Pippie gaan weer VSA toe vir behandeling

Pippie Kruger. (Foto: Verskaf)

Pippie Kruger, die jong meisie wat Suid-Afrikaners se harte aangegryp het nadat sy brandwonde as tweejarige opgedoen het, se ma, Anice, beoog om haar vir ʼn tweede besoek na die Family Hope Centre (FHC) in die VSA te neem.

Pippie was in 2017 ook in die VSA vir behandeling waarna die Kruger-familie merkwaardige veranderings in hul dogter gesien het. Anice het vroeër aan Maroela Media vertel dat Pippie ná die eerste behandeling meer energie gehad het, dat sy meer woorde begin gebruik het, probeer het om te kruip en ook self regop probeer sit het.

Anice vertel dié week aan Maroela Media dat Pippie steeds vordering toon. “Maar dis als klein goedjies wat mense nou nie altyd as vordering sal sien as jy nie self ʼn kindjie met spesiale behoeftes het nie,” sê sy.

Volgens Anice help die FHC allerlei kinders met verskillende soorte probleme. Deur ʼn wetenskaplike benadering bemagtig die sentrum ouers van kinders met spesiale behoeftes om hul kinders se ontwikkeling te verbeter. Die sentrum lei ouers op om die regte metodes te gebruik om hul kinders se fisiologiese gesondheid, fisieke vermoëns, sensories-motoriese vermoëns, gedrag, begrip en kommunikasie te verbeter.

“Ek wil vir ʼn opknappingskursus gaan, ek wil net weer deur die opleiding gaan dat ek Pippie beter kan help. Sy gaan ook vir ʼn spul evaluasies om te sien presies waar hulle haar verder kan help.”

Anice sê dat die gesin nou ʼn geldinsameling op die skarefinansiering-webtuiste BackaBuddy hou om die koste van die besoek te dek. “Ons is maar net een van talle gesinne van Suid-Afrika wat ʼn veldtog op die webwerf het om hul kind by die FHC te kry.”

Die geldinsameling staan tans op R1 069,05, wat maar ʼn druppel in die R200 000-emmer is wat Anice wil vul. Die geld sal die evaluasie by die FHC, vlugte en verblyfkoste en toerusting wat deur die FHC vir Pippie se behandeling voorgeskryf kan word, dek. “Ons kan nie ʼn vaste datum gee vir wanneer ons wil gaan nie, dit hang alles van finansiering af, maar ons hoop om teen Julie volgende jaar ons besoek aan die sentrum in Philadelphia af te lê.”

Intussen sterk Pippie se pa, Erwin Kruger, steeds aan nadat hy onlangs deur ʼn swart mamba buite die gesin se huis in Ellisras gepik is. “Ek onthou nog sy oproep. Hy het net gesê: ‘Spook, moenie worry nie, ʼn swart mamba het my nou-net gebyt.’ Dit is eintlik lagwekkend, die slang se pik self het Erwin niks aangedoen nie, maar die teengif het hom vreeslik siek gemaak. Hy sukkel met hoofpyne en naarheid,” vertel Anice.

Pippie se plesiere

“Sy mag nie baie TV kyk nie, maar sy is mal oor My 600 lb Life, of enige Afrikaanse fliek, of haar ‘Oom Bobby’ [van Jaarsveld] se DVD.”

Pippie en Arno Kruger. (Foto: Anice Kruger)

Sy is ook gaande oor haar boetie, Arno (8). “Die twee is soos brood en konfyt. Hulle kan nie sonder mekaar nie maar kan goed baklei ook,” sê Anice.

Sy sê as hulle hul doelwit kan bereik om na die VSA te gaan, kan sy nog meer hoop vir Pippie gee. “Ons wil graag meer mylpale bereik en haar help om alledaagse dinge te doen soos om self te loop, te praat en om haar volle potensiaal te bereik. Sy is my lewe en ek sal alles moontlik doen om haar lewe vir haar beter te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.