Pieter glo hy is ʼn gebore ingenieur 

Pieter Scholtz

Pieter Scholtz

Nog ʼn slimkop van die Hoërskool Menlopark, Pieter Scholtz, spog met agt onderskeidings: Afrikaans, Engels, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, wiskunde, inligtingstegnologie, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Verder het hy ʼn Internasionale goue toekenning ontvang by Eskom se Wetenskapekspo en hy is ook betrokke by ʼn 3D-drukker-projek. Sy ander buitemuurse bedrywighede sluit in fietsry, fotografie, elektronika en landloop. Hy het ook ABRSM Graad 5 vir fluit en teorie behaal en aan kunstefeeste deelgeneem met sy fluit.

Pieter se pa is ʼn rekenaarprogrammeerder en sy ma ʼn projekbestuurder. Hy sien baie uit daarna om elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Sy broer, Werner, is in gr. 11 vanjaar.

Hy meen hy is ʼn gebore ingenieur omdat hy dit ongelooflik geniet om oplossings vir praktiese probleme te vind, of maniere en metodes te ontwikkel om doelwitte te bereik. Hy kan skaars uitgepraat raak oor sy beplande studierigting: “Ek is mal oor innovasie en wetenskaplike ontwikkeling en vooruitgang. Dit is my droom om deel te wees van wetenskaplike deurbrake.”

Hy is ook baie lief daarvoor om sy hande te gebruik om skeppend te wees. Die ontwerp en bou van toestelle of komponente is vir hom ʼn stokperdjie. Hy vertel opgewonde van die 3D-drukker wat hy saam met ʼn vriend gebou het vir die wetenskap ekspo. Hy probeer om fiks te bly deur draf en fietsry. Hy geniet ook fotografie.

Pieter beskryf sy pa as sy rolmodel: “Hy doen alles tot die beste van sy vermoë en vat nie kortpaaie nie. Hy maak seker hy kan trots wees op sy handewerk. Ek dink dit is ʼn baie goeie uitkyk en manier om dinge te doen. Hy dink ook altyd aan watter gevolge sy optrede gaan hê op die mense rondom hom, wat wat ek as baie goeie praktyk beskou.”

Hy glo mens moet jou drome najaag en nie moed opgee nie. Jy moet aanhou veg vir wat jy wil hê, al maak jy foute maak en al tref struikelblokke jou. Pieter sê hy glo solank ʼn mens net aanhou, uit jou foute leer en nie opgee nie, sal jy sukses behaal.

Ek glo ʼn mens moet bereid wees om jou oortuigings op die proef te stel en nie bloot dinge net so te aanvaar nie. ʼn Mens moet bereid wees om jouself oop te maak vir nuwe idees en sienings. Ek glo in konstante vernuwing en ontwikkeling van idees en sienings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liza ·

Dis vandag so lekker om elke seun of dogter geluk te wens met hulle prestasies, baie geluk Pieter ……. sterkte vorentoe met jou loopbaan….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.