daar is tans ʼn speelskool in Brackenfell en daar maak ook binnekort takke in Faerie Glen, Boksburg en Middelburg oop.

“Die kinders leer steeds deur middel van speel, maar die klasse is ʼn bietjie meer gestruktureerd. Kinders moet van doeke af wees en daar word net 12 kinders per klas toegelaat. Dit is ʼn klein en intieme omgewing vir die kinders wat ouderdomsgepaste programme volg.”

Rhona Erasmus, Prinsloo se sakevennoot en mede-eienaar van Pienkvoet-Pret, sê die maatskappy is selektief oor wie hulle as franchisees aanstel en dat dié mense nie noodwendig ʼn agtergrond in kinderontwikkeling het nie, maar dat ʼn passie vir kinders uiters noodsaaklik is.

“Franchisees gaan deur ʼn intensiewe keuringsproses en ons doen ten volle opleiding met hulle deur verskeie kursusse wat bygewoon moet word. Ons het gevind dit gaan meer oor die hart en die passie vir kinders en dis vir ons belangrik om ʼn gemeenskap te skep waar mammas veilig voel om met mekaar te deel, ondersteun en kinders se mylpale te vier.”

Daar is ook ʼn splinternuwe digitale program, Pienkvoet-Pret Digi, wat deur Marezelda Combrinck ontwikkel is vir mammas wat in die buiteland woon of selfs op die platteland, wat nie self ʼn Pienkvoet-Pret-klas kan bywoon nie en steeds hulle kinders speel-speel wil ontwikkel.

“Daar is verskillende pakkette wat deur mammas aangekoop kan word en jy kan dit self by jou huis aanbied. Sodra jy dit aankoop is dit dadelik tot jou beskikking en dit bly beskikbaar vir vier weke. Jy kan dus teruggaan en lessies weer doen en daar word weekliks nuwe lesse vrygestel. Daar is sekere goed wat jy gaan moet aankoop, maar die hoofsaaklike doel is om huishoudelike items te gebruik wat maklik beskikbaar is.”

Volgens Suné Sutton, sosialemediabestuurder vir Pienkvoet-Pret, bemagtig dié klasse mammas wat onseker is oor hoe om hulle kinders self by die huis slim te speel.

“’n Mens neem aan dat mammas weet hulle kan byvoorbeeld hulle kinders se fynmotoriese vaardighede help ontwikkel met eenvoudige items soos rys, maar nie almal weet dit nie. Buiten dat die klasse jou leer wat om te doen, leer dit jou ook hoekom jy dit doen. Pienkvoet-Pret maak dit ook so maklik as moontlik vir ouers en oppassers, ongeag die ligging,” sê sy.

Erasmus beaam dit. “Ons bemagtig mammas en oppassers om na hulle kinders te kan omsien en hulle te help ontwikkel. Ons droom is dat Pienkvoet-Pret ʼn eenstopwinkel word vir enigiets wat voorskoolse kinderontwikkeling behels.”

Pienkvoet-Pret lei ook oppassers op in samewerking met The Nanny Movement, onder leiding van Evette van den Berg.

“Die werkswinkels is ontwikkel terwyl ek ʼn Pienkvoet-Pret-franchisee was en gehoor het wat mammas se behoeftes was in terme van wat hulle wou hê hulle kinderoppassers moet weet. Ons kursusse dek temas soos basiese versorging, breinontwikkeling en praktiese stimulasie.

“Ons kan sien hoe oppassers bemagtig voel wanneer hulle daar uitstap. Dit kweek ongelooflike selfvertroue by die oppassers en dit is ʼn hoofstuk in hulle lewens wat hulle bewus maak van die regte maniere om met babas te werk.”

Volgens Marilee Erasmus, franchise-eienaar van Pienkvoet-Pret in Irene, Pretoria, wou sy as oud-Pienkvoet-Pret-mamma graag deel word van dié bemagtigende gemeenskap.

“Pienkvoet-Pret bied ʼn veilige hawe vir mammas om te deel en mekaar te ondersteun. Dit is wonderlik om te sien hoe die pienkvoete ontwikkel en nuwe konsepte leer deur te speel en ook hoe mammas slegs deur huishoudelike items te gebruik, hulle kinders op die regte manier leer stimuleer.”

Om deel te raak van die Pienkvoet-Pret-familie of aktiwiteitsbokse te bestel, besoek die webwerf. Besoek ook die Facebook-blad of Instagram-profiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.