Plaaslike dokumentêr oor renosterstropery draai nou ook in Europa

stroop-01

STROOP – Journey into the Rhino Horn War word in Februarie die eerste keer in Suid-Afrika vertoon. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent oor renosterstropery, STROOP – Journey into the Rhino Horn War, wys tans by die Britse regering se internasionale konferensie wat fokus op die onwettige handel in diereprodukte.

Die Illegal Wildlife Trade-konferensie (IWT) duur tot Vrydag in Londen en leiers van oor die wêreld heen het in die Engelse hoofstad saamgetrek om te help om dié onwettig bedryf uit te wis in ʼn poging om die planeet se mees ikoniese spesies van uitwissing te red.

STROOP is deel van die IWT-program en sal daar aan die afgevaardigdes vertoon word.

“Die regte mense sal die film sien, diegene wat in posisies is om besluite te neem. Dit sal hopelik lei tot verder gesprekvoering oor sleutelkwessies wat in die film geopper word,” het Bonné de Bod, aanbieder en medevervaardiger van die rolprent, gesê.

Volgens haar is die konferensie die ideale platform vir die dokumentêr om verdere bewusmaking oor die nood van renosters te skep.

Een van die doelwitte van die konferensie is om internasionale samewerking en vennootskappe oor grense heen te versterk en te fokus op verhoogde samewerking tussen die verskillende vastelande.

Die versterking van die netwerk van die IWT se wetstoepassers en kenners sal ook by die konferensie aandag geniet. Dit sal lande in die spervuur van onwettige handelaars ook help om nouer saam te werk met nieregeringsorganisasies, die privaat sektor, akademici en om nuwe vennote in die stryd teen onwettige handel van diereprodukte nader te trek.

STROOP maak sy amptelike Europese debuut op 24 Oktober by die vooraanstaande Rotterdam Wildlewe-filmfees en sal die fees open.

“Ons voel geëerd dat die feesdirekteur ons persoonlik geskakel het om die goeie nuus oor te dra, veral omdat die fees gewoonlik ʼn goedvoelrolprent oor Europese natuurlewe kies. Hy en sy span het egter sterk gevoel dat STROOP die enigste keuse is om die openingsrolprent te wees.

stroop-kalender-bonne-onderhoud-met-veldwagter

Bonné de Bod voer ‘n onderhoud met ‘n veldwagter in die Spesiale Teen-Stropings Eenheid (vir sekuriteits-redes word die naam nie bekend gemaak nie) wat sy al ‘n hele paar jaar volg vir STROOP. Foto: Verskaf.

“Die erkenning beteken selfs meer as ʼn mens in ag neem dat meer as 200 wildlewe-rolprente vir die fees ingeskryf het waarvan net 35 uiteindelik gekies is om vertoon te word,” het De Bod bygevoeg.

STROOP het reeds verskeie toekennings en positiewe reaksie by ʼn aantal Amerikaanse filmfeeste ontvang, waar dit reeds vroeër vanjaar vertoon is.

Dié dokumentere rolprent oor renosters, die mense wat hulle beskerm, die onderwêreld van renosterstropers en die handelaars van renosterhoring, strek van die Kruger Nasionale Park en die Hluhluwe-iMfolozi Park in Suid-Afrika tot in China en Viëtnam.

De Bod en die regisseur, Susan Scott, het vier jaar geneem om die projek te voltooi.

  • STROOP – Journey into the Rhino Horn War se Suid-Afrikaanse première is in Februarie 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Man, nou is ons mos op die regte pad! Nou moet Cyril Ramaphosa net die nuwe regte minister van omgewingsake aanstel wat dit werklik veil vir die land se natuurlewe het.

Haan ·

“Tell-all film”… Noem hulle die betrokke hooggeplaaste parlementslede se name ook?… Ek twyfel

Herman ·

Volgende dokumenter hoop ek dis die verfilming van “Kill the Boer” boek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.