Pioneer-tydren gaan van krag tot krag

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die Pioneer-tydren (rally) wat jaarliks in Worcester gehou word, is al só bekend dat dié geleentheid nie eintlik enige bekendstelling nodig het nie.

Colleen Marais, van Pionierskool vir Siggestremdes, sê dat dit nie altyd die geval was nie en dat die eerste tydren baie klein was, met min deelnemers. “Tien jaar terug het een van ons blinde leerders se ouers, Willem Venter, ʼn prokureur van Bloemfontein, alles opgepak en Worcester toe getrek. Hy het gewonder hoe daar geld geïn kan word vir ons skool, want om vir blinde kinders skool te gee is baie duur. Willem het saam met die Rotariërs dié tydren begin.”

Die idee was om ʼn blinde navigator te hê wat die roete in braille ontvang en ʼn bekende persoon wat die voertuig bestuur, en dan ry hulle van punt A tot punt B. Colleen sê dit het nou al só ontwikkel dat hulle 38 geborgde motors van Audi het wat gaan deelneem.

Colleen sê dié geleentheid gaan suiwer oor geldinsameling omdat geld so bitter nodig is.“ ʼn Braillemasjien kan nie vergelyk word met ʼn potlood nie. Ons het ook baie hulpbehoewende leerders.”

Verskeie bekendes soos Karen Meiring, Derick Watts, Dawie Roodt en Jakkie Louw is maar net ʼn paar van die drywers wat gaan deelneem aan vanjaar se tydren. Die navigators is leerders en oudleerders van Pionierskool wat 16 jaar of ouer en braillemagtig moet wees. “Hulle (die leerders) is net so opgewonde hieroor soos ons!”

Die tydren vind op Saterdag 14 November plaas. Deelnemers spring weg vanaf Audi Centre Somerset-Wes en eindig by die Golden Valley Casino in Worcester.

Vir meer besonderhede oor vanjaar se Pioneer-tydren, besoek gerus die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.