Pippie kry spesiale ‘maat’ kort ná verjaardag

Pippie saam met haar katjie, Loxa (Foto: Verskaf)

Pippie Kruger, wat op Oujaarsaand 2011 erge brandwonde opgedoen het nadat vuuraansteekjel op haar gespat het, het onlangs haar negende verjaardag gevier én boonop ʼn nuwe katjie gekry waarop sy smoorverlief is.

Pippie het op 9 Junie nege jaar oud geword, en sy het saam met haar familie dié verjaardag by hul huis gevier.

“Ons het nie vanjaar ʼn groot partytjie gehou nie. Ons was sommer net by die huis. Haar ouma en oupa het kom kuier, haar boetie was daar en ʼn paar maatjies. Ek het ʼn koek gebak wat aanpas by haar spesiale dieet, en dit was sommer baie informeel,” het Anice Kruger, Pippie se ma, aan Maroela Media gesê.

Pippie het ook Dinsdag ʼn katjie, Loxa, gekry, wat sy al baie lank wou hê. “ʼn Vrou het dié Sfinkskat vir ons gegee omdat hy nie kon saamgaan waarheen sy verhuis nie. Toe Pippie die katjie sien, was dit liefde met die eerste oogopslag! Hulle is mal oor mekaar!” het Kruger gesê.

“Dit werk goed omdat Pippie nie mag buite kom nie, en die kat ook baie sensitief is vir die son, so hulle tweetjies verstaan mekaar. Vandat ons die katjie gekry het, is die twee onafskeidbaar.”

Pippie Kruger. Foto: Facebook

Kruger het gesê sy is eintlik verbaas oor hoe goed Pippie die katjie hanteer, omdat sy aanvanklik ʼn bietjie bekommerd was daaroor.

“Ek het eers gedink sy gaan die kat dalk ʼn bietjie hard gryp omdat haar armpies gewoonlik so styftrek, maar sy is baie sag met hom en vryf hom heeltyd. Lyk my Pippie dink as die kat nie spin nie, is daar iets fout, so sy hou aan om hom te streel,” het Kruger gesê.

Verder het Kruger gesê dit gaan baie goed met Pippie se gesondheid.

“Ons was drie weke terug weer by die dokters en hulle het gesê daar is niks meer fout met haar bloed of vel nie, sy is 100% genees binne,” het Kruger gesê.

“Ek wens mense kan haar sien, want anders glo hulle dit nie, maar haar gemoed is só goed; sy gaan slaap met ʼn glimlag en dan staan sy weer op met ʼn glimlag. Sy is fantasties!”

Lees meer oor Pippie Kruger op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Linda van Mosselbaai ·

Ons is so bly dit gaan goed en wens vir haar & julle hele gesin voorspoed toe & mag die Vader julle veilig hou.
Sy lyk so goed omdat haar mamma vir haar baklei het,
Ek hoop so dat alle ma’s & pa’s – altyd hulle instinkte moet vertrou en aanhou veg vir julle kinders.

Ann ·

Aitsa Pippie! Jy en jou maatjie verstaan mekaar 100%! So trots op jou!! Xx

Tammy ·

Fantastiese nuus vir die dag. Pippie ons vertrou dat dit net nog beter en beter sal gaan en jy en jou kat maatjie baie gelukkig saam sal wees. Katte word baie oud as hulle goed versorg word en natuurlik baie liefde kry! MM baie dankie vir die nuus oor hierdie besonderse dogtertjie.

lee ·

Kyk net HOE pragtig het daai ou vriendelike gesiggie herstel na die afgelope paar jaar.
Ek onthou nog die hartseer artikels en die verwronge ou velletjie…dit was net “seer” verby.
Dankie HERE vir U goedheid oor hierdie gesin ook !!
xx

Johan Nel ·

Alle eer aan onse Hemelse Vader. Pippie , jy lyk wonderlik meisiekind. Dit gaan net beter word vorentoe. Alle sterkte vir jou en familie.

Charne ·

Ek is bly Loxa is gelukkig by jul. Mis haar vreeslik maar weet sy is waar sy moet wees. Xx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.